Hierdie is nou alles Abrie se skuld! Ek kan nie ek kan nie ek kan nie! Ek kyk nie eers na Scrapy se gedigte-uitdaging nie, want ek kan nie! En toe foeter Abrie my kop deurmekaar met sy limeriek oor die lente.
So, in opdrag van Scrapydo:
Skryf ‘n limeriek oor seisoene
van blare en blomme en soene
Van canola wat blom
en kersfees wat kom
Die jaar staan in outannieskoene.
Geïnspireer deur Abrie:
Abrie skryf ‘n limeriek
en ek het dit baie geniet
‘n man met talente
en dít in die lente
wie het dit tog gewiet?
En dan die towerinne, ‘n spesie op hulle eie:
Die towerinne wil graag gaan toer
terwyl die ander jaloers loer
Dis koffers en glase
en mense met klein blase
en ‘n lepel om die pretpot te roer!
Hoe’s daai?
Ek wil sommer hiermee aan my ma eer gee. Sy was ‘n taalkundige. Ons het nie vreeslik gedig nie, maar het baie in idioom gepraat, en soms gerym, sommer vir die lekker. En sou ons ‘per ongeluk’ in ons praat iets rym, sou ons altyd sê: ‘I am a poet and I didn’t know it.’ 🙂
Ai tog, en tipies Toortsie het hier nou ‘n oorwurm ontstaan met die ritme van ‘n limeriek:
te tere te tere te tere
te tere te tere te tere
te terete tam
te terete tam
te tere te tere te tim.
(fluister: toortsie is besig om mal te word, ek vermoed dis die toer wat haar opgewonde maak)
Nee, ek is verkeerd! Daar moet ‘n tere op die end wees, nie ‘n tim nie.
Okay, ek sal onthou.
Te tere te tere …
Ou Toortsie se kind wil loop troue
Met die beste vrou uit die vroue
Sy hart gaan aan bons
En die hele kotiljons
Staan gereed vir die fees vol vertroue.
Te tere te tere te tere … 😱
Toortsie