My present aan myself

Ons almal werk so hard aan ons salarisse, net om alles uit te betaal aan die einde van die maand en niks vir onsself oor te hou nie. Ek weet dis moeilik om in hierdie moeilike tye te spaar. 10 persent, of selfs meer van ons salaris.

Vir ons jongmense kan ek dit nie genoeg beklemtoon om, van jou eerste salaristjek af, 10% te spaar nie. Deur dit te doen, kry jy aanvanklik uiters swaar, kan jy nie koop wat jy so verskriklik nodig het nie, maar deur dit te doen, sit jy jouself op ‘n ander baan, iets waaroor jy nooit spyt sal wees nie.

Daardie 10% is soos lammerooie waarin jy belê, hulle gaan vir jou begin werk, selfs sonder dat jy dit besef. Hulle gaan vir jou deure oopmaak wat andersins altyd gesluit sou bly. Hulle gaan vir jou dinge moontlik maak wat andersins altyd onmoontlik sou bly.

Doen dit net. Byt vas, veral in moeilike tye. Gun dit vir jouself. Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees nie.

Groetnis

Toortsie

Die rykste man in Babilon

 Toe hierdie boek in 2008 uitgekom het, het ek dit by iemand geleen en absoluut verslind. Ek het dit baie vinnig gelees en daarná het ek soveel keer gewens dat ek dit net weer in my hande kon hou om te raadpleeg. Nou, na al die jare, het ek dit weer vir my gekoop en regtig, dis ‘n belegging, ‘n boek wat ek graag vir ELKE persoon wil aanbeveel.

Deur ‘n klomp antieke verhale word die verantwoordelike gebruik van geld bespreek. Eenvoudige reëls wat ENIGE mens kan toepas, van die rykste tot die armste mens. Ek het die reëls soos hierin vervat toegepas in my persoonlike finansies en pluk die vrugte daarvan. Dat dit nie elke dag maklik is om daarby te hou nie, is wel waar. Tog kan ek getuig dat ek dit begin doen het toe ek REGTIG nie geld gehad het om behoorlik van te leef nie, wat nog te sê te spaar!

Kortliks kom dit daarop neer dat jy moet leer om met 70% van jou inkomste te leef, hoe moeilik dit ook al mag wees. Veral in die begin, of in moeilike tye, verg dit baie beplanning. Daarom is ‘n begroting nodig sodat jy kan sien waarop jy dalk onnodig geld spandeer, watter uitgawes is totaal onnodig, waar is dalk goedkoper opsies. Die gedagte is dat jy leer om 10% van jou inkomste te spaar, om dit NOOIT te gebruik nie, 20% van jou inkomste gebruik jou om jou skuldeisers te betaal en die res mag jy dan gebruik vir jou en jou gesin se persoonlike lewenskoste. (Dan glo ek mos nog in die drie tiendes ook, wat my weer eens uitbring by 70% vir jou lewenskoste).

Ek belowe jou: Dis die enigste manier om finansieel vry te raak. Soveel mense het al vir my gesê: ‘Ek het nie eers genoeg om van te leef nie, hoe kan ek nog spaar ook?’ Dis BAIE waar, veral in vandag se tye. Ek verstaan dit heeltemal. Baie keer het ek al gebrand om in daardie ‘kittie’ te loop krap, maar as jy dit eers regkry en by daardie beginsel hou, sal jy NOOIT terugkyk nie.  Die feit is dat dit nie saakmaak hoeveel ons inkomste is nie, ons sal dit UITLEEF. Hierdie skryf ek met die grootste begrip en empatie vir mense wat totaal onder die broodlyn leef.

Koop vir jou die boek. Lees hom met ‘n leerbare gees. Begin om dit toe te pas. Jy sal nie spyt wees nie!

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Oor spaar of nie

Die onderwerp in in Loslip op RSG was:  “Is dit nog moontlik om in hierdie moeilike tye te spaar? En indien wel, gee raad asb.” Soos dit gewoonlik gaan, het almal ingebel om te verduidelik hoekom hulle NIE kan spaar nie. Die ouens wie wel spaar het soos ‘n gepiep van kuikens geklink teenoor dié wie nie kan spaar nie.

Kan ons dit bekostig om te spaar? Of meer….. Kan ons dit bekostig om NIE te spaar nie? Sjoe! Wat ‘n moeilike vraag. Ek besef daar is mense wie regtig net te min geld kry om nog te spaar ook. En as hulle medikasie, huishuur, al die ander noodsaaklikhede afgetrek is, is daar net nie geld oor om te spaar nie.

Aan die ander kant, weer, is dit ook ‘n ekonomiese feit dat GEEN mens uitkom met sy geld nie, ongeag of jy die armste mens op aarde is of die rykste. ‘n Mens se inkomste is ALTYD TE MIN. Jy leef jou inkomste.

Ek het al baie oor hierdie ding gedink en gaan nou ‘n wilde stelling maak. Ek wonder sommer net, is daar mense wat spaarders is, ongeag hulle inkomste, teenoor ander wie nie spaarders is nie, ongeag hulle inkomste? Is daar mense wat ‘n spaarkultuur het  teenoor ander wie dit dalk nie het nie? Ek sien mense met baie geld, of wie baie geld spandeer op luukse en nie ‘n sent spaar nie, en ek sien arm arm mense wie altyd ‘n geldjie iewers weggesit het.

