Toespraak oor die dag toe ek baie kwaad was

Wat ‘n interessante onderwerp stuur Google vir my: ‘Toespraak oor die dag toe ek baie kwaad was.’ Ek dink dit is ‘n onderwerp waaroor elke persoon lekker kan skryf, want almal van ons raak een of ander tyd kwaad. Ons almal hanteer die kwaad net nie altyd dieselfde nie.

Ek gaan egter nie vir jou die toespraak skryf nie. Dalk maak dit jou nóg kwater! Wat ek gaan doen, is om jou te probeer help en lei om jou eie toespraak te skryf. Ek gaan vir jou vrae vra en jy kan dit antwoord. Skryf alles neer wat in jou gedagtes opkom na aanleiding van die vrae wat ek vra, selfs al dwaal jou gedagtes effens, want dit lei jou dalk tot ‘n volgende punt. Wanneer jy klaar is, sif jy jou gedagtes, orden dit en skryf jou toespraak.

Wil jy ‘n ernstige toespraak maak, of gaan jy dit dalk ‘n ligter toespraak maak omdat die situasie eintlik lagwekkend is?

Is jy ‘n persoon wat maklik kwaad word? Indien ja, hoekom word jy so maklik kwaad? Kry jy dit reg om jou emosies te beheer as jy so kwaad word? Wat doen jy om jou emosies te beheer? Hoe gee jy uiting aan jou emosies?

Indien jou antwoord op bogenoemde vraag ‘nee’ is en jy nie so maklik kwaad raak nie, wat doen jy om kwaadword te verhoed? Hoe hanteer jy jou emosies? Wat doen jy as jy wel die slag kwaad word?

Jou toespraak gaan oor ‘n dag wat jy regtig kwaad was. Dink aan so ‘n geleentheid. Wat het daardie dag gebeur? Gaan jy ‘n ware storie skryf of gaan jy iets anders uitdink? Indien jy ‘n regte storie wil skryf, sal ek jou aanraai om eers goed daaroor te dink of jy ‘n storie wil vertel wat iemand in jou gehoor direk gaan raak. Of ‘n storie waaroor jy baie sensitief is, dink mooi of jy nie jouself blootstel nie? Jy wil tog nie ‘n skinderstorie of groter ontploffing met jou toespraak veroorsaak nie, of hoe?

Hoe gaan jy die storie vertel? Gaan dit jou weer van vooraf kwaad maak? As dit iets baie persoonliks is, wil ek jou aanraai om iets anders te kies.

Jou storie. Wat het daardie dag gebeur? Vertel die storie so goed as moontlik, maar moenie name noem indien dit nie regtig nodig is nie. Probeer ook om nie rassisties, seksisties of afbrekend op enige manier te wees nie.

Dink ‘n bietjie: Hoekom het dit jou so kwaad gemaak? Is jy te ná gekom? Was dit onregverdig? Was dit onnodig? Het dit jou herinner aan ‘n ander keer wat jy ook kwaad geword het? Is dit die eerste keer wat jy so iets oorkom?

Hoe het jy uiting gegee aan jou woede? Het jy net stilgebly, omgedraai en weggeloop? Of het jy ‘n kabaal opgeskop? Het jy lelik gepraat, geskree? Gehuil?

Kon jy ná die tyd jou saak stel of was dit ‘n verlore saak? Toe jy weer die feite oordink, het dit toe anders gelyk? Was dit dalk ‘n misverstand? Of selfs dalk ‘n grap? ‘n Poets? Was jou kwaadwees geregverdig? Of onnodig?

Het die persoon vir jou om verskoning gevra ná die tyd? Of het jy dalk vir hom om verskoning gevra omdat jy oorreageer het?

Hoe voel jy nou oor die situasie? Skaam? Beter? Of lag jy selfs daaroor?

Dink jy jy sal weer so kwaad word of gaan jy in die toekoms probeer om jou emosies beter te beheer? Indien jy dit beter wil beheer, wat dink jy kan jy doen om dit reg te kry?

Ek hoop dit kon jou help.

Toortsie

Uitdaging aan die blogmaats: Skryf ‘n blog hieroor. Dit kan ernstig wees of lagwekkend.

Vir nog opstelonderwerpe kan HIER gekliek word.

