Ek is nou so deurmekaar

Flokit. Nee! Ek praat nie lelik nie! Ek praat in elk geval nie sulke woorde nie. Flokit is ‘n kat! Ek is nou so deur mekaar, dis of my gewone Afrikaanse woorde ook nie reg uitkom nie. Flokit? ‘n Mens spreek dit blykbaar uit as Flookit. Wie noem sy kat Flokit?

Ek moet nou gou maak, hier kom belangrike kuiergaste, ek skep gou vanmiddag se oorskietkos uit en moet nog my stoof skoonmaak en die huis netjies kry ná die kleinkinders hier was, maar regtig. Flokit? Ek mors sommer ‘n klomp sous uit op my spierwit kassies en frons so dat ek tien nuwe plooie bykry. Daai kat met die vreemde naam wat ingevoer is van ‘n land wat ek nie van weet nie, het ‘n hele pandemie veroorsaak. Ag ek bedoel pandemonium. Omdat hy, of sy, wie sal weet, nie Una se hond se boude kon weerstaan nie. Bid jou dit aan! Dit was chaos.

Ek bedoel, ek het nog nooit eers my aan Rebusfontein se diere gesteur nie, ek sukkel net om die Towerinne se name te onthou, en nou het die huisies ook nog van plek verander. Rondgeskuif. Huisnommers is nou skielik iets van die verlede, dit moet name wees. Maar toe kom Flokit en jaag vir Danie, wat Una se hond is, met Una op splinternuwe hemelhoë Takealot wighakke agterna en Woordnoot beland in Una se broodboomwoud, wat toe glad nie broodbome is nie, maar kaktusse wat baie dorings dra. Dis ‘n geraas en ‘n geskree dat hoor en sien vergaan.

Appeltjie wat besig was om appeltert te bak, skrik so groot, die appeltert val plat. Nou is die Suidernuus én die Overberger op ons spoor, want Aalsie en Seegogga het natuurlik dadelik vir hulle laat weet. Koerante! Verslaggewers! Red nou ‘n nasie! En dít terwyl ek keer op keer Appeltjie en Aalsie verwar. Vir wat het hulle sulke eenderse name? Net om my deurmekaar te maak.

Frannie het die hele petalje uit haar toring beskou en só gelag het dat die toring geskud het, ‘n mens sou sweer dis ‘n aardbewing, sewe op die richterskaal, wat dit ook al beteken, en waar die skaal nou ook al is.

Bondels wou dadelik kom help dorings uittrek, maar sy was ongelukkig ‘n bietjie ver. In elk geval, sy giggel blykbaar so dat dit ook nie sou kon help nie. Asof dit nie genoeg is nie, begin Santie, my donkie bulk vir ‘n vale, kompleet asof sy lag. Blommetjie, Kameel se melkkoei, het so groot geskrik, haar melk was toe sommer weg en haar kalfie loop nou al ure en bulk, want sy is dors, maar haar ma se melk wil nie sak nie. Dan praat ek nie eers van Kameel se hond wat nou al vir dae met hangoë en hangore loop en enig rede soek om te tjank nie, hy verlang na haar.

Christa het sommer net daar haar drone uitgestuur om die besigheid af te neem, maar het so gelag, dat sy beheer daaroor verloor het en die drone geval het. Wie gaan nou vir daardie skade betaal? Tannie Frannie? Met die Titanic se skatte? Die een wat ek glo raad sou hê, is Scrapydo, maar sy sit agter slot en grendel in New Zeeland, die grense is toe en sy kan net nie hier uitkom nie. VirgoC stuur die een whattsapp na die ander met raad vir salfies en dinge sodat die doringsplekkies nie ontsteek nie.

Positief en Perdebytjie het dadelik uitgestorm gekom. Amper breek Positief haar bene toe sy struikel en val oor ‘n muurtjie wat nie voorheen daar was nie, alles het mos nou geskuif. Ook die put. Genadiglik gryp Perdebytjie haar net betyds aan haar hemp se nek, anders was sy nog kop eerste by die put ook af. Net toe kom Sonell ook by en kon darem vir Perdebytjie hand bysit.

