‘n Aand by die opera

Van kleintyd af is ‘n aand in die operahuis vir my iets uit ‘n ander wêreld. Dit moet ‘n operette of musiekblyspel of so iets wees, nie regtig opera nie. Ek hou van die uitstekende musiek, die storie, die sang, die dans, die dekor, alles wat daarmee saamgaan, die vloer wat draai, die goed wat uit die dak kom, wat nog alles, die hele belewenis.

Maar ek het nou ‘n beperking: Ek raak doof en kan sekere klanke nie meer goed onderskei nie. Dit raak ook vir my moeilik om ‘n fliek te kyk en veral in die begin mis ek baie van die dialoog. Dis of my ore tog ietwat aanpas met tyd.

Ons het Matilda in die Artscape gaan kyk en wanneer hulle lang stukke praat, kon ek dit nie volg nie. Veral Matilda het ek moeilik gehoor. Dit het my laat wonder of my tyd om die opera te geniet, ook nou verby is?

Maar nee, dit is beslis nog nie verby nie.

Alhoewel ek dalk baie belangrike stories gemis het, kon ek steeds die storie volg, kon ek steeds die uitstekende musiek, die dekor en wat nog alles daarmee saamgaan, geniet. Kon ek en my dogter steeds die gedeelde liefde saambeleef. Daar is nog genoeg wat ek kan geniet om dit een honderd persent die moeite werd te maak.

Mag hierdie voorreg vir nog ‘n hele paar jaar vir my beskore wees.

Toortsie

Matilda was fantasties!

Advertisements