Skaamkwaad

Skaamkwaad is ‘n lelike ding wat ‘n mens nogal baie raakloop. Jy is eintlik die verkeerde een, maar as daar by jou navraag gedoen word of jy word aangespreek daaroor, raak jy bakleierig en vertoon jouself as die slagoffer. En dit lyk my, jy glo jouself ook dan.

Net vanoggend lees ek ‘n tipiese skaamkwaadstorie in 1 Kronieke 19 raak. Koning Nagas, die koning van die Ammoniete sterf en Dawid voel om aan Ganun, sy seun, welwillendheid te betoon omdat Nagas welwillendheid betoon het teenoor Dawid. Hy stuur boodskappers om meegevoel te betuig. Maar van Ganun se hoë amptenare sien toe iets slegs in hierdie gebaar van Dawid. (Dit ken ons ook – ons goeie bedoelings word negatief beoordeel.) Ganun se manne vat Dawid se amptenare en skeer hulle kaal en sny hulle klere in die helfte af, tot by die sitvlak.

Dawid besef hulle vernedering en beveel hulle om in Jerigo te bly totdat hulle baarde weer gegroei het.

En toe besef die Ammoniete hulle oordeelsfout. En raak skaamkwaad. In plaas daarvan om hulle fout te erken en verskoning te vra, soek hulle hulp by die Arameërs en trek op vir oorlog teen Dawid. Dawid en Joab trek op in verdediging en sê: “Wees dapper en laat ons ons inspan ter wille van ons mense en die dorpe van ons God. En die HERE – wat goed is in Sy oë, sal Hy doen.”

Voor hulle nog kon veg, vlug die Arameërs. Die Ammoniete sien dat die Arameërs vlug, en vlug toe sommer ook en as ek dit reg lees, voor daar nog enigsins geveg is. So die skuldigvoel wat skaamkwaad geword het wat ontaard het in gevegslus sit toe om in lafhartigheid. En ek wonder of dit nie dieselfde lafhartigheid is wat die skaamkwaadsituasie in die eerste plek al aangewakker het nie.

Hulle het toe wel geveg en Dawid het gewen. Dan kom die laaste sin: “Die Arameërs was nie gewillig om weer die Ammoniete te help nie.” … Daar verloor hulle nog bondgenote ook.

Ai, mag ons altyd die moed hê om ons eie aandeel in ‘n fout of misverstand te erken en nie dadelik die fout by die ander persoon te soek nie. Mag ons die moed hê om betyds verskoning te vra en selfs al is dit nie betyds nie, steeds verskoning te vra. Mag ons die moed hê om ander te vergewe, selfs al het hulle ons te ná gekom.

Toortsie