Jy kan enige iets aantrek

Paasnaweek was die eerste keer wat ek my nuwe, superbont vryheidsponcho kan aantrek, dit was lekker koud en die poncho is heerlik warm. Ek kom wel agter dat dit dalk nie warm genoeg sal wees buite in erg koue weer nie.

Paassondag gaan ons kerk toe, ek met my poncho en dit voel of ek op ‘n wolk loop, kleur doen dit mos vir my.

Die kerk is vol, maar ons kry ‘n plekkie.

Kort nadat ek gaan sit, hoor ek iemand agter my  vir iemand anders sê: “Sien, dis hoekom ek altyd sê jy kan enige iets aantrek, jy moet dit net …” , die res kon ek nie hoor nie. Stilweg glimlag ek by myself. Verwys sy nou na my superbont poncho wat vir my so op die wolke laat loop? Oh well …

Dalk het sy nou nie eers van my poncho gepraat nie, dalk was hulle besig om iemand anders in die kerk kliphard te sit en bespreek.

Maar ek gee nie om nie! Soos sy sê, ‘n mens kan ENIGE IETS dra, jy moet dit net met gemak dra, en as jy nog lyk of jy op ‘n wolk loop daarmee, hoekom nie?

🙂

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

Vryheidsponcho

Toe Karen Adendorff op die Ons Hekel Facebookgroep vertel het dat hierdie poncho se patroon in die Vrouekeur verskyn, was ek onmiddellik verlief daarop en het die tydskrif loop koop. Hierdie poncho móét ek vir my hekel! When I saw this wonderful pattern of a poncho, I was tempted to make one myself, I just couldn’t help it!

Ek was egter met ‘n ander projek besig wat binne ‘n sekere tyd moes klaarkom, so die poncho moes maar vir eers wag. Op ‘n stadium het ek die eerste wolle gaan koop, mooi kleure wat bymekaar pas.
Maarrr ek ontdek toe nog ‘n paar ánder bolletjies wol by die huis en haak toe weer heeltemal uit. Hoe moes daai wolletjies nou voel? Die voorgeskrewe 6 kleure word toe 9 en ja, nie almal is volgens die kleurwiel nie.

Toortsie raak waaghalsiger by die dag. Eers was dit die Askieskombers  toe die Aspriskombers. Asof dít nie genoeg is nie, kom Astrant by!

So tussen die hekelwerk dink ek by myselwers dat dit dalk ‘n bietjie dik vir ‘n daalder is, maar soos hy vorder, hoe meer krul my tone van opgewondenheid.

Hierdie is my vryheidsponcho! Hiermee vier ek my vryheid. Amandla! Ek is vry, los van die kleurreëls, maar terselfdertyd ook sommer los van ‘n spul bande wat my beperk. Ek is vry om my uniekheid, my andersheid, my eksentriekheid ten volle te geniet! Hoeraaa!

En die meeste van alles vier ek sommer net weer eens my vryheid in Christus ook!

So hier is hy, my vryheidsponcho wat my sowaar ‘n nag laat wakkerlê van van opwinding. Die Karen Adendorff poncho met ‘n asterik! *

Groetnis
Toortsie

Toortsie’s Banting Bash Facebook page

Toortsie’s Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Die grootste geskenk wat my dogter my kon gee