Waniebos NaNoWriMo2019

Ons naaste bure op die plaas was oom Eddie en tannie Dina van Eeden. Tannie Dina was my pa se suster. Hulle het op die buurplaas, Driefontein gebly, seker minder as twee kilometer van ons af. Ons hoef nie eers grootpad toe gery het om by hulle uit te kom nie, daar was ‘n plaaspad tussen ons en hulle. 

In die middel was daar ‘n bos, nie ‘n baie groot bos nie, maar darem ‘n bos. Daardie bos het die Waniebos geheet. Vroeër jare het daar ‘n wa in daardie bos gestaan, vandaar die benaming, Waniebos, wat die kort was vir wa-in-die-bos. Ek kan regtig nie meer onthou of die wa nog in my kinderdae daar gestaan het, of nie. Ook nie wat van die wa geword het nie. Ook nie hoekom die wa daar gestaan het nie. 

Die prentjie wat ek in my kop het, is van ‘n perdewa, maar ek mag heeltemal verkeerd wees. ‘Daar kom die wa, die vierperdewa, hy het nie naam nie, sy naam moet hy nog kry.’ Waar hierdie prentjie vandaan kom, weet ek nie. 

Alhoewel dit stapafstand was tot by oom Eddie en tannie Dina, het ek nie baie soontoe gestap nie. Tog het ek dit by tye gedoen, maar nie te veel nie. Aan die een kant was dit net te ver vir ‘n dogtertjie om te stap, maar die eintlike storie was dat dit gespook het by die Waniebos. Of, so het hulle gesê en ek het hulle geglo. Nie dat ek in spoke glo nie, maar so ‘n kans vat jy darem nie sommer nie. Wat die spook gedoen het, weet ek nie, en ek het ook nooit probeer uitvind nie. Selfs later as groot kind of as tiener, sou ek eerder die bult aandurf aan die anderkant van ons huis voor ek sommer by die Wanibos verby sou draf vir oefening. 

Ek is in standerd twee dorp se skool toe en het vir die res van my skoolloopbaan in die koshuis gebly. Huis Eloff was die meisieskoshuis en Huis Viljoen die seunskoshuis. Die dogters vanaf sub A tot matriek het almal in Huis Eloff gebly. Die laerskooldogters het aan die een kant van die koshuis gebly en die hoërskoolkinders aan die ander kant. 

In ons laat-hoërskooljare was ons lief om die laaste aand van die kwartaal ‘n middernagfees te hou. In daardie jare het ons skool toe gegaan totdat die skool die dag sluit, ons het nie by die huis gebly as die eksamen verby was nie. 

HIerdie middernagfeeste is in die geheim gehou en was beslis onwettig. Baie geheimsinnig is die beplanning gedoen sodat die ander kinders en veral die onderwysers nie daarvan sou hoor nie. Intussen het ander kinders presies dieselfde gedoen! Nie alle kinders was egter bevoorreg om te kon deel in ‘n middernagfees nie. 

Wanneer die ligte-uit klok lui, sou elkeen doodstil in haar eie bed gaan lê en wag totdat die juffrouens en prefekte hulle rondtes klaar gedoen het. Dan sou ons saggies, op ons tone een vir een sluip na die aangewese kamer, gewoonlik die verste van ‘n prefek af. Hoé ons dit reggekry het om dit geluidloos te doen, weet ek nie, dit was houtvloere en houtvloere het ‘n manier om te kraak as jy dit nie wil hê nie. 

Daar het ons dan fees gevier tot ná middernag. So sag as moontlik, maar hoe sag kan ses tot agt tieners nou fees vier? Ons het almal eetgoed van die huis af saamgebring vir hierdie geleentheid en ek het altyd die bestanddele van ‘n malvalekkertert gebring, wat ek dan daar gemaak het en ons wat ons dan geëet het, selfs al was dit nie gestol nie. Wie gee nou regtig om of dit gestol is of nie, die soet was te lekker. 

Een nag het ons my vriendin, Ronel, ingesmokkel uit die dorp uit om ook te kom fees vier saam met ons. Haar ma het haar kom aflaai by die koshuis net voor aandetetyd, wanneer die koshuis se deure gesluit word. Sy het weggekruip in my kamer en die volgende oggend het haar ma haar weer kom haal. 

Omdat dit al ná ligte-uit was, moes ons ligte af wees en het ons van kerslig gebruik gemaak. Spookstories was dan aan die orde van die dag. Of ons almal later die aand sou terugsluip na ons eie beddens, kan ek nie onthou nie, maar betwyfel ek sterk. Ek dink ons sou te bang wees na al die spookstories. Ons het seker maar ‘n kermisbed gemaak en almal daar geslaap. Die volgende dag was ons gewoonlik doodmoeg in die skool, maar dit het nie saakgemaak nie, want die skool het half elf uitgekom en daar was beslis nie op die laaste dag van skool enige skoolwerk gedoen nie. 

