Stilweestyd

Ag, ek weet dit al vir baie lank en ek is seker dat ek al voorheen hieroor geskryf het, maar stilweestyd met God is vir my baie belangrik. Nie omdat ek my hoogheilig wil hou nie, maar omdat ek dit so verskriklik nodig het. Omdat dit my help om perspektief te kry en te behou. Omdat dit my kalmeer om tyd met God te spandeer. Omdat ek Hom liefhet. Omdat dit vir my lekker is om tyd met Hom te spandeer. Omdat Hy regtig leef en my baie help, in maklike én moeilike tye. Omdat ek regtig ‘n verhouding met Hom het. Omdat Hy betrokke is in ons lewe.

Maar ek het ‘n manier om te besig te raak, om van herwaarts na derwaarts te hardloop, om toe te laat dat ander ook my tyd vul, om te veel dinge in te min tyd te wil doen. Sulke tye lees ek steeds Bybel, maar sommer net so vinnig en ek rammel net gou ‘n paar sinnetjies gebed af en daar gaan ek. Die Here wou nog met my praat, maar ek hardloop al weer en al wat Hy kan doen is Sy hand opsteek en waai om vir my te sê, stadiger My kind, stadiger!

Maar ek troos my daaraan dat Hy my gelukkig goed ken.

Ek besef maar te goed dat geen te besig wees, selfs dinge vir die Here doen, kan opweeg teen my stiltetyd nie. Ja, ons moet kerk toe gaan, ons moet werk vir die basaar, ons moet goed wees vir ander, ons moet help waar ons kan, veral in tye van nood, ons moet koekies bak vir die kerk, pannekoek bak, die Here vra dit van ons. Hy vra van ons dat ons ons Christenskap sal uitleef deur goed te wees vir ander, veral hulle in nood, om ons kant te bring by fondsinsamelings vir die kerk, om ons gawes wat Hy ons gegee het tot voordeel van ander te gebruik, maar nooit mag ons die goed doen ten koste van ons stilweestye met Hom nie. So graag soos ek geestelike boeke lees, mag ook geen geestelike boek die Bybel vervang nie, is geestelike boeke slegs addisionele leeswerk, addisionele leer van mense wat my kan help om meer te leer van Hom.

Want as ek nie goeie stilweestye het waar ek met Hom praat, vir ander en myself bid, dit wat op my hart is met Hom bespreek, lees wat Hy in Sy Woord vir my sê, tyd gee om te luister nie, raak my emmertjie leeg waaruit ek vir ander moet dien. Raak my koffiekan leeg en lê daar later net die moer onderin, as ek oorlede Louis Malherbe se voorstelling mag gebruik. Begin ek onrustig wees, raak ek senuagtig, slaap ek sleg, raak ek moeilik aan die slaap, droom ek onrustige drome. Want dan probeer ek self my aan die gang hou met net so ‘n knertsie van die Here af.

Ek weet nie van jou nie, maar ek het goeie tyd saam met Hom nodig. Want dit is goed vir my. Dit hou my geanker. Geaard. Verbind aan my Skepper. Aan Hom, wat die beste weet vir my.

Toortsie

Waar kry jy tyd vir stiltetyd?

Toe ek vanoggend laatoggend op my bed sit en so lekker stiltetyd hou, besef ek wat ‘n voorreg ek het om fleksietyd te werk, om eers later in die dag by my kantoor in te stap nadat ek al my ander goedjies klaar gedoen het. Wat maak mense wat voltyds werk, wat hulle kinders al vroeg moet aflaai, wat self betyds by die werk moet kom? Ure in die verkeer moet sit? Hoe maak hulle?

Die afgelope twee weke met my groot getrekkery en lone ook nog tussenin, het ek net weer eens besef hoe maklik ‘n mens nié by behoorlike stiltetyd uitkom as jou program net effens omver gewerp word nie. Hoe maak ‘n mens? Hoe maak julle om tyd by die Here te kry? Wanneer het julle dit? Kom julle daarby uit?

Een of ander skrywer het jare gelede ‘n boek uitgegee: Te besig om nie te bid nie. Ek het dit nog nooit gelees nie, maar die naam van die boek het ‘n blywende indruk op my gemaak. Ek is geneig daartoe om, as ek te besig raak, my stiltetyd af te skeep, met erge nadelige gevolge.

