Plastiekoorlog

Op een of ander whattsappgroepie het iemand hierdie geplaas:

Internasionale suksesse met die uitfaseer van PLASTIEK:
“Major retailers around the world, such as Iceland Foods, a British supermarket chain, are committing to eliminate the use of plastic packaging completely. Iceland supermarkets has become the first major retailer to commit to eliminate plastic packaging for all own brand products by the end of 2023 to help end the “scourge” of plastic pollution. The retailer said it would be replacing plastic with packaging including paper and pulp trays and paper bags which would be recyclable through domestic waste collections or in-store recycling facilities.
In addition, governments can drive the multitude of interdependent solutions by improving infrastructure and waste management while also encouraging investment in upstream solutions like improved recycling technology, alternative bio-benign materials, and development of product and systems designs that generate less waste.
For instance, the European Commission’s Plastics Strategy, which was unveiled in January 2018, says that by 2030, all plastic packaging on the EU market will be recyclable, while the consumption of single-use plastics will be reduced and the intentional use of microplastics will be restricted.”

Dit klink fantasties! As ek na my weeklikse vullisdrom kyk, staan ek keer op keer verstom oor hoeveel plastiek ek steeds gebruik, selfs al konsentreer ek daarop om minder plastiek te gebruik. Goed, daar is darrm nie meer plastieksakke in nie, maar nog steeds koop ek maar goed wat in plastiek verpak is.

Toe ek hierdie stukkie hierbo lees, kon ek nie anders as om te dink hoe kruidenierswate verpak was in my kinderdae nie. Dis seker omdat ek nou in die argiewe van my brein rondkrap dat ek sulke goed onthou.

Dag vir dag gooi winkels vragte bokse weg, hoekom kan dit nie gebruik word vir die klant nie? Dis ‘n klomp verpakkingsmateriaal wat dan nie onnodig verbruik word nie. Alles gaan so oor hersirkulasie, hersirkuleer ‘n bietjie die bokse ook as die klant daarvoor te vinde is.

Winkels het die bokse waarin hulle voorraad kom, gebruik om die klante se produkte in te verpak. Dit is seker ‘n bietjie moeiliker om so iets in ‘n groot supermark te doen waar alles vinnig gaan as in Ouplaas se winkel waar klante een-een bedien was, maar ek is seker dat as ‘n mens jou kop ‘n bietjie laat gaan hieroor, daar praktiese maniere sal wees om dit toe te pas.

Wat maak die klant dan weer met die leë boks? Hy kan dit dan maar weggooi, net soos wat die winkel dit sou weggooi. Of, hy kan dit gebruik hoe hy wil, of selfs vir die winkel terugbring vir nóg ‘n keer se gebruik as die aanvraag na bokse groot genoeg raak.

Die plan klink nou dalk vergesog en onuitvoerbaar, maar ek dink dit kan tóg werk. Dit het dan 40 jaar gelede goed gewerk, hoekom nie nou meer nie?

Toortsie

Die geveg teen plastiek

Soos reeds in ‘n vorige bloginskrywing genoem, het Country Living in SA my uitgedaag om deel te neem aan Plastiekvrye Julie. Natuurlik kry ek dit nog glad nie reg om plastiekvry te leef nie, maar ek probeer wel.

Die inisiatiewe wat daar is om van gebruikte plastiek ontslae te raak, bv deur ecobricks, is wonderlik. Tog voel ek dat ons eerder daarop moet konsentreer om ons verbruik van plasiek te verminder.

In die vorige bloginskrywing het ek geskryf wat ek reeds doen om plastiek te beveg. Nou skryf ek wat my volgende treetjie tot plastiekvryheid sal wees.

  • Ek wil byvoorbeeld hoor of die skropmiddel wat ek vir my gesig gebruik, plastiekkorreltjies bevat. As dit die geval is, sal ek dit nie meer koop nie. Ek moet ook konsentreer daarop om wanneer ek bv my skoonheidsmiddels of ander goedjies privaat by mense koop, te keer dat hulle nie dit in ‘n sakkie sit nie, dis onnodig.
  • Ek moet weer konsentreer daarop om vir my glasbottels vol water te maak wanneer ons op pad is en nie in die versoeking val om plastiekbottels water te koop nie.
  • Swartsakke en ander sakke in vullesdrommetjies was iets wat ek glad nie op die plaas gebruik het nie. Op die dorp moes ek dit egter doen omdat die sakke weekliks uitgesit moes word vir die munisipaliteit om dit te verwyder. Op die plaas gooi ons dit in ‘n groot oliedrom en dan word dit weggery na die vullisgat toe. Ons munisipaliteit het nou vir almal ‘n groot drom verskaf wat deur die regte lorrie sommer net omgedop word. Ek gaan dus glad nie meer sakke in my vullisdromme sit nie, net die drommetjie daagliks uitgooi in die groot drom en die dromme uitspoel of uitvee met ‘n lap. Elke week beteken dit ‘n hele paar sakke minder!
  • Dalk moet ek weer begin om my eie joghurt te maak, dis gesonder, lekkerder en maak ‘n groot klomp plastiekbakkies minder.
  • Met tyd wil ek weer vir my glasbakkies met deksels aanskaf om kos in te bêre, in plaas van plastiekbakkies.

Nou wag ek in spanning om te hoor wat julle alreeds doen om plastiek minder te maak. O, jy het nie broodsakkies nodig vir skilletjies nie, maak sommer ‘n gat in die grond en gooi jou skille daarin, dis baie beter vir die natuur, jou tuin sal jou beloon daarvoor.