Maar Flokit? Ek kop nog nie daai een nie.

Toortsie

……….

Niks hiervan is waar nie. Slegs verbeelding van Die Toortsie en saamspeel op Rebusfontein, ons towerdorpie waar die Towerinne hulleself geniet. Kyk hier as jy nog van ons stories wil lees: https://fresh.inlinkz.com/party/0fcde7554a3f4178a5c546ce922ad94e

Ek het nou weer oor die saak gedink

Die naam van my plek. 🤔 Dis ‘n storie, hoor! Ja, ek weet hy het al ‘n naam gekry. Dis nou my Rebusfonteinhuisie waarvan ek praat.

My dorpshuis se naam is Present. En ek hét mos Plesierig gekies vir Rebusfontein. Die Afrikaners is plesierig, dit kan julle glo. Hulle hou van partytjies … Dís waar die fout dan kom! 🙈

My probleem is, ek sukkel om die naam te onthou. Julle weet dit mos! Net soos ek ook nie Alfonso se naam kon onthou nie en nou is hy op pad terug om met Camilla te trou, ewe met ‘n resepteboek onder die arm en ek weet steeds nie wat sy naam is nie!

So, ek het nou só gedink: Kom ons praat sommer net van Toortsie se plek. Sommer net dit. Julle sal mos weet waar my plek is, dan nie? Rebusfontein is mos darem ook nie só groot nie. Dis die huisie met die rooi deur en pot met rooi malvas op die stoep. Die een met die Bali-eend, op pad iewers heen op haar ski’s. Man, daar staan mos ‘n windmeul by die huisie en ‘n ou dikwielfiets, ‘n bycycle wat ek in Namibië gekoop het. Onthou julle?

As julle steeds onseker is, in die kampie wei ‘n donkie en ook Kameel se Blommetjiemelkkoei en haar kalfie! Steeds onseker? Dis die huisie waar die pot met die towerdrankie prut!

Ag, ek weet julle sal dit kry. Maar as jy steeds twyfel, luister of jy nie musiek hoor kom uit ‘n huisie nie. Klavier en kitaarmusiek. Ja! Dis hy! Die kans is natuurlik goed dat ek aan die kuier is by iemand anders, maar as jy hier verbyloop en sien ek is tuis, kom in! Voel welkom! Jy hoef nie eers ‘n afspraak te maak nie. Kom net!

Toortsie van Toortsie se plek op Rebusfontein.

Volg al die Towerinne se skrywes op Inlinkz: https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3

Ek wag vir jou!

Present

Present. Geskenk. Teenwoordig. Ek is teenwoordig. God is teenwoordig. Geskenk vir jou.

Dit was vir my ‘n groot besluit: Moet ons bou, of nie? Wat is die regte ding om te doen? Is dit nie oordadig nie? Wat wil God hê moet ons doen?

Vir lank het ek met God daaroor geworstel. Elke vraag in my hart met Hom bespreek. Gewag op antwoorde van Hom af. Elke moontlik ander opsie oorweeg. Die ontwerp van die huis verander. Na ander huise gekyk. Gedink hoe ons ons bestaande huis kon verander. Wat moet ons maak?

Groot besluite. Die plusse teenoor die minusse opgeweeg.

Die huis was egter al so ver ontwerp. Presies wat ons graag wil hê. Lieflike uitsig. Noordelike front. Koel in die somer. Warm in die winter. Alles wat ons vir ons oudag benodig op een vlak. 100 persent rolstoelvriendelik. Selfs die stort is rolstoelvriendelik. Vir wanneer ons dit mag benodig.

Een nag, tydens my worsteling word ek wakker van ‘n Stem wat vir my sê: “Ek gee dit vir jou. Dis ‘n geskenk.”

