‘n Nie-wenner

Hierdie jaar gaan ek nie ‘n amptelike NaNoWriMo wenner wees nie. Ook nie ‘n verloorder nie. Of ‘n tweedekommer nie.

Ek skryf vanjaar te stadig. Heeltemal te stadig. Ek staan tans op 27400 woorde wat ek fisies vir my boek geskryf het en totale woorde geskryf is amper 30 000. Ek voel gemaklik hieroor. Ek skryf elke dag ‘n bietjie.

Trauma tot triomf is nie ‘n onderwerp wat jy kan afjaag nie. Dit vra heelwat navorsing omdat ek na vroue in die Bybel verwys.

Ek is baie bly dat ek wel ingeskryf het vir Nano, selfs al sien die hele wêreld dat ek nie vanjaar my rofwerk binne die voorgeskrewe tyd voltooi nie. Ek het dit begin, werk daagliks daaraan en sal dalk nog lank daaraan werk.

My brein voel moeg, want ek het hom die laaste tyd kwaai gedruk. Het baie goed ingedruk en gedoen gekry. Ek werk teen ‘n pas wat nou vir my goed en gesond voel. Beslis nie so vinnig soos ek kán werk nie, maar hier swaai geen swepe wat my aanjaag nie. My liggaam vertel my wat gesond is.

Dus, ek is beslis nie ‘n verloorder nie. Ek gaan dalk net heel laaste by die wenpaal uitkom. Soos skilpadjie, sien. Maar wag, skilpadjie het mos juis nie laaste gekom nie! Voetjie vir voetjie het hy geloop … stadig, maar seker wen dikwels die beker. Hou my dop! Wie weet, dalk hou ek nog een dag daardie boek in my hande!

Toortsie

Skryf

Trisa Hugo het hierdie by die Lekkerleesboekklub geskryf.

Trisa Hugo, Maankind, het bogenoemde by die Lekkerleesboekklub op Facebook geskryf waarop die volgende kommentaar gelewer is deur Ben le Roux:

‘Soms, in die soeke na perfeksie, gaan dit soos met ‘n skrywer in een van Camus se boeke. Hy het nie verder as die eerste sin gekom nie.
Dag vir dag het hy dit verander net om die volgende dag, ontevrede daarmee, dit te weer te verander.’

Skryf is ‘n werkwoord. Ek is mal oor skryf, wie sou dit ooit kon voorspel? Dis ‘n manier waarop ek van die baie woorde wat in my kop maal, kan ontslae raak. Dis ‘n manier van kommunikeer. Dis lekker.

Maar ek kan net skryf as die woorde daar is om te skryf. Ek kan nie woorde uitdink nie. Die woorde moet self kom. Die woorde besluit self of hulle geskryf wil word of nie. En dan is dit ook so dat wanneer ek die minste tyd het vir skryf, die besigste ooit is, die skryfwoorde kom soos ‘n rivier wat oorstroom en dan kan ek net vir hulle so in die verbygaan kyk hoe hulle in die see in loop, totaal verlore. Want ek kan nie agterná dit wil loop skryf nie, dan werk dit nie.

Ek vertel vir iemand van NaNoWriMo wat in November is. Gits! Dis oor minder as TWEE weke! 😳🙈🙊 Dat ‘n mens dan 50 000 woorde moet skryf in die maand van November. Dit beteken 1667 woorde per dag. Waarop sy antwoord, ‘dis verskriklik! En dan moet alles nog sin maak ook!’ Waarop ek antwoord, ‘nie nodig vir sin maak nie. Dit is net rofwerk. Jy dien dit nie in nie, gee net daagliks verslag van die aantal woorde wat jy geskryf het. Die sin maak en orden kom later.’

En dít dink ek is die grootste struikelblok waarom soveel mense wat graag wil skryf, dit nie doen nie, soos Ben le Roux gesê het. Ons moet in die eerste plek net skryf wat op ons harte lê. Al is daar foute in. Selfs al maak dit nie sin nie. Skryf net. Ons kan ná die tyd redigeer.

Ek voel dat Trisa se woorde vir elkeen wat iewers woorde neerpen, waar is. Op ‘n brief, e-pos, blog, boek, waar ook al. Dankie vir die mooi woorde, Trisa. Dit is ook vir jou waar.

Lekker skryf. Geniet dit net.

Toortsie