Die omkeer van rolle

Dit is ‘n herhalende proses, die omkeer van rolle. ‘n Proses wat baie spanning en ook skeuring in gesinne kan veroorsaak.

Want die mamma en die pappa is die mamma en die pappa. Wat die leiding neem in die huis. Wat ons kinders grootmaak en opvoed om verantwoordelike volwassenes te word.

En iewers raak ons kinders groot. En raak die verantwoordelike volwassenes, net soos ons gehoop het hulle sal wees.

En dan kan daar botsings kom. Want pappa en mamma moet begin terugstaan en weet dalk nog nie heeltemal hóé nie. En voel dalk gefrustreerd omdat die kinders nie in die ouer-kind verhouding al meer verantwoordelikheid neem nie. Sien die ouers dalk nog nie kans om heeltemal die bal in die kinders se hande te sit nie. Voel hulle dalk bedreig as die kinders sterker na vore kom. Voel hulle selfs of die kinders alles wat hulle doen, kritiseer.

En die kinders voel gefrustreerd. Want hulle raak ouer en voel gereed om leiding te neem, ook in die ouer-kindverhouding. Voel terselfdertyd dat hulle dalk nie hulle ouers genoeg respekteer nie. Voel hulle dalk dat hul ouers hulle nie vertrou nie. Of verstaan nie. Voel hulle of hulle ouers nog nie besef het dat hulle nou ook volwassenes is nie. Of hulle ouers inmeng.

En stadig, maar seker verander die rolle. Kan ouer en kind volwasse vriende raak. Begin ouer al hoe gemakliker terugstaan. Begin kind al hoe meer die leiding neem.

Raak die rolle omgekeer.

Tot op ‘n dag wat die kind die ouer raak en die ouer die kind. Waar die ouer op ‘n kleine hopie in ‘n hospitaalbed lê en die kind oor haar voorkop streel en haar troos.

Toortsie