Die pad skool toe van die koshuis af het langs ‘n ou begraafplaas verby geloop. Dit het ons glad nie gepla nie, ons het mos in die dag daar verbygeloop en meestal in groepe. Dit was baie min wat ons alleen geloop het. Sou ons saans na ‘n funksie by die skool gaan, het ons in ‘n groep geloop, twee-twee langs mekaar. Ordelik. 

Daardie begraafplaas is intussen verander na ‘n speelparkie. Die grafte is seker uitgehaal en die grafte herbegrawe, ek weet nie wat daarvan geword het nie. Vandag is daar nie meer ‘n heining om nie, daar is ‘n pragtige grasperk en swaaie en goed wat in ‘n speelparkie hoort. 

My broer woon langs daardie speelparkie wat eens op ‘n tyd ‘n begraafplaas was. Daar is nie ‘n manier wat ek my kleinkinders op daardie speelparkie sal besig hou nie. Ou gewoontes sterf nie! Ek is geleer om óm daardie erf te loop, ek sal dit bly doen tot my dood. ‘n Mens speel nie in ‘n begraafplaas nie. Respek vir die dooies, sien! 

Later jare het ons gesin, dis nou ek, Kobus en die kinders, op Uitkyk gebly. Een aand het ons gaan eet op Swellendam, maar een van die seuns wou by die huis bly.  Op ‘n stadium bel hy ons toe en sê ons moet maar terugkom asseblief. In daardie tyd het ons buurtannie vir my gesê dat dit spook in Uitkyk se huis. Ek is nou nog nie seker of dit daardie spook is wat vir ons kind gepla het die aand nie. 

Aanvanklik was ek grillerig oor die spook wat moontlik in Uitkyk woon en het sy my snags ‘n bietjie wakker gehou, totdat ek besef het dat sy my niks sal maak nie. Ons het mekaar nooit gepla nie. Ook nooit gewaar nie. Vir amper twintig jaar het ons goed saamgewoon, ek en die spook. Ek in my tyd en sy in haar tyd. 

Ek het egter gesorg dat die spook lewendig bly met die doel om ongewenste besoekers daar weg te hou en sou terloops vir die tuinman iets noem van die spook. Een keer was ons weg vir die week. Toe ons terugkom, sien ek dat die gastebadkamer se geizer aan is. Daar het ‘n handdoek gelê wat gebruik is en daar is duidelik op een van die enkelbeddens in die gastekamer gelê. Ek het vir my seun gevra of hy daar was en die geizer aangesit het, maar ook hy het gesê dat dit nie hy was nie. “O, dan is dit seker maar die spook”, sê ek. 

‘n Rukkie daarná het die tuinman navraag gedoen of ek al uitgevind het wie in die huis was en ek het maar weer gesê van die spook. Kort daarna het die ou maar elders gaan werk soek. Ek wonder steeds of dit die spook is wat hom weggejaag het? Wie in die huis was, het ek nooit uitgevind nie, maar dink dit was maar een van ons kinders.

In ons jongdae was my man ‘n kranige lid van die boerevereniging. Een maal per jaar het die boerevereniging op ‘n uitstappie gegaan. Aanvanklik het net die manne gegaan, maar later is ons dames ook toegelaat om dit by te woon. 

Een naweek het ons by Melkkamer gaan bly. Melkkamer was een van die plase wat uitgekoop is destyds toe die Staat ‘n groot klomp grond uitgekoop het met die doel om ‘n lugmagbasis en die Overberg Toetsbaan hier aan die suidpunt te vestig. Net so ‘n jaar of drie voor dit het die Staat ook ons stukkie seegrond uitgekoop. Dronkvlei was die plaas se naam en die bekende Koppie Alleen was deel daarvan. Dit het deel van die De Hoop Natuurreservaat geword. Melkkamer was ook deel van die De Hoop Natuurreservaat. 

‘n Mens kan nie sommer net na Melkkamer toe ry soos jy wil nie, dit moet onder begeleiding van Natuurbewaring gebeur, want ‘n mens ry ‘n stukkie deur OTB-gebied. Wanneer die toetsbaan besig was met toetse, kon ‘n mens nie oor hulle grond ry tot by Melkkamer nie, ek weet nie wat die reëling dan was nie. 

Melkkamer het ‘n pragtige huis. Daar is meer as een huis op Melkkamer, maar die hoofhuis is regtig ‘n pragtige opstal. Toe ons daar aankom, was ek onmiddellik verlief op die huis. Ek het vir Kobus gesê dat as ek ooit ‘n droomhuis sou hê, Melkkamer die plek was. 

