Toortsie in sesde rat

In die ou dae sou ons sê ek is in derde rat, bedoelende in die hoogste rat, die vinnigste, dit gaan holderstebolder, oop en toe, maar deesdae het karre soveel ratte, die derde een is eintlik maar ‘n stadige rat. Toortsie is in Top Gear.

En dit, grotendeels danksy Scrapydo. Dalk nie heeltemal net sy nie, want ek het so stilletjies begin planne maak om dalk tóg NaNoWriMo2020 te doen, dis mos darem eers in November en November is mos eers aan die einde van die jaar, julle weet. Daar is nog baaaaaaie tyd. As ek aan NaNo wil deelneem, het hierdie loskop besluit, moet ek eers my Toortsie 3 resepteboek ver heen klaar hê. Soos in al die resepte klaar. Ook klaar getik. Verkieslik moet die kosfoto’s geneem wees vóór dan, want tydens November moet ek op NaNo fokus. Hoe moeilik kan dit nou wees? Ek werk immers al drie jaar aan die resepte?

Toe sê Scrapy dis oor ses weke. Ses weke. Aaaaaaag dis nog laaaank. Ses weke. Huh? SES WEKE! 😳🙀 Ses weke! NET ses weke. En dit was VERLEDE week wat sy dit gesê het!

Ek hoor woorde soos dat die jaar op sy rug lê. Die jaar is om. Binnekort sal ons begin sien dat die boere begin platsny. Regmaak vir oes. Die jaar is om. Nou is dit volstoom vorentoe.

Want … ek tik resepte dat dit klap. My Toortsiespan helpers staan gereed: die stilis, die fotograaf, die bladuitlêer. My vriendin wat die boek moet redigeer, moet haar maar net reghou, hier kom ‘bedside reading’. Tussendeur moet ek nog vinnig die lone en koeiregistrasies doen. September en Oktober se visse ook borduur. Dalk sommer November s’n ook! My kop maak oortyd planne vir die NaNo idee. O, en ons gaan iewers in hierdie ses weke nog ‘n hele week die berge ook invaar. Twee berge oor fisies te voet. En dan doen ek navorsing dat dit klap om my boeke as e-boeke te publiseer en te bemark.

En die TPM-kamer word al hoe meer gebruik. Ek sien wonderwerke wat my hare laat regop staan. Soms sit ek daar met so ‘n knop in my keel as God Hom op die wonderlikste manier openbaar. As iemand al iets negatiefs oor haarself vir veertig, vyftig jaar glo en skielik besef dat dit nie waar is nie.

So, mense, Toortsie is op ‘n lekker plek. Die ratte moet net geolie bly. My voetjies op ‘n galop. My een hand styf in Jesus s’n. Want op die ou end hang dit net van Hom af of ek dit gaan regkry of nie. Ek sal my bes doen. Ek sal my beentjies kort hardloop. Maar as dinge nie heeltemal so uitwerk nie, maak dit ook nie saak nie. Dan het ek dit in elk geval geniet.

So, as julle ‘n deurmekaarkop holderstebolder, voorthollende Toortsie sien verbystorm en haar oë lyk effens glaserig, so asof sy nie heeltmal ‘met jou’ is nie, ietwat verstrooid, ietwat in ‘n ander wêreld, moenie bekommerd wees nie. Sy is okay. Eintlik heeltemal okay. En gelukkig daar waar sy is in haar eie duikbootwêreldjie en waar sy net af en toe die periskoop uitsteek om met die gewone lewe kontak te maak. Sy is eintlik een honderd persent in haar skoenlapperkarakter. Sy speel te lekker. Haar grootste probleem is dat die een speel soms met die ander speel inmeng.

Sjoe! Ek moet nou fokus! Baai! Ek moet pak, ons is op pad plaas toe!

Toortsie

Uhm Toortsie, haal net gou diep asem.