Kantelpunt

Ek kry die laaste tyd net nie meer behoorlik tyd om te lees nie. Nie blogs nie, nie boeke nie. Tog lees ek baie. Dit klink my of ek uit twee monde praat. Want snags wanneer ek in die middel van die nag vir ‘n uur of wat wakker lê, lees ek boeke op my selfoon om sodoende hopelik nie my man te pla nie. Ek lees tans aan twee boeke: Lore of Nutrition (Prof Tim Noakes) en After the Rapture (David Jeremiah).

Toe ontdek ek oudioboeke. Ek het LIbby op my foon afgelaai, aangesluit by ons plaaslike biblioteek en by Libby aangesluit. Dáár kan jy e-boeke leen, maar ook oudioboeke. Ek kan sit en boeke luister terwyl ek my administratiewe werk doen, brei, hekel, borduur, kos maak. Wat ‘n fees! Ek het al Bookshop by the Sea (Denise Hunter) en A Distant Shore (Karen Kingsbury) gelees en kan albei van hulle aanbeveel.

Die laaste boek wat ek gelees het, was Kantelpunt (Sophia Kapp).

Terwyl ek dit luister, het verskeie emosies deur my kop (of hart?) gegaan. Want, nes Nellie, is ek ook ‘n vrou wat in die 1960’s gebore is. Ook Afrikaanssprekend. Ek verstaan waarvan sy praat. Natuurlik nie altyd in dieselfde graad as wat sy dit beleef nie, maar ek weet waarvan sy praat.

Heeltyd weet ek dat ek oor hierdie boek iets sal wil skryf, maar wat? In die begin is Nellie oortuigend negatief. Wroeg sy oor baie dinge. Sy beleef goed wat Afrikaanssprekende vroue uit die sestigerjare beleef. Sy beleef die konvensies waarmee ons grootgeword het. Dinge wat ons dalk maar net aanvaar selfs al stem ons nie saam daarmee nie. Sy praat oor dinge waaroor vroue van ons era nie normaalweg praat nie ter wille van vrede. Om nie die mense om ons te ontstel nie. Mense nie ongemaklik te maak nie.

Maar Nellie het ‘n stem en sy begin leer hoe om dit te gebruik. Dalk nie altyd soos ander wil hê sy moet dit gebruik nie, maar wel. Sy maak foute wat dalk nie foute is nie. Sy leer haarself ken. Sy leer die waarde in haarself ken. Sy spreek heilige koeie aan en kry nie altyd die reaksie wat sy verwag nie. Net soos wat ek dit ook nie altyd kry as ek dit doen nie. Want heilige koeie wil nie aangespreek word nie. Heilige koeie is heilige koeie om ‘n rede en dit moet in plek gehou word ter wille van dit wat ‘normaal’ is, selfs deur hulle vir wie dit benadeel. Want samelewing vereis dit.

Al wat vir my hartseer is is dat sy nooit haar amper wrewel teen die kerk laat vaar nie. Dat sy nooit God in Sy liefdevolheid, Sy Grootheid, leer ken nie. Dat sy nooit te doen kry met kinders van God wat haar regtig van Sy liefde leer nie, of, as sy wel met hulle te doen kry, dalk dit nie ervaar nie of dit verkeerd ervaar? Want kinders van God maak ook foute, dra dalk die boodskap op ‘n manier oor wat daardie persoon nie op daardie oomblik reg verstaan nie. Kinders van God mag dalk ook soms verkeerde redes hê hoekom hulle in Sy Naam optree.

Ek is baie bly dat ek die boek gelees het. Dat ek die groei in Nellie kon beleef en op soveel maniere daarmee kon identifiseer. Ek is trots op die Nellies in die samelewing. Die Nellies wat bereid is om stroomop te swem. Want stroomop swem is nie maklik nie. Dit is beslis ‘n boek wat alle vroue kan lees. En mans? Wel, as hulle dit sal lees met ‘n ontvanklike hart, kan dit ook vir hulle goed wees om te lees.

Ek is bly dat Nellie ‘n stem het. Ek is bly dat ek ‘n stem het.

Knap gedaan, Sophia Kapp. Knap gedaan.

Toortsie