positief? of negatief?

Alhoewel ek my bes doen om op positiwiteit te konsentreer en daaroor te skryf, het ek ook maar my afdae. Dae waarop ek alles behalwe positief is, dae wat ek kwaad is vir my man, dae wat ek moedeloos is, dae wat ek nie weet watter kant toe nie. Soms voel ek ek loop teen ‘n muur vas. Soms gaan als seepglad, in my huis, lewe, huwelik, met die kinders. Ander dae weer loop als net verkeerd, wil niks werk nie. Is jou beste pogings nie goed genoeg nie.  Voel ek ‘n mislukking. Flop die verhoudings. Lig my huis se dak.

Party dae skryf ek oor positiewe dinge en gee raad omdat dit raad is wat al vir my gewerk het en ek hoop dat dit vir ander kan help. Soms werk my eie raad nie eers vir my nie! Soms wil ek nie luister na my eie raad nie!! Soms skryf ek sommer net vir myself in ‘n poging om my kop skoon te kry, of om weer op positiewe dinge te fokus, of om weer perspektief te kry.

Al wat ek weet is dat ‘n mens kies wat jy skryf, wat jy vir die buitewêreld wil wys. Ek glo dat dit wat ek vir die buitewêreld wys, die waarheid is, maar party dae lyk dinge so anders dat ek amper myself nie ken nie!! Dalk wys ek nie heeltemal ALLES nie, soos ek glo ook julle nie doen nie?

Soms is ek positief omdat ek van nature meer na die positiewe neig, soms het ek ‘n hand nodig om my op te trek, soms is net God oor. Maar steeds kies ek positiwiteit, en mag God my help om altyd by hierdie keuse te bly!!  Mag daar altyd ‘n goue randjie om elke donker wolk wees! – vir my, maar ook vir jou wat hier lees!!

Party dae sleep God my letterlik aan my groottoon om my uit my negatiwiteit te kry.

Is julle ook so? Party dae positief en ander dae foeter dit??

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Advertisements

‘n fluit, ‘n rok en ‘n mannetjie

Die storie oor die fluit, die rok, en die mannetjie gaan oor ‘n klomp menslike krisissies wat sommer in ‘n baie kort tydjie oor my pad gekom het. Krisissies rondom ‘n rok wat nie wil werk nie; ‘n kind se musiek-eksamentye wat net bly bots en waar daar net geen alternatiewe is nie; ‘n fluit wat breek 10 dae voor die eksamen en dis die een vakansiedag op die ander en die persoon wat die fluit kan herstel is met vakansie net mooi tot die dag van die eksamen. Krissise wat dalk in ander mense se oë na onbenullighede lyk, maar vir die persoon met wie dit gebeur, GROOT krisisse is. Wanneer mens op ‘n punt kom van net nie weet watter kant toe nie. Wanneer jy in jou nood net een iets het om te sê, en dit is: “Here, nou sal U moet help asseblief, want ek het geen raad meer nie.” Dis DAN wanneer jy keer op keer jou hande  in verwondering saamslaan omdat die onmoontlike net skielik moontlik raak. DIT het ek die afgelope paar dae keer op keer gesien.

Hoekom is dit so dat als dood goed verloop, totdat die program so ‘n bietjie voller raak? Dan is daar mos ‘n mannetjie wat lekker kry uit die idee om dinge net NOG ‘n bietjie meer deurmekaar te krap. Plaas dat hy iets opbouends kry vir sy hande om te doen! Maar ELKE KEER kom ‘n oplossing. En die mannetjie moet op sy neus kyk omdat sy planne ook maar net nie wil uitwerk nie…

Wat het al hierdie dinge met positiwiteit te doen? ALLES!! Op dag 28 van positiwiteit dink ek aan al die kere wat ek met my rug teen die muur gestaan het en geen uitkomkans gesien het nie. Toe dit menslik onmoontlik was om ‘n oplossing te bring. Die kere wat die oplossing gekom het uit ‘n Ander Oord. Ek hou daarvan om goeie nuus oor te vertel. Of as iemand vir my iets goeds gedoen het, daarvan te vertel. Daarom sal ek nie stil bly as dit so duidelik is dat die oplossing van God af gekom het nie.  Aan Hom al die eer!

Ek daag jou uit om ook vandag te dink aan al die kere wat God vir jou die oplossing gebring het.

POSITIEWE SAAD! DIS WAT DIE VERSKIL MAAK!

Groetnis

Toortsie

Positiwiteit is ‘n keuse

Ja! Positiwiteit is ‘n KEUSE! Dit het ‘n KOPSKUIF nodig! ‘n Wilsbesluit.

Daar het miskien lank gelede iets in jou lewe gebeur wat jy nog altyd met jou saamdra. Jou skouers is al seer van die gewig en hoe langer jy dit met jou saamdra, hoe swaarder word dit. Later voel dit of jy wil knak onder die gewig.

Miskien is dit iemand wat jou baie seergemaak het wat jy nie wil vergewe nie. Miskien het jy amper jou werk verloor, of dalk HET jy jou werk verloor en daarvandaan was dinge net nooit weer dieselfde nie. Jy het dalk in ‘n nuwe werk beland tussen mense van wie jy nie hou nie. Jy hou dalk nie van jou senior nie, om watter rede ook al.

Maar JY en JY ALLEEN het die KEUSE of jy die res van jou lewe daardie pakket met jou gaan saamdra. JY moet besluit of jy die persoon gaan vergewe, of hy dit verdien of nie. Jy het die keuse om te sê: “Tot hier toe en nie verder nie. Ek gaan nie meer toelaat dat slegte dinge in die verlede my hele lewe versuur nie. Ek gaan nie meer onder die wolk van die verlede lewe nie. Van vandag af gaan ek aan my eie toekoms werk, aan my eie voorspoed.”

Want, as jy aanhou toelaat dat die slegte ding jou onderdruk, help jy eintlik dat omstandighede vir jou baie erger is as wat dit behoort te wees.

‘n Positiewe gesindheid maak alles makliker! Neem daardie besluit VANDAG! Hou op kla! Omring jou met positiewe mense! Soek ELKE dag vir minstens EEN positiewe ding wat jy raaksien. Lees en lees jou Bybel met nuwe oë – daar is nie ‘n meer inspirerende boek in die wêreld nie. Kry jou krag by Jesus.

Dis my gebed dat elke persoon in ons land van vandag af sal begin werk aan ‘n positiewe toekoms vir ons almal. Elkeen van ons KAN ‘n verskil maak. Dit maak nie saak hoe GROOT of klein die verskil is nie – maak daardie verskil!! 😀  En gaan lees gou wat sê Jer 29: 11-14!

Nagedagte: Hanteer daardie issues waaraan jy so swaar dra deur ‘n TPM fasiliteerder te raadpleeg. Dis ‘n seker, maklike manier vir ‘n eerste stap tot positiwiteit.

**********************************************************************

Postaday onderwerp:   Who are the three funniest people in the world? Who are the three funniest people you know personally?  Wie is die snaakste mens wat jy ken? O, ek het ‘n vriend daar in Hopetown vir wie ons VREESLIK geniet. Hy laat net NIEMAND met rus met sy sêgoed nie. Totdat ‘n zebra een dag besluit het om vir hom terug te kry vir als wat hy altyd aanvang. Julle wil nie weet wat daardie zebra gedoen het nie!!! 😈

Troutip vir die dag:  Die OPMAAK is sooooo lekker!! 💡

Groetnis

Toortsie

Toorsie sefaceboekblad.

TPM Riversdal en Bredasdorp