Dis ‘n algemene feit dat wanneer ons aftree, ons inkomste met 30% gaan daal. Dis nou diegene wie voorsiening gemaak het. So, as jy nou reeds nie uitkom met jou 100% nie, hoe gaan jy uitkom met jou 70%? Die ekonomiese raad was altyd, dat vanaf jou eerste salaristjek, jy 10% daarvan moet spaar sodat jy jou leefstyl kan handhaaf ná aftrede. En natuurlik, hoe later jy begin, soveel groter is daardie persentasie wat jy moet spaar.

Ek kan net namens myself praat, maar gelukkig was “spaar” ‘n onderwerp wat baie groot gewig in ons huis gedra het. Omdat ons lewenslank so van die natuur afhanklik was, het ons geweet dat vanjaar se goeie oes nie noodwendig beteken dat daar volgende jaar enigsins ‘n oes sal wees nie. Daarom moes ons ietsie wegsit.  In my baie moeilike, baie arm beginjare het ek steeds ‘n skamele bedraggie weggesit waaraan ek nie mag raak nie.  Soms moes my kinders die prys betaal omdat daar ‘n bedraggie is wat gespaar moet word. Maar vandag is ek nie spyt daaroor nie.

Spaar in die bank? Verkieslik nie!!!! Maar selfs dit is beter as niks!

Maar spaar!!

Toorts

Toortsie se Faceboekblad

Kry vir jou ‘Die rykste man in Babilon’, lees dit met ‘n leerbare gees en pas dit toe. Jy sal NOOIT spyt wees nie.

babilon-1000

Daar’s drie susters…

 

Hulle sê daar’s 3 susters… maar ek sê daar’s 3 tiendes.

Besparing bly maar ‘n probleem. En blykbaar het ons Suid-Afrikaners ‘n baie swak spaar-kultuur. Volgens statistiek spaar ons maar ongeveer 1.5% van ons inkomste! En as DIT waar is, is hier ‘n RAMP op pad!! Want as ons nie spaar nie, waarvan gaan ons leef ná ons aftrede? Mense tree al hoe vroëer af. En word al hoe ouer??

Almal van ons voel maar of ons nie met ons inkomste uitkom nie, maar baie keer is dit die ouens wat die meeste kla, wat die meeste geld het vir luukses. As jy dan nie kos in die huis het nie, hoe is dit dat jy geld het vir die Huisgenoot, sigarette, drank? Dis nie dat ek mense hulle plesiertjies misgun nie, en baie keer is dit ál plesier wat hulle kan bekostig, of drink en rook die persoon dalk om die hongerpyne weg te steek. Alhoewel, ek wonder wat is die duurste – ‘n bottel sterk drank of ‘n brood??

Die feit van die saak is dat ons moet voorsiening maak vir ons oudag, of ons dit wil weet of nie. En ekonome wêreldwyd sê dat as jy jou leefstyl wil volhou ná jou aftrede, moet jy minstens 10% van jou inkoste spaar VAN JOU EERSTE SALARISTJEK af. En soveel van ons doen dit nie. So, as ons op ‘n later stadium eers begin, moet ons nog BAIE MEER as die aanbevole 10% spaar! Ag sies tog, en dan hoor ons so dikwels van ou mense wat wel hulle lewe lank gespaar het, en nou is die rentekoerse so laag en het hulle ook nie genoeg om van te leef nie. Tog voel ek dat hulle darem nog steeds beter af is as die persoon wat nie voorsiening gemaak het nie.

Ek hoor in die Oosterse lande is dit algemeen dat mense ongeveer 30%! van hulle inkomste spaar. Al wat ek wil voorstel is, begin VANDAG! SIT GELD WEG! In aandele, op die geldmark of WAAR OOK AL, maar DOEN DIT NET! En as jy dit nog nooit gedoen het nie en 10% klink te baie, begin met minder en vermeerder elke maand die bedrag totdat jy by ‘n goeie spaarbedrag uitkom. Jy SKULD DIT VIR JOUSELF!!!

Die een 10e is daardie geld wat jy spaar wat jy NOOIT aan mag raak nie, ook nie aan hulle rente nie. Die ander 10e is korttermynbesparing. Die geld wat jy spaar vir die wis en die onwis. Vir vakansies, of iets spesiaals of doktersonkoste, ens. Ek moet erken dat ek nog nie regkry om ALTWEE die tiendes te diens nie, maar ek werk daaraan.

Die derde tiende is vir my die heel belangrikste van almal. Daardie tiende wat jy vir die kerk gee! Ek was nog nooit spyt dat ek dit doen nie. God betaal vir my met rente terug!

Sterkte! Ek weet dis nie maklik nie! Maar hier is baie wat sommer baie geld spaar. Wil julle nie vir ons vertel wat julle doen, en hoe julle spaar nie?

Doen jouself die guns! Daardie 10% wat jy spaar is 10% wat jy VIR JOUSELF BETAAL!

Groete

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad