My dorp

Toe ek my oë vanoggend oopmaak, sien ek die silo’s. Soos ek dit elke oggend sien. Die ou bekende silo’s en ek het so ‘n rustigheidjie in my hart: Dis my dorp. Ons silo’s. Die silo’s wat ek al van kinderjare af ken.

Eers was dit net die ou silo’s, ‘n paar buise, wat gebou is al voor my geboorte. Later het nog ‘n paar vetteres bygekom. Later nóg en nóg. Deesdae ook lang, wit silosakke om graan in te berg, maar dit bly ons silo’s.

Ons dorp het nie eintlik vreeslik baie hoë geboue nie. Eintlik net die silo’s en die kerk, maar ek kan nie die kerk vanuit ons huis sien nie. Ek kan tog soms sy klok hoor en dit is een van die mooiste klanke. Kleintyd as ons by my ouma geslaap het, het ek al saans vir die klok lê en luister. Elke kwartier ‘n ander deuntjie. Ook in my koshuisdae. Jy weet dit is kwart oor, kwart voor of half, maar jy weet nie watter kwart oor, kwart voor of half nie, tot die uurklok lui en jy dan die slae kan tel. Dis dinge wat my rustig maak. Dinge wat my laat voel dat ek behoort. Tog is die kerk vir my ‘n baken, nie net ‘n lewensbaken waar ek my Geestelike lewe voed nie, maar ook ‘n baken as ek in die dorp beweeg.

Soos ons berg. Nou nie dat dit die hoogste berg is nie, maar ek ken ons berg. Sy vorm. Hy was nog altyd hier. Het nie geskuif nie. Net so, Swellendam se berg wat ek die meeste dae kan sien. Ek het hom vir soveel jare uit ons plaashuis kon sien, nou, op ‘n helder dag, kan ek hom steeds sien.

Dan, die distrik. Die bekendheid van hom wat in my lewe ingegraveer is. Die graanlande. Nou is dit vaal en droog, maar kom ‘n goeie dag se reën en alles verander. Dankbare wêreld. Na-aan-die-aarde mense. Eerlike mense wat dalk vir jou reguit iets gaan sê.

En saans as dit donker is en die hele dorp se liggies brand, sien ek hoe groot ons dorp regtig geword het. Vir meer as vyftig jaar het ek gedink dat die silo’s aan die kant van die dorp is. Nou het ek geleer dat dit eerder amper aan die ander kant van die dorp is en dat daar nog ‘n groot stuk dorp anderkant hom lê.

Ek is lief vir my dorp en distrik. Ek is lief vir sy mense. En elke mens op ons dorp, in ons distrik, wie dit ook al is, is ons dorp se mense. Hulle lê my ná aan die hart, selfs al ken ek hulle nie almal nie. Hulle is vir my kosbaar. Want hulle is deel van hierdie dorp, hierdie gemeenskap, waarvan ek ook deel is.

Mense wat inspireer

Mense wat inspireer, is my inspirasie. Mense wat die ekstra myl loop sonder dat hulle gevra word. Sonder dat hulle betaal word. Sommer net omdat hulle wil. Mense wat daardie klein verskilletjies maak daar waar hulle is met wat hulle het. Mense wat saakmaak. Wat omgee.

Soos die mense wat klippies verf en wegsteek sodat ander daaruit genot kan kry. Of mense wat beertjies brei vir kinderhospitale. Wat poppe uitdeel in die altzheimersafdeling.

Mense wat bakkies vol hoop volmaak en uitdeel. Roomysbakke, joghurtbakke, die plastiekbakkies waarin groente verpak is, botterbakkies. Gevul met iets lekkers. Dalk ‘n vrug, ‘n tamatie, ‘n botteltjie vissmeer, ‘n rolletjie lewerpatee, ‘n malvalekker of twee, stokkielekker, ‘n sappie, suurwurms, los lekkers, fizzers en daar waar die Gees jou lei dit in iemand se hande sit. Dalk die man wat op pad terug is na ‘n dag se werk, ‘n bakkie bederf om by die huis aan te bring. Of dalk vir die mamma met die baba op die rug en nog ‘n kleintjie aan die hand wat dalk nie weet hoe sy vanaand al die magies gaan vul nie. Of dalk die vriendelike besemverkoper op die hoek? En wat van ‘n mooi hoopvolle briefie ook in? Jesus is lief vir jou. Of wat jy ookal wil skryf.