Nou wil ek eers vertel van boervroue en plaashuise. Boervroue kies gewoonlik nie huise nie, hulle kry ‘n huis saam met die boer en maak dan van daardie huis ‘n tuiste. Dit was dus nie in my ervaringswêreld om ‘n huis te kon uitsoek nie. Daarom dat ek gesê het dat Melkkamer se hoofhuis my droomhuis was. 

Vrydagaand het ons tog te lekker gekuier. Saterdag het ons ‘n spanboukursus gedoen en Saterdagaand het De Hoop se bestuurder saam met ons kom braai en vertel van die vrou wat in die huis dood is. Hy gaan wys die donker kol op die vloer waar sy gelê het. Die vlei was vol water en hulle kon haar nie help nie. Haar gees het nog nie tot rus gekom nie, vertel hy. Dadelik sê een van die dames in die groep dat sy kon aanvoel hier is iets verkeerds. Sy kan wel nie spoke sien nie, maar sy voel hulle aan. Teen die tyd wat ons gaan slaap, is almal goed grillerig. 

Daar was nie Eskom-krag nie, maar wel ‘n kragopwekker. Toe almal in hulle kamers is, ek moet bysê dat ons sommer op matrasse op die vloer geslaap het, is die kragopwekker doodgemaak en was dit pikdonker in die huis. 

Ek het sommer dadelik aan die slaap geraak, maar het kort daarná wakker geraak deur my eie bloedstollende gille. Kobus het my dadelik aan die arm gevat en gesê dis alles reg, daar is niks nie. Ongelukkig kon ons nie ‘n lig aanskakel sodat ek behoorlik wakker kon word nie en my droom het heelnag aangehou. Die vrou van die huis het my heelnag gepla. Ons dogtertjie was nog ‘n baba en was ook onrustig. Dalk was die vrou by haar ook? 

Ons sou die Sondag nog tot laatmiddag daar gekuier het, maar toe ons wakker word, het ek ons goed opgepak en is ons huis toe. Melkkamer se huis het sy droomstatus verloor! 

Sjoe! Kyk watter draaie het die spook in die Wanibos my gedagtes nou laat loop en ek weet nie eers meer of die Waniebos nog ooit bestaan en dalk al uitgehaal is nie. 

Advertisements

Lê jou eier – spookstorie

In ons hoërskooldae het ons graag die aand voor die skool sluit, middernagfees gehou en spookstories vertel. Dit was koshuisdae. Nou kan ek natuurlik nie meer een van hulle onthou nie. Ons was later so bang dat niemand dit durf waag het om gang-af te sluip en te gaan slaap nie!

Die storie wat ek self beleef het, het ek in 2015 vertel, van Melkkamer se spook. Dit het so gewerk:

‘n Groep boere en hulle vroue het ‘n naweek in Melkkamer gaan bly. Iemand wat onsigbare dinge kan aanvoel, het gevoel dat dinge nie so reg is daar nie. Die Saterdagaand het van De Hoop Natuurreservaat se manne by ons kom kuier en vir ons vertel van die vrou wat so lank in daardie huis doodgelê het, daar is steeds ‘n kol op die vloer.

Toe almal tot rus kom en die kragopwekker afgeskakel is, was dit pikdonker en ek het sommer dadelik aan die slaap geraak. En gedroom. En almal in die huis wakker gegil!

Daardie hele nag was ek en die spook besig met mekaar. Durf ek dit waag om aan die slaap te raak, karring die spook aan my. Ons dogtertjie was toe ‘n pap baba, en sy was nét so onrustig heel nag, ek dink die spook het haar ook gepla!

Ek ken iemand wat die onsienbare kan sien. Een oggend vroeg, dit was eintlik nog sterk skemer, het hy vir my pa en nog ‘n oom op ‘n damwal sien staan. Terloops, dit was al laaaank na hulle dood! Ek glo hom, hoekom sal hy jok? Ek dink die tweetjies het net kom loer waarmee ons besig was. Plaas dat hy hulle innooi vir koffie!

By ons familiereûnie was daar ook blykbaar ‘n paar ekstras teenwoordig! Mense wat ons lankal reeds verlaat het!

Die ou plaashuis waar ons amper 20 jaar lank gebly het, het ook blykbaar ekstra inwoners gehad. Ons het mekaar nooit gepla nie, ons het net elkeen in sy eie tyd geleef! Ja man! Leef, en laat leef!

En Melkkamer se spook? Daar was darem geen merkbare letsels nie.

Wat sal Hester nog vir ons uit die hoed ruk?

Hoor hier, dis nie my man wat die spoke sien nie, hoor! Hy staan met sy voete stewig op die grond!

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).