In ‘n stukkende wêreld

In ‘n stukkende wêreld waar soveel misverstande is, waar die duiwel rondloop soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind, waar mense onbedoeld foute maak, waar mense seerkry, waar mense op tone trap, selfs al wil jy nie, waar vriendskappe seerkry, families opbreek, waar mense in moeilike omstandighede leef, waar mense verslaaf raak aan allerhande dinge, waar ons gedwing word om kompromië te maak, waar …

glo ek aan tweede kanse, aan weer probeer, aan selfondersoek doen, aan sê dat ek jammer is, opreg jammer is, aan vergifnis, aan heelmaak.

Want ek glo, nes daardie skaakspeler wat eintlik in skaakmat is, met God se hulp hy nog ‘n skuif het. Ek glo daaraan dat ‘n kledingstuk wat stukkend is, heelgemaak kan word. Ek hou van die Japannese idee dat ‘n porseleinstuk wat in stukke gebreek word met goud herstel kan word. Ja, die krake sal altyd daar wees, maar die goud kan jou herinner daaraan hoe kosbaar jy is, hoe breekbaar jy is, hoe maklik ‘n fout kom, maar dat jou verhouding belangrik is.

In die TPM (Transformation Prayer Ministry) spreekkamer sien ek wonders gebeur. Sien ek hoe mense ander vergewe, hulleself vergewe, leuens wat hulle hulle lewe lank glo en wat hulle dalk anders laat optree, laat gaan. In die TPM-kamer sien ek hoe mense verligting kry. Kry ek ook verligting as God ook aan my waarhede uitwys. Want ook ek gaan ondersoek my emosies as ek erg ontsteld was oor iets, só erg dat ek in ‘n oomblik van swakheid myself verloor, anders optree as wat ek graag wou.

Ek kom uit ‘n era waar dinge heelgemaak is. Nie sommer net weggegooi is nie. Daarom sal ek, selfs al verloor ek soms moed, selfs al verloor ek myself soms, selfs al tree ek dalk self onvergeeflik op, selfs al lyk dit menslik heeltemal onmoontlik, maar sal ek altyd weer en weer en nog ‘n hele paar keer aanhou probeer. Ja, soms is iets sekerlik onherstelbaar vernietig, dit aanvaar ek, maar soveel keer word iets weggegooi wat eintlik nog herstel kan word, weer mooi kan word, selfs beter kan word as wat dit vooraf was. Soveel keer mis mense mekaar die res van hulle lewens, verlang hulle na mekaar, want hulle was goed vir mekaar, behalwe daardie een verskriklike misverstand wat eintlik regtig herstel kan word, kon hulle mekaar weer iewers vind en weer die vreugde van hulle saamwees geniet.

Nuwe Nuut. Want in die proses van seerkry het ons van onsself en ook van mekaar geleer. Het ons hopelik ook nader aan God beweeg. Het ons gegroei. Het daar hopelik van die onsuiwerhede wat nog in ons was, na vore gekom en kon ons daarvan werk maak.

Ek glo aan ‘n God vir wie niks onmoontlik is nie. ‘n God wat Almagtig is. Liefdevol is. Wat baie meer kan doen as wat ek kan dink of droom.

Toortsie

‘n Nuwe begin

Woordennoot vra dat ons blogs moet skryf oor ‘n nuwe begin, en dadelik is ek opgewonde, want dis juis dít wat my gedagtes nou al dae lank besig hou.

So ‘n paar dae gelede is my bidboek volgeskryf. Die eerste inskrywing daarin is gedoen kort nadat ‘n baie erge ding my oorgekom het. Die krisis was op sy hoogste. Daar was geen vooruitsigte vir beterskap nie. Ek het nie geweet wát om te doen en waarheen om te gaan nie, behalwe om net by my Here te skuil nie.

In hierdie boek het ek baie pyn en smeking en moedeloosheid voor God se voete gelê. In die tyd wat ek in hierdie boek geskryf het, het nóg groot dinge met ons gebeur. Slegte dinge. Traumatiese dinge. Lewensveranderende dinge.

Genadiglik het daar ook baie mooi dinge gebeur en kon ek God se Hand duidelik sien, Sy beskerming, Sy daarwees. Sy betrokkenheid by ons alledaagse lewe. Ons was nie alleen nie.