Elmae Rabie is so ‘n vrou. Een wat die ekstra myl loop. Sy is juis bekend daarvoor dat sy die ekstra myl loop vir diere wat nie vir hulleself kan sorg nie. Vanoggend het sy op facebook ‘n plasing: Die plantetafel sal weer vandag voor haar erf beskikbaar wees. Kom haal vir jou ‘n vetplantjie. Verniet. Met liefde gegee.

Is dit nie kosbaar nie?

Toortsie

die platteland…

Ek het net hierdie week weer gedink: Ons woon in ‘n wonderlike deel van die land. 🙂 Ja, ons maak dalk nie so baie geld soos hulle in die noorde nie.  Ons Kapenaars het dalk ook nie eintlik bogrond nie, ook nie ondergrond nie, maar wel agtergrond, aldus Hendrik Schoeman. Ons praat ook maar erg Kaaps. Maar ek is SOOOOO gelukkig hier. Hier wil ek bly. En ek hoop my kinders en kleinkinders kan ook nog hulle lewe lank hier bly.

My goeie gedagtes is gisteraand bevestig toe hier ‘n jongman in ons huis kom en ek vra hoe dit gaan. Lag-lag sê hy: “Tannie, as mens in ons dorp woon, mag jy mos nie kla nie.” Hy vertel van iemand van die Vrystaat wat hier gekom het en vir hom gesê het ons woon in die paradys.

Ag, wat ek nou vertel gebeur seker by julle ook, en dan is ek baie bly daaroor. Net om julle ‘n idee te gee waarvan ek praat.

Ons was Saterdag by ons see-huis en ek gaan gou na die hardewarewinkel om ‘n Yale Lock te koop. ‘n Vriendelike man help my en ek vra hom of hy nie van iemand weet wat dit vir my kan insit nie. “Mevrou, ek sal.”  Toe hy daar is, onthou ons van die hekkie wat stukkend is en die knip wat afgeroes is. (Onthou, die seelug vreet alles op!) Hy sal sommer in die week kom kyk wat nodig is, die nodige goed koop en dit kom opsit.

Daar is egter ‘n klein probleempie met sy lopery op die erf. Ja, selfs by ons gebeur dit nou dat mense jou huis leegdra terwyl jy in hom is. So daar is ogies aan die buitekant ook, wat die hekkieman dan sal aktiveer. Geen probleem! Ek epos die sekuriteitsmaatskappy en hulle sal met graagte weer die alarm gaan regstel as hy klaar is.

Woensdag loop ek toevallig die man raak wat altyd my blindings doen. In ons dorp. Sommer net daar gee ek vir hom die sleutel van ons huis, verduidelik waar ‘n blinding moet opkom, en siedaar!

Ek het ‘n probleem met die wasmasjien gehad. Dit was net ‘n oproep ver. Die elektrisiën het die sleutel gaan optel, die masjien gaan haal, reggemaak en gaan terugsit.

So kan ek aangaan. Die hekkie wat nou stukkend is en die heining, is jare gelede deur ‘n vriend opgesit. Hy het sommer die goed gaan kry by die winkel, en toe ons daar kom, was dit opgesit.

Dis platteland. So lekker en maklik!

plattelands, nie platvloers Toorts

Pure plaas

Vanoggend lyk my geselskap by die wasgoedlyn só:

2013-11-06 09.27.58

Is hulle nie pragtig nie? ‘n Klompie jong versies saam met ‘n jong bulletjie… 🙂 O, hulle is nuuskierig! As ‘n mens net daar naby beweeg, kom kyk hulle wat aangaan. As ek met die hond stap, en ek stap verby ‘n land waar hulle wei, kom kyk hulle ook dadelik, en volg ons tot waar hulle nie meer kan nie. Ek dink natuurlik die hond het ook ‘n groot aantrekkingskrag.

Van Sondag af het die son lekker geskyn ná die reën, so ons kan darem weer begin oes. Die graan was Maandag maar nog natterig. Gistermiddag 2 nm toe ek op die land was, was dit so 14%. In die halfuur het dit mooi afgekom tot 12.5%. Die Koöperasie ontvang graan wat nie té nat is nie, maar dan moet ons natuurlik die drogingskoste self betaal.

Van kostes gepraat:  Ek het nou die dag gelees dat die boer die enigste persoon is wat sy goed kleinhandel aankoop, maar groothandel verkoop, en nog die vervoerkoste en enige ander koste daaromtrent moet betaal. Gister het ‘n Natalse boer gesê hy kry R3.60 per liter melk, en julle weet wat julle daarvoor in die winkel betaal!! Die boer betaal ook vir die vervoerkoste vanaf die stal tot die fabriek. Sommer net ter interessantheid.

