My eerste skooldag opstel

Ek sien dat my bloginskrywing oor my eerste skooldag, baie aandag trek. WordPress het toe ook vir my die geheim gedeel: Iewers moet iemand hieroor ‘n opstel skryf!

Liewe tiener, hier is nou jou kans om daardie storie te vertel wat jy nog altyd wou vertel! Moenie ‘n internetstorie afskryf of enige iemand anders vra om dit vir jou te skryf nie. Nee, vertel jou eie storie, want ek is seker jy hét iets om te vertel.

‘My eerste skooldag’ kan op baie maniere geïnterpreteer word. Jy het eintlik só ‘n wye keuse.

Dit kan jou heel eerste skooldag wees, in die kleuterskool, die pre-primêr, die laerskool, die hoërskool. Of jou eerste skooldag in ‘n nuwe skool. Of dalk jou eerste skooldag nadat jy beroemd geword het, die eerste skooldag nadat jy ‘n groot prys gewen het. Die eerste keer wat jy weer moes skool toe gaan nadat ‘n tragedie jou getref het. Dalk die eerste skooldag ná ‘n vakansieromanse! Die eerste skooldag nadat julle gesin oorsee gekuier het. Die eerste skooldag in ‘n ander land! Sommer enige eerste skooldag van enige gegewe jaar wat iets snaaks of anders gebeur het.

Watter een gaan jy beskryf? Hoekom juis daardie dag? Wat staan vir jou uit van daardie dag? Was jy bang? Opgewonde? Kon jy nie wag om by die skool te kom nie omdat jy graag iets groots vir jou vriende wou vertel? Skryf dit alles! Vertel van jou opwinding, jou vrees, skryf sommer die storie ook wat jy wou vertel.

Hoe het jy by die skool gekom? Moes jy koshuis toe gaan? Het jy al ‘n dag voor die tyd by die koshuis ingetrek? Waarmee het julle gery? Of het julle gestap?

Wie was jou vriende? Wat het daardie spesifieke dag gebeur?

Vertel jou eie ervarings. Vertel hoe jy dit beleef het. Was dit lekker? Vervelig? Onthou, jou storie is jóú storie en niemand kan dit van jou af wegvat nie. Selfs al dink jy dis dalk te eenvoudig, dit maak nie saak nie. Ander mense put dalk genot daarin om dit te lees.

Skryf daardie opstel. Begin net. Jy sal sien dat dit eintlik lekker is. As jy klaar is, lees dit ‘n paar keer deur. Lees dit vir jou lekker? Waar wil jy nog iets verander? Kyk vir spel- en taalfoute.

As jy dit klaar geskryf het, gee dit in met trots. Dis jou eie handewerk, jy mág goed voel daaroor. En dan kom plak jy sommer jou opstel hier by die kommentaar sodat ons dit ook kan lees!

Die heel belangrikste van alles, geniet dit!

Sterkte!

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Ek is nie ‘n minimalis nie.

Toortsie by Pinterest