Die boek is volgeskryf met twee jaar se diep gesprekke met God. My vrese, my vrae, my vreugdes. Simbolies was dit die einde van ‘n seisoen.

Ek kom dit agter in myself, my omstandighede, my lewensuitkyk. Ons staan aan die begin van ‘n nuwe, opwindende seisoen. ‘n Seisoen wat beslis ook sy uitdagings gaan hê, maar ook vol verrassings gaan wees.

My tone tintel, my oë blink, want hier kom groot dinge! Ek staan in afwagting om te sien wat God vir ons beplan het. ‘n Nuwe nuut. Nuwe horisonne. Nuwe uitdagings. Nuwe vooruitsigte.

Mag daar ook vir jóú nuwe seisoene wees, mooi seisoene, tye wat vir jou goed is. Mag jy God se genade en nabyheid ervaar wanneer dinge nie loop soos jy dit graag sou wou hê nie. Mag jy ook ‘n nuwe nuut ervaar as dinge sleg was.

Mooi loop!

Toortsie

Woordennoot, ek weet nie of hierdie aan die kriteria voldoen nie, maar as jy dit wil gebruik, is jy welkom. Indien nie, is dit ook reg. 😁

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Quest – Soektog

The daily post: Quest. Sorry, I prefer words. 

(Al ‘n hele ruk terug geskryf)

Soeke na Nuwe Nuut.

Nuwe Nuut is die term wat gebruik word as jy groot verlies gely het, waar die oue verby is en jy ‘n nuwe nuut moet skep. Dis baie mooi woorde, maar geensins maklik nie.

Sonder om op die besonderhede in te gaan, ek moes ‘n nuwe nuut skep. Ek het ‘n geweldige verlies gehad. In my lewe moes ek al by baie dinge aanpas, baiekeer ‘n ‘nuwe nuut’ skep, baiekeer onverstaanbare dinge verwerk. Party keer was dit makliker, ander keer baie moeilik. Hierdie keer was dit erg. Baie erg. 

Soos wat die slim mense sê, is ek deur al die emosies: hartseer, pyn, magteloosheid, woede, lus vir baklei, huil, vloek, nuwe foute maak, terwyl die dinge oor en oor en oor in my kop maal, van vanoggend wat ek wakker word tot vanaand as ek gaan slaap, en in die nag droom ek ook nog daaroor.

Ek het baie hieroor geskryf, party van die bloginskrywings is gepubliseer, ander is uitgevee. Vriende het my deurgedra, God het my deurgesleep, en om elke hoek en draai het ‘n veer gelê waarmee God vir my gesê het, “Ek beskerm jou.”

Ek moes bid dat God my gedagtes in toom hou, herhaaldelik bid dat ek nie 24 uur van die dag daaraan dink nie, dat ek nie tob en tob en tob nie, dat ek probeer om net vir een dag op iets positiefs sal konsentreer. Dit het my gehelp toe ons sommer net vir ‘n paar dae ‘n draai gaan ry het, om net ‘n bietjie uit die omstandighede te kom. 

Ek het mense om my nodig gehad, my mense, mense wat my liefhet, mense wat vir my wys dat dit vir hulle lekker is om in my geselskap te wees. Ek was totaal verward omdat dit wat ek nog altyd geglo het, soos ek opgevoed is, soos ek steeds elke dag in my Bybel lees hoe ek moet doen, skielik nie ‘reg’ was nie.

In my soeke na nuwe nuut moes ek myself weer vind, moes ek weer my menswaardigheid vind, moes ek weer leer dat dit soos wat ek dit geleer het, wie ek is, reg is vir my, dat dit is hoe God my gemaak het en ek net voluit ék moet wees. 

Een dag, toe ek Stellenbosch toe ry en vir die kleurlinge wat agterop ‘n bakkie sit, vrolik waai, weer oogkontak maak met vreemde kinders, het die tred in my stap ligter begin word. Toe ek weer heeldag loop en sing, sommer by my klavier gaan sit en speel, vir myself in die spieël glimlag, toe ek weer in die dorp begin loop met ‘n glimlag op my gesig, het daar lig in die tonnel gekom. Toe ek vir hulle wat my seergemaak het, kon begin bid, kon seën in my gebede, kon begin verstaan van die pyn wat hulle dalk al vir jare met hul saamdra, kon daar vir my genesing begin kom. 

Ek is dalk nog nie heeltemal ‘daar’ nie, die emosies ry nog soms wipplank, maar ek weet ek is op pad na ‘n nuwe nuut, en dít maak my opgewonde! God het Groot Planne!

Daar’s altyd hoop, ook vir JOU wat dalk trauma beleef.  Altyd. Aan God al die eer.

Toortsie

Hoekom skryf ek hierdie uiters privaatgoed daar waar die hele wêreld dit kan lees? Omdat ons almal deur moeilike tye gaan. Omdat, as iemand anders wat trauma beleef, hier lees, dit dalk vir daardie persoon moed gee om te besef dat sy/hy nie al een is wat swaar kry nie. Omdat ek die hoop wat daar in Jesus is, wil verkondig.  Omdat ek wil sê dat ek nie verhewe is bo swaarkry nie. Liewe vriend, liewe vriendin, God wil jou graag help. Regtig. Hy wil jou hand vat en jou deur jou swaarkry help. Hy wil jou help om sterker anderkant uit te kom  

Nuwe Nuut

“Nuwe nuut” is ‘n woord wat ek ‘n paar jaar gelede geleer het toe ek die Christelike Nood- en Traumaberadingskursus gedoen het by die Hugenote Bybelinstituut. Dis ‘n woord waarvoor ek regtig lief is.

Waar die woord in die kursus gebruik word, is waar ‘n persoon dalk erge trauma gely het, erge verlies wat dalk nie teruggekry kan word nie. Dis waar daar ‘n nuwe nuut geskep moet word. Iemand het dalk ‘n geliefde verloor, wens met alles in hom of haar om die persoon terug te kry, maar dis onmoontlik. Die nuwe nuut sal wees waar die persoon dalk leer om weer te lewe, ten spyte van verlange, ten spyte van die groot verlies wat gely is, maar om weer sin te maak uit die nuwe lewe wat dalk nie so gemaklik is nie. Soms ly mense groot verlies, en kan tog die nuwe nuut leer liefkry.

Nou het ek so ‘n diep draai gaan maak en eintlik wou ek die woord by Banting toepas. Die fout wat baie nuwe Banters maak, is dat hulle terugverlang na die ou kos, soos byvoorbeeld brood en koek en terte en soetigheid. Dis natuurlik normaal! Groot moeite word gedoen tot groot uiterstes om die “ou” kosse wat hulle nie meer kan eet nie, te “vervang”. Dis presies waar ek die Nuwe Nuut wil toepas. Die ou lewe met grane en suiker en ander stysels is verby, daar is soveel Nuwe dinge wat nou geëet kan word wat voorheen tabóé was.  Vir my lê die geheim daarin om vorentoe te kyk en juis in die nuutheid daarvan nuwe resepte te probeer, ou resepte anders te maak, anders te begin eet sodat ook jyself op die ou end ‘n nuwe nuut sal wees, want hoekom het jy in die eerste plek besluit om so ‘n drastiese verandering in jou dieet te maak? Sekerlik nie omdat jy gelukkig was met jou lyf of met jou gesondheid nie? Jy het dit dalk uit desperaatheid gedoen. Moet daarom nie terugkyk nie! Kyk vorentoe! Vergeet van wat jy alles “verloor” het in die proses, sien raak wat jy alles gewen het en maak die beste daarvan!

Natuurlik is die nuwe nuut by Banting nie ‘n skrale vergelyking met die groot verlies wat ek hierbo geskryf het nie. Verskoon my as ek ongevoelig voorkom, dis nie die bedoeling nie. Ek dink net die woord pas so perfek in by die nuwe leefstyl wat ons Banters volg.

Groete

Toortsie

Toortsie se Bantingboerkos faceboekblad

Bestel Toortsie se Bantingboerekos HIER

Toortsie by Bidorbuy

Ns. Ons is ernstig besig met die Engelse Toortsie! 🙂

20160106_115454.jpg