Vertel my, wat doen jy? Wat kan ek by jou leer? Ek daag jou uit: Skryf ‘n blog daaroor en onthou om hierdie bloginskrywing te ‘tag’.

Toortsie

Plastiekvrye Julie

Country Living in South Africa het my uitgedaag tot ‘n plastiekvrye Julie. Sy stel dit baie duidelik dat sy nie verwag dat ons oornag totaal plastiekvry sal raak nie, maar dalk net een stappie vorentoe, want elke bietjie help.

Verlede jaar se plastiekvrye Julie het my beslis op ‘n nuwe spoor gesit en ek is reeds baie meer plastiekbewus as wat ek voor Julie 2018 was. Wat ek dus reeds doen, en ek vertrou die meeste van julle ook, is:

  • Ek gebruik papier- of materiaalwinkelsakke. Vergeet ek my sakke, moet ek maar ‘n nuwe materiaalsak koop. Ek loop ook baie maklik by ‘n winkel uit met die paar goedjies los in my hande en noem aan die kassier dat ek dit doen om die aarde te probeer spaar van plastiek.
  • Ek het vir my gaassakkies gekoop by Crazy store, van die sakkies waarin ‘n mens jou fyn goedjies in die wasmasjien gooi. Hulle ritssluiters is baie swak, maar ek knoop dit sommer. Daarin koop ek dan eerder losmaatgroente, as om reedsverpakte groente te koop. Ongelukkig moet ‘n mens steeds maar baie verpakte goed koop, die plastiek hou net nie op nie!
  • Koop ek bv net een patat of groenpeper, laat plak ek die plakkertjie sommer op die groente self, in plaas daarvan om dit in ‘n sakkie te druk.
  • By die kassier moet ek wakker wees en keer op keer vir die pakker sê dat ek asseblief nie van daardie broodsakkies wil hê nie. Hulle hande gaan soos magnete daarheen en hulle wil al wat ding is eers daarin druk voor dit in ‘n sak gesit word. Ek moet keer op keer sê: ‘Los asb.’
  • Strooitjies, oorstokkies en polistereenkoppies is nie regtig vir my ‘n probleem nie, ek het reeds opgehou om dit te gebruik.
  • Ons het ‘n waterfilter sodat ons nie kanne gefilterde water hoef te koop nie.
  • Sedert ek vyf jaar gelede begin het met Banting, gebruik ek nie meer margarien nie, ook nie kookolie nie, maar slegs botter. Botterbakies en Oliebottels is dus vervang met botterpapier.

Wat beplan ek vir Julie 2019? Ek weet nog nie! Ek hou maar my oë en ore oop om te hoor wat ander doen en begin so stukkie vir stukkie met iets nuuts en hou dan daarmee aan, ek doen dit nie net solank die veldtog aan die gang is nie. Volgende keer sal ek skryf wat ek dink om te doen om meer plastiekvry te leef.

Ek sal bly wees as julle ‘n bietjie raad het om vir my te gee.

Toortsie

Plastiekvry?

Country Living in SA het my geïnspireer om te poog om minder plastiek te gebruik. In haar nuutste bloginskrywing gee sy haar verslag hoe dit met haar in Julie gegaan het. Ek wil haar gelukwens! Ek dink sy het uitstekend gedoen, maar meer nog het sy ook ander mense, soos ek, geïnspireer om na hulle plastiekverbruik te kyk.

Deur te fokus op my plastiekverbruik, het ek besef dat ek dalk nooit heeltemal plastiekvry sal leef nie en ek weet nie of ek my kop daaroor sal breek nie. Hier is ‘n paar veranderinge wat ek wel aangebring het:

Ek probeer om glad nie meer strooitjies te gebruik nie.

Ek het al die lapsakke wat ek oor jare versamel het, bymekaar gemaak en gebruik nou lapsakke as ek gaan inkopies doen. Sou ek my sakke by die huis vergeet, koop ek dan maar papiersakke wat ek ook opvou en by my lapversameling sit vir verdere gebruik.

Baie van die groente wat ek koop, is voorafverpak in plastiek. Maar as ek my vier avo’s koop, sit ek dit nie meer in ‘n sakkie nie, maar los in die trollie. Die groenpeper en patat word ook nie meer in ‘n sakkie gesit nie, die prys word sommer op die item geplak. Sou die dame mik vir ‘n sakkie, keer ek (ek dink ek het een keer vergeet), en verduidelik dan dat ek graag minder plastiek wil gebruik.

Ek het in hierdie maand beddegoed gekoop en ook gevra dat hulle dit nie in ‘n sak moet sit nie, ek het sommer met dit in my hand uitgeloop. Ook klere. Een keer het ek ook daarvan vergeet, maar die ander keer het ek van my eie sakke gebruik.

Ek het nee dankie gesê vir ‘n sakkie vir my velsorgproduk en ook die dame aangemoedig om te vra dat hulle die onnodige verpakking, soos die boksie, minder moet maak.

Waterbotteltjies was ‘n probleem op die langpad, maar ek probeer onthou om my eie glasbotteltjie vol water te tap en met my saam te neem. Ons het ook heelwat 5L (plastiek) kanne wat ons gebruik om drinkwater saam te neem, waar ons ookal gaan, in plaas daarvan om elke keer nuwes te koop.

Ek konsentreer daarop om minder ‘glad wrap’ en enige ander sakkies in my huis te gebruik.

Ag, dis dalk ‘n druppel in die emmer, maar elke druppel help. Met tyd, glo ek, dat deur daarop te konsentreer, jy minder plastiek sal gebruik.

Groete

Toortsie