Ja, ja, ek en toevallig. Dié wat my goed ken sal weet hoe ek oor toeval voel.
Ai, die afgelope paar dae het my mond weer oopgehang van al die toevallighede. Die een op die ander.
Soos dat ons toevallig by van ons kinders gaan slaap het omdat ons ander kinders hulle kleintjie sou laat inseën het Sondag. En toevallig wou daardie kinders van ons Saterdag aan ‘n driekamp deelneem en kon ons sommer die dag saam met die kleingoed verwyl. Ag, ons hét in die Desembervakansie van die driekamp gepraat en dat ons sou wou kinders oppas, maar dit is al lankal by die een oor in en die ander oor uit.
Soos dat ons ander kind ‘n klein operasietjie sou kry Maandag ook by die een oor in en die ander oor uit is. Maar ek wonder tog of die datum wel bespreek was. En ek toevallig daarvan hoor toe hy moes isoleer en nie die familiebyeenkoms kon bywoon nie. En hy is nie eintlik een wat sommer familiebyeenkomste mis nie, hoor.
En ons toevallig nog Sondagaand ook anderkant die berg moes oorslaap omdat ons nog afsprake gehad het en ek hom bel en hoor of ons hom dalk kan help, ons is dan nou daar rond. En hy iemand sal nodig hê om hom by die hospitaal te kom optel ná die operasietjie. En ons toevallig net mooi alles klaar het en by die winkelsentrum uitstap toe hy bel om te sê dat hy ontslaan is en ons hom gou kon kom haal.
So op die pendelpad val daar ‘n harde bui reën en ons verkyk ons aan klowe waar water skielik loop. En ons besef: daardie water is op pad na ons plaas. So toevallig het ons net op die regte tyd daar verby gery en kon ons die niksvermoedende werkers op die plaas laat weet dat daar water op pad is en die regte sluise by die regte slote oop- en toegemaak moet word. Want op die plaas was dit stofnat en het hulle glad nie die water verwag nie. Toevallig was dit net mooi die laaste dag wat ons leiwater gehad het en kon ons die water toe allokeer na damme toe, anders sou dit in die rivier afloop. Want toevallig het dit net mooi 10 nm eers by ons aangekom en sou ons dit verloor het. 🙂
Toevallig, né? So, toevallig vra ons dominee gisteraand op die aandoordenking die vraag: “Waar het jy vandag die Here raakgesien?”
Toortsie