Skryf ‘n opstel oor besoedeling

Die nuwe kwartaal het begin en die kinders skryf opstelle dat dit klap. Dit kan ek aan my blogbesoeke sien.

Skryf ‘n opstel oor besoedeling. Ek vra vir jou vrae en jy skryf dan die gedagtes neer wat in jou kop opkom oor die onderwerp. Dit voeg jy bymekaar tot ‘n opstel.

Ek dink as jy oor so ‘n onderwerp skryf, jy ‘n duidelike standpunt moet inneem. Gaan jy sommer net oor besoedeling in die algemeen praat, die verskillende soorte besoedeling wat daar is? Geraasbesoedeling, lugbesoedeling, waterbesoedeling, grondbesoedeling en nog. Of gaan jy een spesifieke soort besoedeling uitlug?

Hoe voel jy oor besoedeling? Dink jy dit is ‘n werklike probleem, of dink jy die mense oorreageer?

Van watter tipe besoedeling is jy in jou omgewing bewus? Wat veroorsaak die besoedeling, hoe gebeur dit? Wat is die gevolge van besoedeling? Wat, dink jy, gaan die uiteinde daarvan wees? Hoe gaan dit die aarde, maar ook die mensdom beïnvloed?

Is daar iets wat ons as mens kan doen om besoedeling te beperk? Is daar iets wat die regering kan afdwing? Die meeste van alles, is daar iets wat jy, as tiener, kan doen om besoedeling teen te werk? Wat kan julle in julle huis doen om besoedeling te beperk? Is daar dinge wat julle as gesin reeds doen en watter volgende stap kan julle doen om besoedeling selfs meer te beperk in julle onmiddellike omgewing? Dink jy dit sal help as een mens ‘n verskil maak? Kán een mens ‘n verskil maak? Is daar projekte waarby julle as skool betrokke kan raak?

As slothoofstuk kan jy weer jou standpunt herhaal waarmee jy begin het, dat besoedeling wel ‘n probleem is en wat gaan ons daaromtrent doen?

Terwyl daar in Julie ‘n wêreldwye aksie is om plastiek te beveg, kyk bietjie wat ek geskryf het wat ek reeds doen en ook wat ek nou besig is om te implementeer om selfs meer te doen om besoedeling te beveg.

Vir nog opstelhulp kan jy hier kliek. Ook vir mondelinge of toesprake oor dieselfde onderwerpe. Onthou om toortsie.com as bron aan te gee as julle hierdie inligting gebruik.

Blogmaats, as julle lus het om ook hieroor te skryf, maak so en onthou om hierdie bloginskrywing te tag.

Lekker skryf!

Toortsie

Wanneer jy daardie mondeling doen

‘n Mamma kontak my oor ‘n toespraak wat haar kind moet maak. Nes die meeste van kinders, nes ek ook was, is die kind in ‘n toestand daaroor. Dis maklik om te babbel met jou beste vriende, maar om op te staan en te gaan praat voor die klas, is nie ‘n grap nie. My skoolmondelinge het baie keer in so ‘n gelag ontaard, ek kon amper nie praat nie.

Oor jare het ek hierdie wenke geleer, en ek hoop dit help ook vir ‘n kind of twee wanneer sy ‘n toespraak moet maak of mondeling moet praat.

Dis makliker gesê as gedaan, maar sy moet ontspan. (Dit is selfs vir my op die ouderdom van 56 steeds moeilik. Dit is menslik om gespanne te wees.)

Eerstens is dit belangrik dat jy goed voorbereid is. Weet wat jy wil sê. Skryf jou eie mondeling, sodat dit wat jy wil sê, uit jou hart uit kom, dan onthou jy dit makliker. As jy jou eie mondeling praat, hoef jy dit amper nie eers uit jou kop te leer nie, omdat die woorde jou eie is en sou jy ‘n ander woord gebruik, sal dit nie saakmaak nie.

Skryf jou mondeling en oefen, oefen, oefen dit. Oefen dit hardop voor ‘n spieël. Vertel vir die persoon in die spieël dit wat jy wil vertel. Praat jou hart uit. Wees oortuigend. Glo in wat jy wil sê. Glimlag.

Die dag van die mondeling? Die mondelingperiode?

Haal diep asem. Haal rustig asem. Weet dat jy dit mos goed voorberei het.

