Betaal dit vorentoe

In Blogland het ek in my lewe al baie geleer. Ek het van dinge, mense, interessante plekke, hoe ander mense doen en dink, respek vir ander, ag, noem maar op, geleer. Dis ook in Blogland wat ek van die ‘betaal dit vorentoe’-projek geleer het, beter bekend as ‘pay it forward’.

Ons het ook betaal-dit-vorentoe-speletjies in blogland gespeel. Ek sou byvoorbeeld begin deur te sê dat die eerste vyf persone wat in die kommentare reageer, elkeen ‘n geskenk van my deur die pos sal kry. Elkeen van daardie vyf persone moet dit dan ook weer doen en vir vyf ander ietsie met die pos stuur. Jy betaal dus vorentoe en nie terug vir my nie.

Ons het ‘n nuwe, jong, predikant en as ek hom so luister, is hy defnitief ons ‘barmhartigheids’-predikant. Sy preke gaan keer op keer na goeddoen vir ander mense, byvoorbeeld dat ons groentetuine sal aanlê en die oorskot groente by die plaaslike skool afgee vir behoeftige kinders. Gister het hy gepraat oor Dorkas wat vir arm mense boklede gegee het en sodoende vir hulle lewe gegee het.

Hy gee toe vir ons tyd om te dink, wat kan ons doen? Wat is elkeen van ons se roeping?

Verlede Donderdag by die besigheidsvrouesamekoms het ek myself voorgestel dat ek mense help met die Bantingleefstyl en om hulle probleme uit te sorteer, dat ek dit gratis doen as deel van my betaal-dit-vorentoe-projek. Ek help mense en hulle help weer ‘n volgende persoon.

Die bevestiging wat ek Sondag in die kerk gekry het, was juis dit: Doen TPM (Transformation Prayer Ministry. Transformasie Gebedsbediening). Doen dit gratis, solank dit enigsins moontlik is.

Hier is soveel nood in ons dorp. Soveel mense wat hulp nodig het, ‘n oor nodig het, God nodig het. Mense wat ek op my eenvoudige manier dalk kan help om ‘n pakkie swaar gemoed langs die pad neer te sit.

Soos wat ek mense wat vra wat dit kos, uitdaag om vir iemand anders goed te gaan wees, doelbewus goed te wees, op ‘n manier wat vir haar gemaklik is, binne haar bereik of sak, net so daag ek vandag vir jou uit: Begin jou eie betaal-dit-vorentoe-projek. Gaan wees doelbewus goed vir iemand op jou eie manier, en sou dit nodig wees om net so effens ‘n treetjie buite jou gemaksone te moet gee, doen dit. Waag dit.

Ons kán ‘n verskil maak. Elkeen van ons op sy/haar eie manier. Ons moet dit net doen.

Toortsie

Die waarde van kampe

Dit geld seker vir enige kamp: koorkamp, rugbykamp, noem maar op. Daardie ding van ‘n naweek konstruktief op ‘n sekere iets fokus. Jare gelede was ek op ‘n kamp, kan nie onthou watse kamp dit was nie, maar daardie keer het hulle van ons patriotte gemaak soos nooit tevore nie. Ons is die wêreld in SA. Al is ons ‘n klein landjie, gebeur alles wat in die res van die wêreld gebeur, ook hier. Dit was in 1979 toe SA nog ver van die res van die wêreld was. Ek wonder hoeveel ons koppe dalk daardie naweek in ‘n sekere rigting geswaai was …

Waaroor ek eintlik wil skryf, is geestelike kampe. CSV kampe. Kerkkampe. Uitreike. Stranddienste. Huweliksverrykingskampe.

Stranddienste. Vakansiedienswerk. As daar één ding is wat absoluut uitstaan in die vorming van my eie geestelike lewe, is dit stranddienste. My ma het in haar jongdae stranddienste toe gegaan op Kleinmond. Sý het my weer as jong laerskooldogter aangemoedig om dit by te woon op Struisbaai. Die groot keerpunt het gekom toe my niggie in my st 4 jaar die spanma was. Ek het geboer by die stranddienstent, aan die lippe gehang van die studente wat spanlede was. Sonder dat ek besef het, is my lewe gevorm, my paadjie uitgelê in ‘n ietwat ander rigting as wat dit andersins sou wees.

