Vanoggend skryf ek in my bidboek

Vader, U het vir my hierdie pragtige ring gegee as teken van U trou. U wys my elke dag U trou. Soos die reënboog ‘n teken is van U verbond.

Dankie vir die pad wat U vir my oopmaak met my boeke. Vader ek staan steeds in verwondering, want in my wildste drome het ek nooit kon dink dat ek soveel boeke sou skryf nie, dat my boeke op soveel rakke sou staan nie. Vader, U het die pad vir my oopgemaak, dit was nie ek nie! U is die Een wat vir my die leiding hierin gee, die vaardigheid, die woorde, die energie. Here, ek kan U net loof.

Dankie vir die saadjies wat U in my hart geplant het sonder dat ek dit eers besef het – deur eers op my rekenaar gebede te tik – toe in my bidboek – die gedagte toe ek Annelie Botes se Swart op Wit gelees het dat dit dalk ‘n manier is waarop ek kan skryf, nie dat ek ooit soos sy kan skryf nie, Here, maar tog, die gedagte. Toe ek die beradingskursus gedoen het en Deur Trauma gelees het, die gedagte dat ek dalk ook so-iets kan skryf en Here, hier het U dit op my pad gelê om NaNoWriMo oor trauma te skryf. Nie ‘n boek oor die huwelik wat ek net my blogs bymekaar gooi nie, maar iets nuut en vars.

Dankie Here dat ek juis hieroor weet dat ek U kan vertrou, dat ek net moet wag op U. Dat u vir ons sal wys watter keuses om te maak. U weet die heel beste. Ek loof U Naam.

Amen

(Hoekom plaas ek dit hier? Omdat ek God wil eer. Niks hiervan vir myself wil neem nie, want alle eer kom Hom toe. Dit is my getuienis.)