Baviaans Camino Dag 1

As ons as kind gaan toer het, het my ma altyd voor ons vertrek Ps 121 gelees. In die 1953-vertaling staan die opskrif: ‘Op pad.’

Gisteroggend voor ons by die huis vertrek, lees ek dit en vanoggend weer. Nog nooit het dit só tot my gespreek soos juis vandag nie, veral toe hulle ons aan Steytlerville se kant van die Baviaansberg aflaai nie.

Ek kyk op na die Berge,

O waarvandaan sal daar dan hulp kom?

My hulp kom van die Here

Wat hemel en aarde kon vorm.

Hy sal nie toelaat dat jy val nie

Hy sal nie toelaat dat jy swik

Want Hy sluimer of slaap nie

Hy laat jou ewig wandel in die Lig.

Heeldag draai die liedjie deur my kop. Eers help Hy my teen die styl berg uit, verby elke zig en elke zag. Net voor die afdraend sê ons perderuitergids, oppas vir gly op die klippies. Daar is klein los klippies en ek loop versigtig.

Skielik gly Trommeltjies agter my. Ons help haar op en stap verder, net sodat ek en sy gelyktydig weer gly en ek nóg ‘n keer. Wel, Toortsie en Trommeltjies besit nou albei twee stukkies grond in die Baviaansberg. En albei van ons het ongedeerd daarvan af gekom.

Vandag was nogal uitdagend. Môre is blykbaar erger.

Dis ‘n wonderlike ervaring. Ons is ‘n pragtige groep mense bymekaar.

Toortsie

Middagete

Is ek gereed vir die Camino?

Dís ‘n vraag waarvoor ‘n mense seker nooit die antwoord sal hê voor jy dit nie gestap het nie, want hoeveel moet jy nou regtig oefen om so ‘n ding aan te pak waar jy 20 km per dag stap? Jy kan tog nie hier elke dag 20 km stap nie? Jy kan seker as jy wil, maar is dit hoe die mense oefen? Saartjie het vir my gesê sy het net haar normale 10 km per dag geoefen. Nou ja, ons oefen ook nie eers regtig 10 km per dag en elke dag nie.

Wel, vir 2020 is die Camino de Santiago nou eers van die baan, maar die Baviaans Camino is nog ‘n moontlikheid. Dis iets wat ek nou ook met baie geïnteresseerde oë bekyk. As die ou simpel grendeltyd nou net sy gang wil gaan.

Toe ons die naweek regtig lank en ver gestap het, oor die berg, om die berg, weer oor die berg, op en af, het ek besef, onder normale omstandighede behoort ek reg te wees vir die Camino. Ek kan lank en ver stap. Dis net met die bulte wat ek ‘n bietjie spoed verloor en soms moet stop om te rus, maar ek kan aanhou en aanhou.

Ek moet darem vertel dat ons twee bobbejaanpartytjies ontwrig het. Hulle het glad nie gedink dit is snaaks nie en het luid kapsie gemaak. 🙂 Ag, hulle kon maar weer verder partytjie hou toe ons verby was. Vreemd, dis die eerste keer wat ons bobbejane raakgeloop het en ek belowe, wat ons aanbetref, het hulle die sosiale afstand behou soos wetgewing bepaal.

Wat ek ook dink ‘n groot verskil by die Camino sal wees, is dat jy mos stap en rus. Jy het die hele dag tyd. Dis nie soos ons wat stap om klaar te maak nie. Dis soos met ‘n staproete. Jy stap en rus wanneer jy so voel.

Ek skryf ook mos hierdie Camino-joernaal met die doel om myself op hoogte te hou. Nader aan die tyd wanneer ek dit dalk gaan stap, wil ek ‘n Whattsappgroep begin waarop ek met my kinders en wie sou belangstel, sal kommunikeer. Dit sal ‘n baie eensydige groep wees waar net die admins kan post, glad nie ‘n chatgroep nie. Die doel daarvan sal ook eintlik net ‘n joernaal wees, ‘n inligtingsblad van hoe ek vorder en wanneer ek (hopelik ons) dit stap, kan ek foto’s daarop post vir die belangstellendes, maar ook vir my eie rekord.

Of hierdie droom waar sal raak, sal net die tyd leer. Wat ek wel al in my lewe gesien het, is dat baie goed wat ek sommer net so terloops gedroom/gehoop/gedink het, uit die bloute waar geraak het wanneer ek nie eers daaraan gedink het nie. Ps 127 sê dat die Here dit vir Sy bemindes in hulle slaap gee. Daarvan kan ek beslis getuig.

Toortsie