Die eerste woorde wat ek die volgende dag toe ons opstaan sê, is: “Ons bou. Dis ‘n geskenk en ‘n geskenk is ‘n geskenk. Ek gaan dit voluit geniet.” Ons hét die bouery geniet, glo dit as jy wil. Elke besluit was ‘n present. Die ligte. Die deure. Die vloere. Die vensters. Die dak. Die kleur. Elke iets ‘n wonderlike geskenk.

My wens? Dat, wanneer iemand in my presenthuis kom kuier, hulle die liefde en gasvryheid daar sal ervaar soos ‘n geskenk. ‘n Present. Dat ons teenwoordig sal wees vir mekaar, vir die persoon. Dat hy voller, meer vervuld daar sal uitstap.

En dis hoe ek oor my Rebusfonteinhuisie ook voel. Die huisie in my verbeelding in ons Towerinne se verbeeldingsdorpie.

Dis wonderlik wat sanitizer doen. Waar ons huisies in een lang straat gestaan het, staan dit nou, nadat dit met Sanitiseerder uitgevee is, bymekaar. Knus. Lekker. Almal bymekaar. Sodat ons lekker kan saamkuier. Met die dorpsmeent in die middel. Lekker!

Rebusfontein se huisie is ook ‘n geskenk. ‘n Present wat Vuurvliegie op 2 Mei vir my gegee het. Nóg ‘n presenthuisie! 🥰

Mag jou kuiers by ons in ons presenthuise altyd soos ‘n present voel.

My prentjie van die Towerinne?

Nie ‘n geslote groep nie. Daar’s altyd plek vir nog. Foto geleen op internet.
Met baie meer as 5. Foto geleen op internet.

Vriendskap is ‘n present van die Here. 😁

Toortsie

Volg al die Towerinne se skrywes op Inlinkz: https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3

Hoofstuk 16 – Nog geheime onthul

Lees hier wat vooraf gebeur het: https://fresh.inlinkz.com/p/3f26291088494dc99c7aa4554a66a313

Stil en verstom sit die Towerinne onder laslapkomberse in die geheime grot en oordink die gebeure van die afgelope tyd. Daar het soveel dinge gebeur en steeds het hulle nie al die antwoorde nie. Hulle eet tiramisu en het elkeen ‘n glasie Frangelico in die hand. Hier en daar spreek een ‘n gedagte uit.

VirgoC en Perdebytjie sit en kyk deur die goed in die trommeltjie. Dan sit Perdebytjie skielik kiertsregop met ‘n ou, vergeelde stuk papier in die hand. ‘Julle, luister net hier!’

Sy begin lees:

Die laaste wil en testament van Joseph Lee Angelwood, gebore 16 Maart 1823 in Londen, Engeland.

Aan my vrou, Sophia Ann Angelwood, gebore Elliot, die huis met inhoud in Londen, asook Ł2 000. Sophia, jy was nooit vir my ‘n vrou of ‘n ma vir ons kinders nie en dit is my wens dat jy Eden onmiddellik sal verlaat en terugkeer na Londen, waar jy altyd wou wees. Die huis in Londen is ten volle toegerus en jy mag slegs jou klere saamneem. Alle juwele moet in Eden agtergelaat word.

Aan my stiefbroer- en suster, Leonard en Isabelle Angelwood elkeen Ł500. Ek verwag ook dat julle onmiddellik Eden sal verlaat. Julle het lank genoeg op ons goedheid staatgemaak terwyl julle eintlik geen reg hier gehad het nie al het julle so opgetree omdat my moeder met julle vader getrou het ná my vader se dood. Isabelle, jou onplesierige geaardheid was onuithoudbaar en jou buite-egtelike verhouding met Karel, Charlotte se broer was afgryslik.

Aan me Berdine Barber Ł200 vir die ontferming oor en versorging van die buite-egtelike dogter van my stiefsuster, Isabelle Angelwood.

Aan ons butler, mnr Hardy en ons kok, mev Marks, elkeen Ł500. Baie dankie vir jare se onbaatsugtige diens. Dit is my wens dat u u dienste sal voortsit sodat my kinders versorg sal wees.