Hier is ‘n paar foto’s wat ek gister geneem het toe ons gars ge-oes het. Ag, dit lyk seker baie soos toe ons canola ge-oes het, maar ek plaas dit sommer vir interessantheid. Canola se stoppels is klipharde stokke, ek kry behoorlik seer vir die kar as ek so deur die land ry. Dit klink ERG!  As jy dit waag om in ‘n canola oesland te stap, moet jy weet jou bene is vol stukkende krapmerke. 😦   Daarteenoor is garsstoppels baie sagter en jy kan met gemak met plakkies daardeur loop, selfs oor ‘n ry uitgedorste strooi stap sonder om seer te kry.

As julle mooi na die graanrye kyk, sal julle 2 rye styf langs mekaar sien. Dit word doelbewus so gesny dat 2 platsnyer rye opmekaar gegooi word, sodat die stroper se volle kapasiteit benut kan word.  Graan word “in die ry” afgetap uit die stroper. Wat ek daarmee bedoel, is dat die stroper nie stop wanneer hy vol is nie. Die trekker met vangwa kom trek eenvoudig langs die stroper in en so in die oes, in die beweging, word die stroper leeggepomp. Die trekker neem dan weer die graan na die massawa. Dis ‘n groot, stilstaande wa waarin die graan gehou word totdat dit oorgepomp word in die vragmotor wat dit na die silo’s toe neem. Eers as jy die graanbriefie in die hand het, is die vrag afgelewer en afgehandel. Voor dit kan daar nog enige iets met dit gebeur. (Ek het al ‘n lorrie omgeval sien lê meters van die aflaaiput by die koöperasie af.)

Het jy al in ‘n stroper gery? Kry die gevoel met hierdie video.

http://www.youtube.com/watch?v=nsY4NbkVo8M&feature=youtu.be

Groete

boervroutoorts

Onthou….. Landbou voed u!! 🙂 Ons doen dit met GRAAGTE en met LIEFDE. Dis ons passie. 🙂

Mooi dag!!

Hoe gaan dit met die oes?

Ek het mos vir julle vertel van die klomp reën wat ons vroeg in die oestyd gekry het. Wel, wat ‘n interessante jaar! Eers hou die reën aan en aan en aan…. en toe ons uiteindelik dink nou gaan dit ophou, bly dit koud en bewolk en dan reën dit weer…. of dis ‘n koue, nat wind wat waai, nie een wat afdroog nie.

Toe die son uiteindelik skyn, breek ons stroper op ‘n manier wat John Deere nog nooit ‘n breuk gehad het nie. Genadiglik kon hulle vinnig die regte part in die hande kry en die stroper vinnig herstel.

Dis ‘n jaar van wonderwerke!! In die verlede het dit so gewerk: As hulle slegs een uitgeloopte pit in die gars kry, word die hele vrag afgekeur. Vanjaar laat hulle tog ‘n sekere persentasie uitloop toe. Ek het nog nooit in my lewe gesien dat graan in die rye begin groei nie (net hier en daar) en dat lusern hoër as die graan groei nie (ook net hier en daar).  Ons beleef opbrengste soos ons nog nooit gesien het nie, of dit nou voer is of mout, dis baie. Prys die Heer. So baie om voor dankbaar te wees.

As gevolg van die vreemde weersomstandighede, en almal se goed wat skielik gelyk ryp is,  is die koöperasies se hande maar vol. Hulle kan net soveel nat graan ontvang…

Maar ons oes. Wat ‘n genade. Op ‘n stadium het ek gewonder of hierdie fantastiese oes voor ons oë op die land gaan vergaan….  Ons het gesien hoe vinnig dinge kan verkeerd loop….

Hier is ‘n paar foto’s van vanjaar se oestery. Graan word in die ry, terwyl dit ge-oes word, afgetap. Die ekstra stroper is ‘n kontrakteur wat ons help.

Here baie dankie vir elke wonderwerk wat ons daagliks ervaar. Dit kon soveel erger wees!! “Wat ek is, is net genade, wat ek het is net geleen. Eindelik smag ek na U waters van rus, lei my, Heer, vanaand daarheen…”

en so lyk dit in die nag…..

Dankie Here dat ons werkers elke dag op hulle pos was en hulle kant gebring het. Dankie vir ‘n FANTASTIESE oes. Dankie dat ons weer eens U grootheid kon ervaar, wonderwerke kon beleef soos nog nooit tevore nie. Here, seën ons land asb. Daar is soveel mense wat dit probeer onregeerbaar maak, wat dit moeilik maak om ons werk te doen. Mag elke Christen in ons land u begin ernstig opneem en ons roeping begin uitleef.

Toorts