Ek moet bieg

Ek moet bieg oor Hemelvaartdag. Vir my as Christen is dit een van die wonderlikste dae op die Christelike kalender. Die dag wat Jesus opgevaar het na die hemel. Veertig dae nadat Hy opgestaan het uit die dood. ‘n Dag wat vir my as volgeling van Jesus besondere hoop gee, dat ek ook een dag daardie besondere voorreg mag hê om hemel toe te kan gaan ná my dood, of, as Jesus voor dan terugekom het aarde toe soos Hy beloof het, dán saam met Hom weggeneem kan word.

Hemelvaartdag was al as kind vir my ‘n spesiale dag, dalk om verkeerde redes, dalk om die regte redes. Dit was ‘n vakansiedag en as koshuiskind het dit dan beteken dat ons Woensdagmiddag na skool huis toe is. Vrydagoggend sou my pa ons skool toe neem en vir ons wag as die skool uitkom. ‘n Kort week.

Maar Hemelvaartdag het ook iets ingelei: Pinkster! Ek was mal oor Pinkster. Tien volle aande van Pinksterbidure. Ek weet nie of ek altyd die preke so goed onthou het nie, maar die singery. Tydens Pinksterbidure het ons baie gesing. Hallelujaliedere. Ek het hulle almal uit my kop uit geken. Daar’s ‘n dierbare kruis waar my Heiland bewys die liefde wat Hy vir my het; By die kruis … en so kan ek aangaan.

Selfs vir my as skoolkind wat dalk ander goed geniet het as die preek, was Pinkster ‘n spesiale tyd. Ek het dit nie sommer gemis nie.

Oor jare het die Pinksterbidure minder geraak, miskien net vier of vyf aande in plaas van die volle tien. Soms was ons selfs weg en het ons dit nie bygewoon nie. Tog is Pinkster steeds ‘n besonderse tyd in my lewe, waar ons regtig geestelik groei. Gewoonlik moes ek iewers by ‘n klein saaltjie help met begeleiding op die klavier of kitaar.

Vanjaar sal ons pinksterbidure per Youtube uitsendings kyk as gevolg van die inperking. Dit sal sy eie karakter hê.

Nou my bieg. Sedert Hemelvaartdag nie meer ‘n vakansiedag is nie, het ons, sonder dat ons dit besef, begin vergeet daarvan. Ook ek. Ek onthou nie meer altyd vooraf en stop my dag nie. My lewe gaan net aan. Iewers in die week het ek terloops gehoor dis vandag Hemelvaartdag, maar dit ook nie behoorlik ingeneem nie. Vanoggend, toe ek sien dat iemand daaroor geblog het, slaan dit my met ‘n emmer koue water in die gesig. Dis VANDAG Hemelvaartdag. Het ek dan só afgestomp?

Toortsie

Tannie Martha se jas

In die vorige bloginskrywing noem ek toevallig van onheilighede wat moontlik mag uitgebroei het. Ek skryf ‘n hele blog, maar Seegogga sien net daardie drie woorde raak. Hierdie val in by Sonell se uitdaging vir die week, naamlik, iets in my kinderdae wat vir my lekker was.

Ek het vertel van ons pinksterdienste op Ouplaas. Die ou omies het regs gesit, die ou tannies links. Ons gesin en die ander gesinne het bymekaar gesit. My ma het agter die klavier gesit en my pa was ouderling op daardie tyd, hy het in die voorste bank gesit saam met die diaken.

En ons drie kinders het alleen gesit.

Maar ons was soet. Voorbeeldig. Ons het ons gedra.

Ouboet wou altyd langs die muur sit, en omdat hy die oudste was, het hy eerste keuse gehad.

Middelboet het altyd gewéns hy kan teen die muur sit.

En ek? Nou ja, watter sê het ek nou gehad? Ek het maar gesit waar ek sit. Langs middelboet en stilweg wonder ek nou of dit altyd so ‘n goeie roep was.

Ons het net gesit en begin sing, toe ouboet vir middelboet fluister of hy langs die muur wil sit.

Natuurlik wil hy, en hulle ruil om.

Die res van die aand is daar aanmekaar ‘n geproes.

Want tannie Martha het haar jas oor die sitplek gegooi. (Sy het net agter ons gesit.)

So, toe ouboet gaan sit, besef hy dat hy ongemaklik sit en daarom is hy toe ewe bereid om sitplekke te ruil.

Middelboet sit toe op die jas.

En elke lied sing Ouboet vir Middelboet: ‘Sit jy lekker?’

Die res van die lied sluk hulle lag weg.

Nou, jare later, wonder ek, hoekom het ons nie net ‘n sitplek opgeskuif nie? Daar was tog 5 of 6 stoele in ‘n ry?

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die

paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Skryfsafari: My lekkerste herinnering as kind

Sonell het gesorg vir hierdie lekker uitdaging. Baie dankie daarvoor.

Eintlik is dit ‘n moeilike onderwerp, want wat moet ek kies? Ek het wonderlike kinderjare gehad. Sorgvry. Gelukkig. Die ergste ding wat in my lewe kon gebeur, was as my broers my geterg het, en hoe erg kon dit nou regtig wees?

As koshuiskind was die hoogtepunt van my week natuurlik om naweke huis toe te gaan. Dan moes ek in ‘n naweek alles gedoen kry wat die dorpskinders in ‘n hele week doen. Vir huiswerk was daar nie tyd nie.

Maar wat was vir my die heel lekkerste? Om saam met my pa op die plaas rond te ry? Om by tannies Mags en Willa te gaan kuier? By my ouma op die appelplaas? Of was dit die heel lekkerste as die niggies by ons kom kuier het? Hoe sal ek kan kies?

Een iets wat nou nog by uitstaan, was Pinkstertyd. Ons het op Ouplaas pinksterbidure gehou. Al die boere van daardie ontrek het daar saam pinkster gehou, en as ek dit reg het, word daar steeds pinksterbidure gehou. Daar het tussen 40 en 60 mense gekom.

My ma het die klavier gespeel en vir my was die heel lekkerste die baie liedere wat ons dan gesing het. Hallelujaliedere. Ek het hulle almal geken. Ag, en die mense het getrek as hulle sing, maar dit het nie saak gemaak nie. ‘Bring my die ou-ou tyding’; Strome van seën van bowe’; As Hy weer kom’; Geseënde Jesus, o Heer van my hart’; ‘Daar’s ‘n dierbare kruis’; noem maar op, ek het hulle geken en gesing. En dan was daar baie geleentheid vir gebed en het ons deur ons vingers geloer om te sien wie bid.

Die ou Ouplasers, dis nou hulle wat ouer as my ouers was, het nog die ou gewoonte gehad: Die mans het aan die regterkant van die paadjie gesit en die vroue links. Toe my ouers getroud is, het die gewoonte verval en het die nuwe jonggetroudes almal as mans en vrouens saam gesit.

Oom Johnie (uitgespreek Jônie) was ‘n platjie, ‘n kindervriend, en as ons die keer by hom kon sit, was ons in die sewenee hemel.

As my pa op die kerkraad was, moes hy voor sit en my ma natuurlik agter die klavier, wat ons drie kinders dan alleen in die bank gelaat het. Soms het daar dan ‘n onheiligheudjie of twee uitgebroei, maar darem nie te erg nie.

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die

paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).