Daar was ook ‘n tyd in my lewe wat ek vroeg moes inval by my werk, die kinders betyds moes regkry vir skool, 50 km ry om almal betyds te kry waar hulle moes wees. Ek is nie ‘n goeie vroegoggendmens nie, en nog vroeër opstaan het nie vir my gewerk nie. Wat ek toe gedoen het wat wonderlik gewerk het, was om die kinders eers te gaan aflaai by die skool, hulle moes half 8 daar wees, selfs vroeër, en dan iewers in die dorp op ‘n stil plekkie gaan sit en stiltetyd gehou totdat ek 8 vm by my werk moes inval.

Elkeen van ons moet maar na ons eie program kyk en self bepaal wanneer dit vir hom die beste is. Vroeër jare was dit vir my beter om eers in die oggend almal weg te help, ontbyt te gee vir wie ontbyt moet kry, en dan later in die oggend rustig by die Here te sit. Dalk werk dit vir jou. Dalk moet jy in die oggend ‘n halfuur vroeër opstaan. Dalk kom jy in die middag ‘n rukkie voor die res van die gesin by die huis. Wat van jou middaguur, is daar nie dan ‘n stil tydjie waar jy met God kan tyd spandeer nie?

Komaan, raak kreatief. Jy sal jou verbaas waar jy oral ‘n tydjie ingeruim sal kry om net stil te raak, jou Bybel oop te maak, rustig te hoor by God wat Hy vir jou wil sê, dit wat jy vir Hom wil sê of vra, te doen. Vind daardie tyd. Maak daardie tyd. Jy sal so bly wees.

Groete

Toortsie

Wanneer hou ek stiltetyd

Vir enige vriendskap of verhouding is dit nodig dat die persone in die verhouding/vriendskap tyd met mekaar sal spandeer. As ek nooit iets saam met my vriendin doen, nooit vir haar bel of met haar gesels op een of ander manier nie, verloor ons later mekaar. Net so is dit belangrik as ek ‘n verhouding met God wil bou, ek tyd met Hom sal spandeer. Anders weet ek later net van Hom, maar ken Hom glad nie. Ek kan Hom selfs vergeet as ek nie tyd saam met Hom spandeer nie…

Daar is so baie mense wat sê dat ‘n mens moet vroeg opstaan om die eerste ure van jou dag aan God af te staan. Dit het seker meriete, maar as MY verhouding met God en My stiltetyd moes afhang van die eerste ure van die dag, sou daar min gebeur het. Die eerste ure van die dag is nie my BESTE ure nie. Ons almal verskil mos!

Daar was ‘n tyd wat ek op die dorp gewerk het. Ek moes die kinders al 25 oor 7 by die skool aflaai, maar ek moes eers 8 vm by die kantoor wees. Nadat ek baie maniere probeer het om my stiltetyd by die huis in te pas en na baie frustrasies, het ek my Bybel begin saamneem en in daardie tydjie nadat ek die kinders afgelaai het, rustig iewers onder ‘n boom gaan sit en stilwees by God.

Op rowwe dae gebeur dit dat ek in die oggend net vinnig stiltetyd hou, iets in die Bybel lees en bid, maar vanaand wanneer ek rustig is, tyd met Hom spandeer.

Ek het ook baie keer as ek Maandagoggende my dogter skooltoe moes neem, haar eers geneem, en as ek terug is en almal rustig is, my stiltetyd gehou.  In my program werk dit beslis beter as ek dit ‘n bietjie later in die oggend doen, wanneer alles rustig is.

Ek is ‘n absolute voorstander daarvan dat elke persoon in sy eie program moet kyk waar dit die beste gaan inpas. Doelgerig kyk en dan daardie afspraak met God nakom.  Ek glo al hoe meer dat dit nie saakmaak WANNEER, of watter tyd van die dag dit is nie. Wat saakmaak is DAT dit gebeur. Dat wanneer jy stil word, jy op God kan fokus en net stil wees en Sy wonderlike nabyheid en krag en liefde kan ervaar. As jy dan jou Bybel oopmaak, sal jy Sy stem hoor, en wat is wonderliker as dit??

Geniet jou tydjie saam met Hom. Dis die beste, beste tyd van die dag! My hart word net stil as dit stilword in U. Daar is niks so bevredigend as ‘n “lekker stiltetyd” nie.

Groete

Toorts