Dit is mos ‘n ou feit dat dit nie is wie jy is nie, maar wie jy ken, nè.
Nou, ek ken vir Una. En Una het ‘n hond, Danie. En vir hierdie oomblik is Danie-hond my hero.
Want hy het ‘n oplossing gehad vir ‘n probleem wat ek nie eers besef het dat dit bestaan nie.
Sien, Una is gehok. Mooi opgedress en nêrens om te mag gaan nie.
Toe kom Danie, reg vir oorlog, haar haal Rebusfontein toe. (Kyk maar daar op haar blog hoe Danie lyk.) Danie voel soos ons almal voel: moeg en vaal na ‘n lang jaar. Hy het lus vir ‘n krismispartytjie, hy is klaar aangetrek en alles. Una sal sorg vir die Hertzoggies en Jan Smutsies. En soos ek Una ken, sal dit Bantingvriendelik wees sodat ek ook kan saameet.
En ek het mos darem nie verniet alles dubbeld gekook vir kersete nie … gammon … skaapboud … beestong … ag man, álles wat jy nodig het en nog wat.
So, dames, my karretjie is gepak vir Rebus se Kerstafel, selfs die nodig versterkinkies vir die trifle, ag ek bedoel koekstruif, maar ek is nou so opgewonde en haastig, ek kan nie nou aan al die regte woorde dink en watter woorde met hoofletters en watter met Kleinletters gespel moet word nie. Rebusfontein wag!
Ek wonder of my huisie nog staan? Una, loer tog. Ek wonder of ek dit nog sal kry, ons was so lank laas daar, nog vóór die Towerinne verander het in Goue Vroue daar in Alice se tonnel. Julle weet, ek is mos die Towerin met die goue neus, want … ag nee wag! Ek het mos eintlik goue oë, volgens Una.
Una, sê solank vir Danie dankie! Ek het spesiaal vir hom ‘n lekker boudbeen ingepak. En loer tog of my donkie nog daar is, wat is sy naam nou weer? Frannie sal weet, dink ek. O ja, Santie, as ek reg het. En Kameel se melkkoei en nog ‘n diertjie wat ek vir haar moes versorg, maar ek kan nou nie eers meer onthou wat dit is nie?
Ek hoop ek sien julle ander ook daar. Ek het my groen rok ingepak en die kersversiering vir my kop wat ek nog laas gebruik het by Capital Singers baie jare gelede. Dis rooi strikkies. 🙂
Wag vir my! Seegogga, is jy by?
Toortsie