Terugflitse

Scrapydo daag ons uit om oor terugflitse te skryf. Sy vra spesifiek watter boek ons gelees het wat ons aan iets herinner. Ek dink om dit dalk uit ‘n ander hoek te benader, want op hierdie oomblik kan ek nie aan ‘n spesifieke boek dink nie. Eintlik, elke boek wat ek lees maak tog op een of ander manier iets wakker ten opsigte van jou huidige omstandighede of anders iets wat jy onthou.

Onder andere skryf sy dat ek en Kameel die oudste blogvriendinne was wat sy gemaak het. Wat ‘n eer! Maar dadelik bring dit die terugflits in my kop dat ek en Kameel op ‘n stadium ‘n blog saam bedryf het. Dat Kameel saam met my geskryf het en dat dit baie lekker was, maar toe sy die dag bel om te sê dat sy haar eie blog wil begin, was dit ook goed en het ek dit vir haar gegun.

Terugflitse is die een ding waarmee ons werk by TPM (Transformation Prayer Ministry). Dit is die ding wat ons by die wortel van die probleem uitbring. Want nou se krisis is gewoonlik mos nie regtig nou se krisis nie. Ons vra die kliënt om te fokus op die gevoel wat hy het en sy brein onthou dan onmiddellik die ander kere wat hy net so gevoel het. Ongelooflik! Dit is soos as jy by ‘n winkel verbystap en skielik aan iemand anders dink omdat jy vir ‘n oomblik iets gesien het wat daardie gedagte wakker gemaak het.

Nou die dag was ek baie gefrustreerd en ek het behoorlik my speelgoed uit die bababed gegooi. Daardie aand, lank na slaaptyd, lê ek en wonder: Hoekom het ek so oorreageer? Die frustrasie was dat daar dinge is wat gedoen moet word, maar net nie gedoen word nie.

Ek fokus op die gevoel en die terugflits kom: Toe ek in standerd twee in die koshuis was, was die klavier in ‘n klein sitkamertjie wat ook die juffrouens se sitkamer was. Wie se briljante idee sou dit wees? Daar is duidelik vir ons gesê: As die rooster sê jou oefentyd is Dinsdae om 4 nm, sal jy daardie tyd oefen. Daar aangekom op my bestemde oefentyd, sit die juffrou en haar kêrel daar. Wat moet ek nou doen? So ek oefen maar. Juffrou en kêrel loop uit. Ek voel simpel. Oorbodig.

Die volgende dag is die klavier geskuif na die eetsaal/studiesaal. So as ek wou/moes oefen, was daar gewoonlik ‘n ander klomp raasbekkies ook. Of ons moes in die kleinsaal gaan oefen, met ‘n nog groter klomp kekkelbekkies in die vertrek. Later jare toe ek meer gevorderde goed gespeel het wat soms Sforzando was, was dit die koshuisvader se onaangename taak om te kom sê dat ek te hard speel. Oorbodig. (Frustrasie: Ek moet oefen, dit moet gedoen word, maar word dit nie behoorlik gegun nie.)

En toe sê God vir my dat as ek vir Hom speel, dit nooit oorbodig is nie.

En hy vervang die leuen van ‘jy is oorbodig’ na die waarheid van ‘jy is welkom.’

Terugflitse is nie daar om jou te ontstel nie. Dis juis daar sodat jy die leuen wat jy vir jare met jou saamdra, kan vervang met Sy waarheid wat vrymaak.

Groete

Toortsie