Saterdaggedagtes oor roetine

Ek is nie so ‘n goeie roetinemens nie, en ek sukkel nog my lewe lank om my roetine in te pas by die ‘algemene’ roetine, want sien, daardie algemene roetine wat almal volg, vra dat jy ‘n oggendmens moet wees. Vroegoggend moet jy opstaan, stiltetyd hou, jou gesin voed, blablabla en teen die tyd wat ék eers wakker word, moes jy omtrent al ‘n dag se werk gedoen het.

Verder is daar nog ‘n sterk mate van te veel belangstellings en dat my aandag maklik spring van die een ding na die ander, wat roetine ook nog beperk. En ek is ‘n ‘goeie vrou’ wat, as my man nóú gehelp wil wees met sy rekenaar, los waarmee ek besig is en hom loop help. Of gou vinnig kos pad toe neem, of wat ook al. Roetine daarmee heen.

Dit laat my dink, ek wonder of daardie klapper nog reg is? Ek sal moet kyk.

En terloops, hoe spel ‘n mens roetine? Lyk my darem ek het dit reg.

Dus, my hele lewe lank, werk dit so: Is ons by die huis, werk my lewe op een manier, ek maak op ‘n sekere manier kos. Is ons by die see, werk alles weer anders. Kuier ons by mense, nóg weer anders. Aanpasbaar, maar elke keer moet die enjin weer van voor af begin.

Ek besef nou dat gesondheid die afgelope 18 maande sedert ons op die dorp woon, agteruitgegaan het. Gesondheid is nie eintlik die regte woord nie, want ek is gesond. Dis net dat ek byvoorbeeld nou al 18 maande sukkel om weer in ‘n roetine te kom wat betref my rugoefeninge. En as ek dit nie doen nie, kreun ek myself in die nag wakker van pyn. En nou pendel ons ook nog en dit foeter dit ook deurmekaar.

Sedert ek in die dorp woon, sukkel ek ook om weer ‘n lekker staproetine te kry. Ek dink al hoe meer dat dit nie die gemaklikste manier is om met die honde te probeer stap in die dorp nie. Elke erf het twee honde, nes ons, dis ‘n geruk en gepluk aan die leiband, dan moet ek vastrap vir wat ek werd is, en dan moet ek trek. Dit lyk nou of dit beter werk as ek eerder op ‘n ander tyd van die dag stap as gewoonlik, dan kan ek sonder die honde stap omdat dit veiliger voel daardie tyd van die dag.

‘n Mens sukkel ook om afstand te stap in die dorp, kom ek agter. Dit was baie makliker op die plaas wat ek sommer net die pad gevat het.

Stadig, maar seker kom dinge in plek. Nou moet ek ‘n bietjie ernstig fokus op my oefenroetine, vir wat dit werd is.

Groetnis

Toortsie