Skryf ‘n opstel oor besoedeling

Die nuwe kwartaal het begin en die kinders skryf opstelle dat dit klap. Dit kan ek aan my blogbesoeke sien.

Skryf ‘n opstel oor besoedeling. Ek vra vir jou vrae en jy skryf dan die gedagtes neer wat in jou kop opkom oor die onderwerp. Dit voeg jy bymekaar tot ‘n opstel.

Ek dink as jy oor so ‘n onderwerp skryf, jy ‘n duidelike standpunt moet inneem. Gaan jy sommer net oor besoedeling in die algemeen praat, die verskillende soorte besoedeling wat daar is? Geraasbesoedeling, lugbesoedeling, waterbesoedeling, grondbesoedeling en nog. Of gaan jy een spesifieke soort besoedeling uitlug?

Hoe voel jy oor besoedeling? Dink jy dit is ‘n werklike probleem, of dink jy die mense oorreageer?

Van watter tipe besoedeling is jy in jou omgewing bewus? Wat veroorsaak die besoedeling, hoe gebeur dit? Wat is die gevolge van besoedeling? Wat, dink jy, gaan die uiteinde daarvan wees? Hoe gaan dit die aarde, maar ook die mensdom beïnvloed?

Is daar iets wat ons as mens kan doen om besoedeling te beperk? Is daar iets wat die regering kan afdwing? Die meeste van alles, is daar iets wat jy, as tiener, kan doen om besoedeling teen te werk? Wat kan julle in julle huis doen om besoedeling te beperk? Is daar dinge wat julle as gesin reeds doen en watter volgende stap kan julle doen om besoedeling selfs meer te beperk in julle onmiddellike omgewing? Dink jy dit sal help as een mens ‘n verskil maak? Kán een mens ‘n verskil maak? Is daar projekte waarby julle as skool betrokke kan raak?

As slothoofstuk kan jy weer jou standpunt herhaal waarmee jy begin het, dat besoedeling wel ‘n probleem is en wat gaan ons daaromtrent doen?

Terwyl daar in Julie ‘n wêreldwye aksie is om plastiek te beveg, kyk bietjie wat ek geskryf het wat ek reeds doen en ook wat ek nou besig is om te implementeer om selfs meer te doen om besoedeling te beveg.

Vir nog opstelhulp kan jy hier kliek. Ook vir mondelinge of toesprake oor dieselfde onderwerpe. Onthou om toortsie.com as bron aan te gee as julle hierdie inligting gebruik.

Blogmaats, as julle lus het om ook hieroor te skryf, maak so en onthou om hierdie bloginskrywing te tag.

Lekker skryf!

Toortsie

Advertisements

Skryf ‘n opstel: Dis ek

Hier is nou die ideale geleentheid om ‘n bietjie oor jouself te dink en jouself voor te stel. Wie is jy? Wie is jy regtig?

Jy kan begin deur van jou gesin te vertel en waar jy in jou gesin inpas. Is jy die oudste kind of die jongste? Hoeveel kinders is julle in die gesin?

Die belangrikste is dat jy vertel wie jy is. Is jy ‘n geselserige persoon, of eerder stiller van geaardheid? Hou jy van mense, selfs al is jy stil, of hou jy glad nie van mense nie? Is jy die grapmaker in die gesin, die een wie se stem dalk altyd gehoor word?

Is jy ‘n handige persoon wat sorg dat stukkende goed reggemaak word? Of hou jy daarvan om goed uitmekaar te haal en te kyk hoe dit werk? Hou jy daarvan om te help met takies in die huis en watter van die takies is vir jou lekker?

Is jy ‘n drukkiemens? Of een wat graag geskenkies uitdeel? Een wat hou daarvan om vir ander mense mooi dinge te sê? Is dit vir jou lekker om mooi dinge van jouself te hoor? Hou jy daarvan as ander mense met jou tyd spandeer? Is dit vir jou lekker om goed vir mense te doen? (Let wel: moet nou nie net skryf: Ek hou daarvan om vir mense goed te doen nie. Brei ‘n bietjie uit en vertel sommer wat jy vir mense doen.)

Wat is jou stokperdjies? Is dit iets wat jy by die skool kan doen, soos rugby of hokkie, of is dit iets wat niemand eintlik van weet nie? Doen jy dalk iets verskriklik interessant, maar kon nog nooit vir iemand vertel nie? Is jy byvoorbeeld ‘n kranige skut en gaan jag saam met jou pa? Of ry jy graag perd? Speel jy dalk ‘n musiekinstrument? (Weer eens, brei uit daaroor. Vertel bv waar jy en jou pa gaan jag. Doen julle dit te voet of met ‘n bakkie? Wat het jy al geskiet?) Jou stokperdjie is mos iets wat vir jou lekker is, so vertel sommer lekker daarvan.