Dan, terwyl jy nog sit, moet jy net rustig wees. Wanneer hulle jou naam noem, moet jy met vrymoedigheid opstaan en vorentoe stap. (Oefen dit ook by die huis.) Onthou, die toespraak begin van die oomblik af wat hulle jou naam noem, terwyl jy nog in die stoel sit.

Dan gaan staan jy rustig daar voor. Kyk vir die ander. Glimlag. Haal diep asem.

Wanneer jy gereed voel, begin jy jou storie. Jy praat klaar, sê dankie (of nie), stap statig terug en gaan sit. En eers DAN stop die toespraak. Dan blaas jy al die asem wat opgebou het uit, kyk vir jou beste maat en glimlag verlig.

Oefen ook die ‘optrede’ by die huis, van die sit in die stoel, die opstaan, die gaan staan daar voor, die praat, die glimlag, die terugstap en die kom sit in jou stoel. Oefen dit, dit gee vir jou selfvertroue.

Sterkte, jy kan dit doen!

Toortsie

Vir nog mondeling/opstelhulp, kliek HIER.

Toespraak: Waarheid

Alhoewel ek hier ‘n klompie gedagtes rondom ‘waarheid’ neergepen het, en jy meer as welkom is om dit te gebruik, sal ek jou aanraai om dit te verwerk na jou eie toespraak. Gebruik jou eie woorde en vul dit ook aan met jou eie idees. Onthou, ook ander leerders gebruik hierdie bron en jy wil tog nie uitgevang word dat jy iemand se werk net so gebruik nie, of hoe? Veral nie in ‘n toespraak oor die waarheid nie! Onthou om toortsie.com as bron te vermeld indien jy wel hierdie inligting gebruik het.

Waarheid is vir my ‘n goeie redenaarsonderwerp, want waarheid is iets wat al hoe minder mense deesdae respekteer. Mense verdraai die waarheid om elke hoek en draai.

Dit maak net nie meer saak as iemand nie die waarheid praat nie! Hulle voel nie eers meer sleg as hulle uitgevang word nie. Dit het deel van die alledaagse manier van doen geword om halwe waarhede te versprei.

Witleuentjies is aan die orde van die dag. Wat maak dit saak? Dit was tog net ‘n witleuentjie, niemand het skade gelei daardeur nie? Of het iemand? En wat daarvan as iemand skade gelei het, solank ék net nie skade gelei het nie. Of solank ek nie uitgevang word nie.

Want alles gaan oor me, myself and I.

Waarheid is ‘n produk van integriteit. As jy integriteit het, sal jy die waarheid praat. Deur die waarheid te praat, wys jy dat jy respek het vir jouself, vir ander mense en vir God.

Jy kan eers respek aan ander mense betoon as jy respek het vir jouself.

Deur die waarheid te praat, respekteer jy dan jouself en verdien ook die respek van ander.

Respekteer God deur die waarheid te praat, want God is die Vader van die waarheid, Hy sal nooit lieg nie. Hy is die Woord, die Waarheid en die Lewe.

Deur die waarheid te praat, bou jy jou naam, en eintlik is jou naam al wat jy het. Met tyd leer mense hulle kan jou vertrou, glo wat jy sê, omdat jy iemand is wat die waarheid praat. Met tyd bewys jy dat mense jou woord kan vertrou, omdat jy nie lieg nie.

Wanneer jy altyd die waarheid praat, hoef jy ook niks te onthou nie. Jy hoef nie te onthou hoe jy jou stories verdraai het en nou moet regpraat nie.

Daar is klein maniertjies om die waarheid te praat, bv nie lieg op ‘n vorm nie. Sommer net ‘n vorm teken waarop die inligting nie reg is nie.

Sommer net ja of nee sê om die ander persoon stil te kry, al is die teendeel waar.

Die waarheid maak vry. Soms dra jy vir jare swaar aan iets wat jy tog nie wil hê moet uitkom nie, en dan, een dag, kom die waarheid uit. Dis die heel beste ding wat kan gebeur, want as die waarheid eers uit is, kan jy begin werk daaraan, kan jy vry kom en ‘n nuwe mens begin wees.

Afsluiting: Jy kan kies of jy die waarheid gaan praat, of nie, maar ek kies om die waarheid te praat.

Toortsie

Vir nog mondelingonderwerpe, onderwerpe vir toesprake, opstelle, kliek HIER.