As daar ‘n boek was wat ons geweldig baie gehelp het, is dit die boek, Waag dit om lief te hê. Die 40-dae uitdaging.

Hierdie boek is gebaseer op die Christelike fliek, Fireproof, ‘n fliek wat ek regtig vir elke getroude paar wil aanbeveel om te kyk. Ook War Room. Die fliek is reeds ‘n paar jaar gelede uitgegee, dit sal seker op die internet beskikbaar wees.
Verhoudings is in die duiwel se visier, hy maak dit sy prioriteit om verhoudings moeilik te maak en om ‘n verhoudng te laat werk, moet ons eerstens God se hulp inroep, maar ook hard daaraan werk. Ons almal begeer tog ‘n gelukkige huis, of hoe? Ons kan mos nie ons lewe lank bly vat en los en vlug sodra dinge nie reg loop nie? Dis juis deur te werk aan jou huwelik, deur vas te hou in swaarkrytye, wat jy ook die goeie daarvan ervaar en nuwe dimensies van liefde ervaar omdat jou verhouding verdiep. Die beloning is groot as jy bereid is om vas te byt en jou deel te doen.
In die boek, Om lief te hê ten spyte van seerkry, praat van die spelonk van getroudes. Dit is die graf wat Abraham vir Sara gekoop het en waarin die aartsvaders begrawe is, almal getroude pare. Hy noem ‘n belangrike ding, dat, om in die spelonk vir getroude pare begrawe te kan word, huwelikspare deur goeie én slegte tye bymekaar moet bly. Elke huwelik kry sy goeie én sy swaar tye en as ons die swaar tye deurleef, is die goeie tye daarná net soveel beter. Hierdie boek is beslis ook ‘n boek om te lees en te herlees.

Waarvan ek baie van Waag dit gehou het, was dat dit oor veertig dae elke dag iets in die huwelik aangespreek het. Sonder versuim het hy elke dag goeie raad gedeel, maar ook op iets gewys wat die dames graag doen wat die huwelik benadeel en wat die mans ook doen wat nadelig is vir die huwelik. Aan die einde van die hoofstuk is daar ‘n uitdaging om te doen in die volgende 24 uur, soos byvoorbeeld om nie een negatiewe ding vir of oor jou maat te sê nie.
Hier is ‘n opsomming van die uitdagings wat ek hier raakgeloop het: http://www.shenzhoufellowship.org/main2/files/old/SpecialTopics/TheLoveDare.pdf




Dalk het jy lus om die uitdaging vir veertig dae te aanvaar? Geen huwelik kan onaangeraak bly as daar vir veertig dae daadwerklik en positief daaraan gewerk word nie, of hoe? Kom ons maak weer ons huwelike goeie huwelike en ons goeie huwelike uitstekend.
Waag dit!
Love Dare Uitdaging 1: Vandag sê ons niks negatiefs vir of van ons geliefde nie.
Toortsie
Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.