Is daar dalk iets waarin jy baie belangstel, en waarvan jy inligting versamel en oplees in boeke en op die internet, ens?

Neem jy deel aan olimpiades? Is jy dalk gestremd en wat is jou beperkinge?

Wat is jou droom vir die toekoms? Wat wil jy graag word? Wat wil jy graag bereik? Wat is nodig om dit te bereik, wat sal jy moet doen?

Lekker skryf. Die maklikste om oor te praat of te skryf, is jyself. Gee jouself ‘ goeie geleentheid!

Nog opstelonderwerpe.

Groetnis

Toortsie

Skryf ‘n opstel: Om goed te doen aan ander

Wat ‘n lekker onderwerp, want dit is mos lekker om goed te doen vir iemand anders.

Jy kan hierdie opstel op ‘n paar maniere benader.

Eerstens kan jy in die algemeen skryf oor hoe lekker dit is om goed te doen vir ander mense. Vertel wat dit vir jou beteken, die hupstoot wat jy daaruit kry, die gevoel van vergenoegdheid.

Die lekker as jy die vreugde of dankbaarheid in die ander persoon se oë sien. Wat dit dalk vir die ander persoon beteken, hoe dit hom help.

Jy kan ook vertel van ‘n keer wat jy vir iemand gehelp het. Wat het jy gedoen? Was dit jy alleen, of was jy deel van ‘n groep mense? Wat het dit alles behels? Was dit ‘n eenmalige gebeurtenis, of is dit iets wat jy op ‘n gereelde basis doen? Hoe het dit gekom dat jy dit begin doen het? Wat is die uitvloeisel daarvan, byvoorbeeld, het jy nou al ander ook sover gekry om ook goed te wees vir ander? Doen hulle dieselfe as jy, of doen hulle iets heeltemal anders? Wat doen hulle?

Of jy kan iets goeds wat jy nog wil doen, beplan en beskryf. Wat beplan jy om te doen? Vir wie? Wanneer wil jy dit doen? Gaan jy dit alleen doen, of gaan julle in ‘n groep? Neem jy die leiding, of is daar ‘n ander leier en jy gaan net saam? Vertel die detail, in klein besonderhede.

Terwyl jy dink oor jou opstel, dink aan goed wat ‘n glimlag op jou gesig sit, want om goed te doen vir iemand, sit ‘n glimlag op jou gesig. Skryf jou storie soos jy dit vir jou beste maat of jou ouma sal vertel. Wees opgewonde daaroor, dan sal jy sommer lekker skryf ook. Die belangrikste, skryf jou storie self, hierdie is jou beurt. Jou ma het haar beurt jare gelede gehad. Geniet dit, dis jóú storie!

Groetnis

Toortsie

Opstel: Die ou plaashuis

Skryf ‘n opstel oor die ou plaashuis. Sjoe! Hier kan jy nou lekker jou verbeelding gebruik. Jy kan eintlik net maak wat jy wil!

Jy kan vooraf besluit of dit ‘n huis is wat nog in gebruik is, en of dit toe staan. Jy kan dit in detail beskryf, al die mooi kamers, die breë gang, ens.

Of jy kan vertel hoe julle altyd by jou oom-hulle op die plaas gaan kuier het en hoe julle sokker in die gang gespeel het.

Vertel van die solder waar al die ou goed gestoor word en hoe julle altyd daar gaan rondsnuffel. Daar is nog briewe van die oupagrootjie en vertel sommer wat in die briewe staan. En ‘n ou babastootkarretjie waarin julle altyd julle poppe rondgestoot het. Vertel dat dit maar ‘n bietjie grillerig is omdat daar spinnerakke is en jy soms daarin vasloop.

Vertel dat dit spook in die ou plaashuis. Hoekom spook dit? Want iemand was vermoor in die huis, of vir baie lank siek en dit was ‘n jongmeisie net voor haar troue. Dink enige rede uit hoekom dit spook. Vertel wanneer dit spook, altyd met nuwe jaar of Paasnaweek. Het jy al die spook teëgekom?

Vertel van die lekker groot stoep waar naweke omgekuier word. Daar is ‘n lekker braaiplek en julle speel outydse speletjies soos vingerbord, ens.