Aan mej Charlotte Hardy, die biologiese moeder van my kinders, die reg om lewenslank in Eden te bly, asook Ł5 000 kontant. Ek gun vir jou ‘n goeie lewe saam met jou kinders tot jou dood.

Dit is my wens dat my kinders, Klara Louise Angelwood en Thomas William Angelwood by hulle biologiese ma in Eden sal bly en versorg word tot op die ouderdom van 21 jaar.

Aan my dogter, Klara Louise Angelwood , die huis en inhoud van Eden. Sy het altyd ‘n goeie verhouding met haar biologiese moeder, Charlotte Hardy, gehad en dit is my wens dat Klara vir Charlotte sal huisves vir solank Charlotte dit mag benodig. Al die juwele wat my vrou, Sophia Ann Angelwood in hierdie huis gebruik het, gaan ook aan Klara.

Aan my seun, Thomas William Angelwood, die huis en inhoud daarvan in Strandstraat, Durban. Wanneer Thomas die ouderdom 21 jaar bereik het, mag hy die huis in Durban permanent bewoon. Tot dan moet die huis steeds vir mej Hardy en die kinders as strandhuis dien.

Die restant van die boedel word gelykop verdeel tussen my twee kinders, Klara en Thomas, soos hierbo genoem.

Geteken: JL Angelwood. 20 Mei 1864.

 

‘’n Baie vermoënde man’, sê Hester. ‘Huise in Eden, Durban en Londen!’

‘Omtrent ‘n interessante boedel’, antwoord Vuurvliegie. ‘Ai, jai jai’

‘Hier is baie mense kwaadgemaak,’ antwoord Scrapy.

‘G’n wonder hier is soveel vermoorde mense nie!’ , sé Seegogga.

‘So, Leonard en Issabelle was nie Joseph se eie broer en suster nie, dís nou interessant’, sê Christa, ‘sou die pa’s broers wees?’

‘Neefs’, antwoord Frannie, ‘ek het nog nie eers kans gehad om te vertel wat die argief opgelewer het nie. Joseph se ma het ná die dood van sy pa, met sy neef getrou. Die neef was ‘n wewenaar en het die twee kinders gehad.’

‘Isabelle het haar aanstellerig gehou en het ‘n moeilike geaardheid gehad. Isabelle en Leonard sou beslis nie van hierdie wending gehou het nie. Ek wonder of hulle geweet het van die testament?’ vra Trommeltjies.

‘Berdine Barber, dis nou nóg ‘n nuwe naam. Isabelle en Karel Hardy se buite-egtelike kind’, sê Woordnoot. ‘Interessant.’

‘Dit klink darem baie na Broodina Barber. Sou hulle nie familie wees nie?’, wonder Bondelsgedagtes.

‘So, Klara erf die huis, maar Charlotte mag lewenslank saam met haar daar aanbly,’ sê Toortsie.

‘Uiteindelik sou die ma verenig wees met haar kinders,’ antwoord Kameel.

‘Mense, hier is steeds nog baie onopgeloste vrae,’ sê Una. ‘Wat is die storie van die armband?’

‘En wie het dan die prente in die tonnel geteken? Was dit Klara, of was die haar boetie?,’ vra Positief.

‘Ek kan verstaan dat die Angelwood broer en suster kwaad sou wees, maar hoekom is Leonard dan ook vermoor?’, vra Perdebytjie.

‘Ek wonder of sommige van die moorde gedoen is sonder dat die testament ter sprake was en die ander later?’, antwoord Virgo.

‘Interessant dat Joseph Isabelle se buite-egtelike verhouding as afgryslik beskryf terwyl hy self agter die deur gestaan het’, sê Kameel.

‘Wat ek steeds nie kan verstaan nie, was hoekom mnr Hardy so nors was?’, vra Toortsie.

Tannie Frannie sal verder vertel.