Die waarde van musieklesse

Dat musieklesse baie waarde het, is mos ‘n feit wat nie meer gedebatteer hoef te word nie. Ons weet dit mos almal.

Natuurlik is musieklesse vir die musikale kind iets uit ‘n ander wêreld. Hemels. Die plek waar hulle uiting kan gee aan hulleself. Die plek waar hulle talent maksimaal ontwikkel word. Die plek waar hulle behoorlik léwe. Waar hulle kratiwiteit ontwikkel.

Maar ook vir die minder musikale kind kan musieklesse ‘n goeie plek wees as hulle daarvan hou. Dit kan natuurlik ook die slegste plek op aarde wees as hulle nie daar wil wees nie. Dan kan dit ontaard in ‘n oorlogsveld.

Musiekles ontwikkel egter baie meer as net jou musikaliteit, kreatiwiteit, ritme, musikale gehoor.

In oorvol klasse bied musieklesse die geleentheid vir ‘n kind om in kleiner groepies te werk of selfs een tot een saam met die onderwyser. Die musiekklas kan ‘n veilige hawe wees waar ‘n skaam kind die geleentheid kry om haarself te wees en haar persoonlikheid gestimuleer word.

Die klavier laat middelkruisbeweging toe sonder dat die kind dit eers besef, iets wat blykbaar baie nodig is in die ontwikkeling van enige kind. Dan praat ek nie eers van ontwikkeling van die brein, verstaan en tel, die aanleer van die musikale taal nie.

Vandag dink ek spesifiek aan deursettingsvermoë. Om enige musiekinstrument behoorlik te bemeester, verg deursettingsvermoë. Geen musiekinstrument word oornag bemeester nie. Dit verg jarelange intensiewe werk. Dit vra dat jy jou musiekles bywoon, maar ook dat jy op jou eie sal oefen, iets wat baie mense nie kan doen nie. Dit vra ure en ure se harde werk, veral wanneer jy gevorderde musiek begin maak.

Om aan musiekeksamens deel te neem, beteken dat jy amper ‘n hele jaar aan jou eksamenstukke oefen totdat jy dit perfek doen. Aan dieselfde stukke. Tot vervelens toe oor en oor oefen. Moeilike stukkies inoefen tot perfeksie. In ons era van alles vinnig en kits doen, is dit iets wat amper onnatuurlik is.

Daardie deursettingsvermoë wat musieklesse iemand leer, word op die ou end deurgetrek na jou gewone lewe. Dis daardie selfde deursettingsvermoë wat die persoon gebruik om later ander groot take te doen wat niks met musiek te doen het nie. Ja, daar is ook baie ander plekke waar jy deursettingsvermoë kan leer, maar ek konsentreer mos vandag op musiek.

Dus, as jy dink dat musieklesse duur is, dink weer. As jou kind musikaal is en jy dit kan bekostig, is dit ‘n belegging in jou kind se toekoms wat baie meer rendement kan oplewer as waaraan jy nou kan dink. Dalk word jou kind nie ‘n volgende Beethoven nie, maar wat sy daaruit gaan kry, is vaardighede wat sy die res van haar lewe sal kan gebruik.

Toortsie

musiek uitdaging

Dirkie skryf op Facebook dat sy staan en stryk en terselfdertyd dink aan die uitdaging. Nuuskierige ek vra natuurlik toe wat die uitdaging dan is. Sy verwys my na ‘n litnet blog, en die uitdaging is musiek.

Ek maak of ek so musikaal is, so baie van musiek weet, maaaar dis eintlik dat, in die land van blindes, Eenoog koning is. Want sien, in die rêrige musiekwêreld is ek nie eers ‘n miggie nie!!

Ek was 5 jaar oud toe my ma vir haar ‘n klavier gekoop het. Daardie klavier het my geroep en geroep en geroep… Toe ek in standerd een was en nog in die plaasskool, het my pa Donderdae met my dorp toe gery vir klavierles. In standerd 2 is ek toe in die dorp se skool gesit en kon musiek neem na hartelus. En koorsing. En sangklas hê. En volkspele dans (onthou jy, Chris?) 🙂

In standerd 4 het tannie Elza Wessels begin musiek gee op die dorp. Die heel eerste naweek was ons op Struisbaai en toe ek en my ma so die strand betree, sit tannie Elza daar. Sy’s ‘n ou vriendin van my ma, en my ma sê toe vir haar: “Kyk, tot nou toe het daar nog niks met Toortsie se musiek gebeur nie. Jy moet nou ‘n plan maak.” Net daar ry tannie Elza Kaap toe en koop eksamenboeke.  (Darem seker in die week of so!!)

So het ek jaar vir jaar eksamen gespeel, tot standerd 9. In Matriek moes ek graad 8 doen, maar die lus het ontbreek. Saam met die my jarelange begeerte om musiek te gaan studeer.

Op universiteit het ek toe by ‘n mede-student les geneem, en so deur die jare het ek, wanneer die tyd en kinders my toegelaat het, weer les geneem. Elke keer moes ek weer ‘n paar grade terug begin, omdat ek uit oefening was.

Toe ek uiteindelik graad 8 doen, was die tweeling so 5 jaar oud. Ons 3 het in trio geoefen. Die een op die heel laagste oktaaf van die klavier, die ander op die heel hoogste een en ek in die middel! Ek kan net dink hoe dit vir ‘n buitestaander moes klink!!

Terwyl ek vir meisiekind verwag het, het ek orrellesse geneem… sal dit dalk die rede wees dat sy nou so goed is in musiek??

Uiteindelik het ek by die punt gekom waar ek besef: 1) Ek het NIE verhoogpersoonlikheid nie. Eintlik weet ek dit my lewe lank. 2) Ek moenie meer klassieke musiek probeer speel nie. Jy kan dit nie net af en toe doen nie. As jy dit wil doen moet jy dit voltyds doen, en dis te spanningsvol vir my. 3) Ek sal my B Mus eendag in die Hemel doen. 🙂

En nou? Nou mag ek ligte musiek speel! Wanneer ek wil. Hoe ek wil. Of ek wil. Met draaitjies en swaatjies soos ek wil. Net vir die lekker!! 🙂

Sit terug en ontspan en luister na “Bitterbessie Dagbreek”… geniet dit net, moenie fout soek nie! En ook na “Gee ons Vrede”

Bitterbessie Dagbreek

Gee ons Vrede

Met liefde vir julle gebring deur Toortsie.

Ns. Seegogga! Wat maak jy met die onderwerp “Musiek”? En Xena?