Die geveg teen plastiek

Soos reeds in ‘n vorige bloginskrywing genoem, het Country Living in SA my uitgedaag om deel te neem aan Plastiekvrye Julie. Natuurlik kry ek dit nog glad nie reg om plastiekvry te leef nie, maar ek probeer wel.

Die inisiatiewe wat daar is om van gebruikte plastiek ontslae te raak, bv deur ecobricks, is wonderlik. Tog voel ek dat ons eerder daarop moet konsentreer om ons verbruik van plasiek te verminder.

In die vorige bloginskrywing het ek geskryf wat ek reeds doen om plastiek te beveg. Nou skryf ek wat my volgende treetjie tot plastiekvryheid sal wees.

  • Ek wil byvoorbeeld hoor of die skropmiddel wat ek vir my gesig gebruik, plastiekkorreltjies bevat. As dit die geval is, sal ek dit nie meer koop nie. Ek moet ook konsentreer daarop om wanneer ek bv my skoonheidsmiddels of ander goedjies privaat by mense koop, te keer dat hulle nie dit in ‘n sakkie sit nie, dis onnodig.
  • Ek moet weer konsentreer daarop om vir my glasbottels vol water te maak wanneer ons op pad is en nie in die versoeking val om plastiekbottels water te koop nie.
  • Swartsakke en ander sakke in vullesdrommetjies was iets wat ek glad nie op die plaas gebruik het nie. Op die dorp moes ek dit egter doen omdat die sakke weekliks uitgesit moes word vir die munisipaliteit om dit te verwyder. Op die plaas gooi ons dit in ‘n groot oliedrom en dan word dit weggery na die vullisgat toe. Ons munisipaliteit het nou vir almal ‘n groot drom verskaf wat deur die regte lorrie sommer net omgedop word. Ek gaan dus glad nie meer sakke in my vullisdromme sit nie, net die drommetjie daagliks uitgooi in die groot drom en die dromme uitspoel of uitvee met ‘n lap. Elke week beteken dit ‘n hele paar sakke minder!
  • Dalk moet ek weer begin om my eie joghurt te maak, dis gesonder, lekkerder en maak ‘n groot klomp plastiekbakkies minder.
  • Met tyd wil ek weer vir my glasbakkies met deksels aanskaf om kos in te bêre, in plaas van plastiekbakkies.

Nou wag ek in spanning om te hoor wat julle alreeds doen om plastiek minder te maak. O, jy het nie broodsakkies nodig vir skilletjies nie, maak sommer ‘n gat in die grond en gooi jou skille daarin, dis baie beter vir die natuur, jou tuin sal jou beloon daarvoor.

Vertel my, wat doen jy? Wat kan ek by jou leer? Ek daag jou uit: Skryf ‘n blog daaroor en onthou om hierdie bloginskrywing te ‘tag’.

Toortsie

Plastiekvrye Julie

Country Living in South Africa het my uitgedaag tot ‘n plastiekvrye Julie. Sy stel dit baie duidelik dat sy nie verwag dat ons oornag totaal plastiekvry sal raak nie, maar dalk net een stappie vorentoe, want elke bietjie help.

Verlede jaar se plastiekvrye Julie het my beslis op ‘n nuwe spoor gesit en ek is reeds baie meer plastiekbewus as wat ek voor Julie 2018 was. Wat ek dus reeds doen, en ek vertrou die meeste van julle ook, is:

  • Ek gebruik papier- of materiaalwinkelsakke. Vergeet ek my sakke, moet ek maar ‘n nuwe materiaalsak koop. Ek loop ook baie maklik by ‘n winkel uit met die paar goedjies los in my hande en noem aan die kassier dat ek dit doen om die aarde te probeer spaar van plastiek.
  • Ek het vir my gaassakkies gekoop by Crazy store, van die sakkies waarin ‘n mens jou fyn goedjies in die wasmasjien gooi. Hulle ritssluiters is baie swak, maar ek knoop dit sommer. Daarin koop ek dan eerder losmaatgroente, as om reedsverpakte groente te koop. Ongelukkig moet ‘n mens steeds maar baie verpakte goed koop, die plastiek hou net nie op nie!
  • Koop ek bv net een patat of groenpeper, laat plak ek die plakkertjie sommer op die groente self, in plaas daarvan om dit in ‘n sakkie te druk.
  • By die kassier moet ek wakker wees en keer op keer vir die pakker sê dat ek asseblief nie van daardie broodsakkies wil hê nie. Hulle hande gaan soos magnete daarheen en hulle wil al wat ding is eers daarin druk voor dit in ‘n sak gesit word. Ek moet keer op keer sê: ‘Los asb.’
  • Strooitjies, oorstokkies en polistereenkoppies is nie regtig vir my ‘n probleem nie, ek het reeds opgehou om dit te gebruik.
  • Ons het ‘n waterfilter sodat ons nie kanne gefilterde water hoef te koop nie.
  • Sedert ek vyf jaar gelede begin het met Banting, gebruik ek nie meer margarien nie, ook nie kookolie nie, maar slegs botter. Botterbakies en Oliebottels is dus vervang met botterpapier.

Wat beplan ek vir Julie 2019? Ek weet nog nie! Ek hou maar my oë en ore oop om te hoor wat ander doen en begin so stukkie vir stukkie met iets nuuts en hou dan daarmee aan, ek doen dit nie net solank die veldtog aan die gang is nie. Volgende keer sal ek skryf wat ek dink om te doen om meer plastiekvry te leef.

Ek sal bly wees as julle ‘n bietjie raad het om vir my te gee.

Toortsie