Vertel van die dik mure waarmee die huis gebou is. Dis gebou van klip wat van die plaas af kom. En die pragtige houtvloere en houtlyste.

Of wat van dat dit jou oupa en ouma se huis is en dat al die kleinkinders altyd in die een groot kamer slaap en hoe julle karjakker as julle daar is, al die niggies en nefies bymekaar.

Wat van die groot ou Kaapse wildevy boom wat in die tuin staan waarin julle klim en klouter en speel?

Dalk is dit ‘n bouval wat jy bespreek. Dan kan jy vertel hoe die dak al af is, en dat dit ‘n besonderse groot huis moes wees. Die groot vensterbanke waarin ‘n mens kan sit. Die akkerhoutvloere en plafonne.

Jy kan regtig enige iets skryf wat jou hart begeer. Beskryf die mense wat in die huis woon. Die hartlikheid. Die tuisgebrane koffie.

Die belangrikste? Geniet dit!

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Musiek in die Bybel

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

Skryf ‘n opstel: Familietroue

Sjoe! Dis ‘n lekker onderwerp!

‘n Familietroue is ‘n lekker ding en ek glo altyd dat familie ‘n troue heeltemal anders beleef as vriende van die bruid en bruidegom. Dis ‘n bymekaarkomslag van mense wat mekaar ‘n leeftyd ken, met ‘n leeftyd se stories agter hulle.

Waar is die troue gehou? Vertel van die plek. Wat het dit spesiaal gemaak? Was dit naby ‘n rivier? Watter tierlantyntjies het die bruid gebring om die troue uniek te maak?

Het julle eers met die kerkdiens daar aangekom, of was dit ‘n hele naweektroue? Naweektroues raak al hoe gewilder waar die hele familie al van die Vrydag af saamkuier. Het julle die Vrydagaand gebraai? Watter lawwighede het tydens die braai gebeur?

Dan kan jy die troue beskryf, of sommer die gaste. Skinder lekker oor die familie, op ‘n mooi manier natuurlik, sonder om iemand af te breek.

Vertel van die komieklike tannie in julle familie wat ook op die troue was. Vertel wat sy hierdie keer al weer aangevang het, en, as jy wil, sommer van haar ander vreemdhede. Is haar hare groen gekleur? Het sy soos ‘n tropiese woud gelyk in haar kleredrag? Het haar hare soos die troukoek gelyk?

En wat van die oom in julle familie waarvoor julle altyd stilletjies glimlag? Vertel hoe hy altyd kiertsregop loop, bokbaardjie en al. Netjies, ernstig. Vertel hoekom hy vir jou vreemd is.

Vertel van jou slim neef wat die hele tyd net vertel van alles wat hy vermag, of die niggie wat heeltyd giggel oor alles. Of wat van die oom wat dieselfde ou afgesaagde grappies vertel as die familie bymekaar kom. Dalk is daar ‘n oom of twee wat ‘n bietjie diep in die bottel kyk, en ‘n tannie wat onophoudelik praat.

By so ‘n familiebyeenkoms kom daar altyd ‘n paar familiegeheime ook uit. Staaltjies wat al oor geslagte heen kom. Skryf daaroor. Vertel van jou oupa wat die draairoomys vir agt persone moes loop haal, stokalleen, en watter fiasko dit was. (Dit is ons familiegrappie, maar ek is seker julle het ook sulke grappies.)

Wat van jou neefs en niggies wat in Australië bly wat spesiaal vir die troue Suid-Afrika toe gekom het. Vertel ‘n bietjie hoe lekker dit was om weer die bande op te tel na al die jare. Hoe julle net nie uitgekuier kon raak nie omdat julle nog altyd maats was.

Watter poetse het julle dalk op die troue vir van die familielede gebak?

Het jy ‘n spesiale takie op die troue gehad? Moes jy help met die versiering van die saal? Was jy die persoon wat hulle rondgestuur het en moes jy net bontstaan? Het jy dit geniet, of was dit vir jou sleg? Wat moes jy alles doen? Moes jy sewentig ballonne opblaas en het jou kop toe gedraai, of moes jy help tafels dek? Of was jy een van die skoonmakers ná die tyd?

Die meeste van alles, geniet dit wat jy skryf. Lees dit oor en vra: Bring dit ‘n glimlag op my gesig? En, wat kan ek verander sodat dit ‘n glimlag op my gesig bring as ek dit lees, want, dan gaan dit ook ‘n glimlag op jou leser se gesig bring.

Vir nog opstelhulp, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Musiek in die Bybel

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie