Natalherinnering

Voor die Towerinne heeltemal van hulle reis deur Natal vergeet en saam met Lekkervurig by Graaff-Reinet kuier, wil ek darem my laaste stuiwertjie in die armbeurs gooi oor Natal. Dis nou dalk nie die Suidkus nie. Ek het eers as getroude gehoor van die Suidkus en die Noordkus. Hier waar ons uit die Kaap getoer het, is ons sommer Natal toe.

Ek was in standerd 2 toe ons die eerste keer deur Natal is, tot in Lorenco Marques, wat natuurlik nou Maputo is, en ook deur die wildtuin. By Swaziland wou hulle almal se vleis en goed konfiskeer wat ons gehad het, maar my ma weet hoe sielkunde werk en het van die gaar kos vir die doeanemanne gegee. Ons het die dag daar gebraai by die grenspos en my broer-hulle het sommer die kokosneute wat hulle by die vorige mense gekonfiskeer het, by ons in die karevaan gelaai.

In Natal het ons by Winklespruit gebly en sommer daar in die swembad geswem en in daardie omgewing rondgery. Hoekom sou my rok op ‘n stadium nat wees? Sou ek in die rivier geswem het met klere en al? Geskok is ek nou! Op pad terug Winklespruit toe het ek toe my pa se trui aangetrek solank my rok in die venster gewapper het om droog te word.

Die speelpark in Durban was natuurlik ‘n wonderlike belewenis en ek kan nie eintlik onthou wat ek daar gespeel het nie, behalwe dat ek by een van die stalletjies ‘n nommer moes raakgooi met ‘n bal en toe ‘n baie mooi glas gewen het.

Heelwat jare later was ons weer daar. Ons en vriende van ons. Ons dogtertjies was seker so 2 of 3 jaar oud. Daar is sulke oulike karretjies, Dune cars, en ek en vriendin besluit dis nét reg vir onse ou dogtertjies. Genade! Dit was gevaarlike karretjies. Ná die eerste rondte kom die tweetjies verby en kyk ons met sulke half verskrikte ogies aan. Toe hulle die tweede keer verbykom kan ons sien dis nie meer snaaks nie, gelukkig stop dit toe na drie rondtes. Die kinders het geklou vir al wat hul werd was en ek en vriendin het ons amper natgemaak van die lag! Dit was natuurlik ‘n senuweeagtige lag, maar ja.

Dis daardie selfde jaar wat ons in Natal vasgesneeu het. My kind het gesê dit was alles my skuld, want ek het vir almal gevra om te bid vir sneeu omdat ons Golden Gate toe gaan. Wat ‘n belewenis! Toe ons oor die Van Reenen Pas ry, het dit net oopgemaak en die lorries wat vasgesit het in die pas, kom van voor af met sneeumanne op die enjinkappe.

Daar is nog stories, soos toe ons in die HOP huisie geslaap het, maar julle kan self daar gaan lees.

Lees meer van die Towerinne se verbeeldingstoer deur die land deur op hierdie skakel te kliek.

Toortsie

Natalse Natuurskoon

In die Kruger Wildtuin het ek net gesit en die bosveld geniet terwyl ons gery en gery het. Die diere wat ons gesien het, was ‘n heerlike bonus. Ek het die krapperigheid in my hart daar in die bos agtergelaat en vervuld daar weggegaan.

Toe kom ons in die Hluhluwe-wildreservaat in Natal. Hoe kan ek dit beskryf? Die natuurskoon is asemrowend. Dis groen, groen, groen. Ons kan duidelik sien dat dit hier gereën het.

Van reën gepraat, mense, dit is STEEDS ontstellend droog by ons. Die Kaap het wonderlik reën gehad, die Breërivier wat om ons loop, was in vloed, maar by ons het dit nog nie genoegsaam gereën nie. Ek het sommer iemand unfriend op Facebook wat weer eens oor die reën gekla het, dit breek ‘n mens se hart.

Maar terug in Natal. Ons het heelwat diere gesien. Baie buffels, ‘n paar renosters, olifante, waterbokke, apies, vlakvarke, ens.

Die toppunt was middagete by die restaurant daar op die kop. Mens verloor jouself in die heuwelagtigheid, die uitsig. Ons het sommer net gekyk en gekyk. ‘n Trop buffels het daar naby gewei.

En nee, ons het nie ‘n middagslapie gevang nie, al was die versoeking baie groot.

Wat ‘n dag!

Groetnis

Toortsie