Jaarliks het ek gedurende die Aprilvakansie die ACSV Dogterskampe bygewoon. Sielsveranderend. In my universiteisjare, die eerstejaarskamp en tweedejaarskamp bygewoon wat ons kerk aangebied het.

Soveel jare later volg my kinders in dieselfde voetspore. Hul woon ook die kampe by, gaan op uitreike, hou stranddienste.

Ek dink ek hét al hieroor geskryf, maar dit bly vir my uiters belangrik, ek wil graag nog wéér hieroor skryf. Ek sal nooit uitgepraat kan raak oor die geweldige impak wat dit op my geestelike lewe as jong tiener gehad het nie, oor die verdieping in my geestelike lewe en wat veroorsaak het dat ek steeds meer en meer die regte pad wil stap, dieper wil lees nie. Ek wil veral vir ouers aanraai: Stuur julle kinders op sulke kampe en uitreike. Dis iets waaroor jy nooit spyt sal wees nie. Stuur hulle, maak dit vir hulle moontlik, natuurlik net as hulleself belangstel om te gaan, nie onder dwang nie. Daardie kampkoste is ‘n finansiële belegging in hulle geestelike welvaart, ‘n belegging wat vir jou soveel meer gaan teruggee as wat jy ooit sal besef. Orals word daar sulke kampe aangebied, spits net jou ore en jy sal hoor daarvan. Sommer in Maart/April word Imagine aangebied. Vind asb uit daarvan en stuur jou kind. Dis fantasties. Sielsveranderend. Dalk kan jyself saamgaan as groepleier. Jy sal nie spyt wees nie. Ons land se toekoms is in die hande van die jeug. Kom ons help hulle om die regte pad te loop, om die land in die regte rigting te stuur. Kom ons maak ‘n daadwerklike verskil.

Het jyself nie ‘n tiener om te stuur nie? Borg dan iemand. Daar is soveel pragtige jongmense met soveel potensiaal wat nie die fondse het om dit by te woon nie. Maak dit vir hulle moontlik deur jou borgskap.

Pay it forward.

Groete
Toortsie

Geskenkie vir 2012

Amoré Bekker van RSG promofeer vreeslik die idee dat ons die tolgeld vir die kar agter ons moet betaal. Maar hier by ons is mos nie eintlik tolhekke nie… Eintlik het Son al verlede jaar iets soortgelyks begin en ek het heerlik saamgespeel. Die pakkie-in-die-pos-projek het heel interessant uitgedraai. 4 Mense het by my gereageer, en vir hulle is elkeen 10 stukkies beskuit gestuur. Party is met die hand afgelewer, ander per pos. Een van die pakkies het teruggekom omdat die ontvanger aan die ander kant ‘n bietjie te lank gedraai het. Wel, ek was BAIE BLY, want my beskuit was toe JUIS op!! 😆

Ekself het ook ‘n hele paar presentjies gekry… ‘n pragtige raam en ‘n seksboek 😯 en toe ek al lankal vergeet het van die speletjie, het iemand vir my die heerlikste gehekelde bedsokkies gestuur!! Die laaste geskenkie het weggeraak in die pos 😦 maar gelukkig is dit e-posbaar, en is dit toe sommer vir my via die internet gestuur!! ❗ … die pragtigste kalender!! 🙂

Kom ons speel voort!! Ek volg maar weer die ou patroon. Die eerste 5 (vyf) persone wat op hierdie skrywe reageer, sal ‘n geskenkie van my af kry. As jy naby genoeg is, kan ek dit aflewer, anders sal dit per pos gestuur word. So, onthou, jy sal dit by die posbus moet gaan afhaal!! 😳  MAAAAAARRRRRRRRR daar is ‘n stertjie aan!!! 🙄   As jy jou naam hier onder die eerste 5 gelys wil hê, moet jy dieselfde doen! Jy moet ook weer vir 5 ander ‘n geskenkie gee!! 🙂   (Verkieslik iets wat jy self gemaak het!! ) :mrgreen: As jy ‘n blog het, doen jy dit op jou blog, anders op facebook, of, … maak ‘n plan!!  Onthou, jy moet jou naam by die KOMMENTAAR skryf, ek sal aan jou ‘n epos stuur om jou posadres te kry.

Nou toe!! Kom ons kyk wie gaan dit wees!!!  Lekker speel!!

Toortsie