Musiek in die Bybel 9

In my reeks oor musiek in die Bybel, het ek meestal gekonsentreer op lofprysing en feesviering. God wil regtig hê dat ons Hom moet eer met ons sang.

In Amos lees ons egter ‘n ander storie. Hier word die musiekbeoefening nie goed ontvang nie. Die boek is in ‘n tyd van vrede en stabiiteit geskryf. Op die oog af het dit goed gegaan met die land. Ongelukkig was die minderbevoorregtes in daardie tyd ook maar onderdruk terwyl die rykes lekker geleef het. Die mense het nie meer na die wil van God gesoek nie en hulle godsdiens was nie veel meer as ‘n leë ritueel nie. (Leefstylbybel vir Vroue, bl 1080)

In Amos word ‘n hele klomp baie lelike praktyke genoem, maar die beoefening van godsdiens is ook geweeg en te lig gevind.

In Amos 5:23 kom die harde woorde: ‘Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie!‘ en in 6:5: ‘Julle maak liedjies vir die harp, julle dink hulle vir musiekinstrumente uit.‘, weer eens in ‘n negatiewe konteks.

Ja, God wil graag hê dat ons vir Hom moet sing, met oorgawe moet sing, maar Hy wil ook graag hê dat ons lewe sal getuig van dit wat ons glo, wat ons beweer ons glo. As ons musiek maak vir God net vir die gesigwaarde daarvan en dit weerspieël nie wat in ons hart aangaan nie, beweeg ons op gevaarlike grond, as ek hierdie gedeelte reg verstaan.

Laat ons Hom voluit dien, voluit loof, voluit liefhê met harte wat oorvloei van dankbaarheid.

Groete

Toortsie

Toortsie by Finesse: Elke dogtertjie se droom.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

 

Musiek in die Bybel (6)

Ook vandag as ons musiek maak, is daar instruksies by, byvoorbeeld die lied moet uitbundig gesing word, of sag, of harder, terughoudend. ‘n Treurlied word totaal anders gesing as ‘n feeslied. By die doop word ander liedere gesing as by die dood. Oorlogsliedere klink totaal anders as huweliksliedere.

Netso was daar instruksies in die Bybel oor hoe die musiek gemaak moes wees.

In Ps 30:5 is daar ‘n duidelike opdrag dat daar tot die eer van die Here gesing moet word. Daarmee saam word geskryf dat ons die Here moet loof. In Ps 98:1 word ons aangesê om ‘n nuwe lied tot eer van die Here te sing omdat Hy oorwin het. Ps 49:1: Sing tot Sy lof.  Die hele Ps 148 word gewy daaraan om almal op te roep om God te prys.

Met Jesus se geboorte is daar geSING!Eers wat dit Maria wat die grootheid van God besing het toe sy hoor dat sy die uitverkorene was (Luk 1:46-55), en net daarná is dit Sagaria se beurt om tot die eer van God te sing toe sy vrou, Elisabet swanger word met Johannes die Doper. Toe word Jesus gebore en daar word gesing. Engele het verskyn die skaapwagters en tot God gesing. Wat ‘n ervaring moes dit nie vir hulle gewees het nie!

1 Kor 14:15 gee vir ons die opdrag dat ons met die gees, sowel as die verstand die lof van God besing. Dis mos ‘n algemeen bekend dat dit een van die beste dinge is om te sing aan die begin van ‘n erediens of bybelstudie. Voluit tot God te sing. In eerbied tot Hom te sing. Dit help ons om te fokus op Hom en laat die duiwel vlug. Selfs in jou persoonlike stiltetyd is dit soms goed om sommer net tot God te sing, enige geestelike lied wat in jou kop draai. Dis daar met ‘n doel, sing hom tot eer van God.  Op baie plekke in die Nuwe Testament kom die oproep dat ons sal sing. Ef 5:19 sê dat ons moet toelaat dat die Gees ons vervul en dan moet ons onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere sing met ons hele hart tot eer van die Here. God gee nie om of ons vals sing nie. Hy luister na ons harte. Volgens Kol 3:16 wys ons ons dankbaarheid teenoor God deur te sing. Vir oulaas: As iemand opgeruimd is, moet hy lofliedere sing, sê Jakobus 5:13.

Laat ons sing tot Sy eer!

Tot volgende keer

Toortsie

Musiek in die Bybel (5)

Ek kan nie ‘n reeks oor musiek in die Bybel maak en nie aan Openbaring tyd afstaan nie. Ek is net MAL oor Openbaring en die beelde wat in elke stukkie geskets word. Dis amper soos wetenskapsfiksie.

In Openbaring word ‘n reeks visioene beskryf wat die apostel, Johannes, gehad het toe hy in ballingskap op die eiland Patmos was. Alhoewel die boek die nie goeie nuus voorspel vir die ongelowiges nie, weerklink die Goeie Nuus vir hulle wat glo, die eer wat aan God gebring word, die oorwinning van die Lam, keer op keer in hierdie boek. Sjoe! Wat ‘n boek! ‘n Boek van blydskap vir hulle wat in Hom glo!

Openbaring 5 word gewy aan die Lam wat waardig genoeg is om die Boek van die Lewe oop te maak en sy seëls te breek. Almal sak op hulle knieë in aanbidding. Toe begin die leiers van die kerk en die vier wesens ‘n lied sing tot eer van die Lam. Die volgende oomblik was daar ‘n massakoor van derduisende engele wat rondom die groepie leiers en die vier lewende wesens gestaan het en hard gesing het, en net daarna het die héle skepping begin saamsing, selfs alles in die SEE het begin saamsing! WOW! (Ek het hoendervleis gekry toe die hele Grootte Kerk vol mense sing, saam met die kore en die orrel in volle klank en die simfonie orkes én die doedelsakorkes. Hoe fantasties sou hierdie klink!) (Openbaring 5: 8-14)

Vanaf Openbaring 8 kry 6 engele kans om elkeen op ‘n trompet te blaas. Elke trompet se geblaas het iets VERSKRIKLIKS laat gebeur: Hael, vuur, bloed, ‘n ster wat val, die son en maan se lig word verminder, ‘n arend wat verdoemenis uitskreeu. In Openbaring 11:15 blaas die sewende trompet. Daar word aangekondig dat Ons Here, ons Messias nou oor die wêreld regeer! Daar is neergeval en God is aanbid.

Intussen gebeur daar nóg verskriklike dinge, tot ons by Openbaring 14 kom, waar Jesus op die heilige berg staan. ‘n Stem het uit die hemel gepraat, dit het geklink soos donderweer, maar ook soos pragtige musiek. Weereens sing hierdie mense wat om God staan’n lied tot eer van God, ‘n lied wat niemand nog gehoor het nie.

In Openbaring 15 word die mense beskryf wat die stryd end-uit volgehou het teen die dier. Hulle het musiekinstrumente in hulle hande gehad en Moses se lied gesing.

Vanaf hoofstuk 16 volg die beskrywing van nóg oordele, en dan kom hoofstuk 19. Daar’s vreugde in die hemel, want God verlos. Lofliedere tot eer van God klink op. Groot vreugde in die hemel vir almal wat Hom aanbid. Halleluja! Wonderlik! Aan God die eer!

 

Word vervolg.

Toortsie

Bron: Die Boodskap

Liewe leser, waar staan jy? Maak betyds seker. Moenie hierdie wonderlike kans misloop nie.

Musiek in die Bybel (4)

Hierdie is deel van ‘n kort reeksie oor musiek in die Bybel. Die ander inskrywing hieroor kan HIER gelees word.

Verskillende liedere is by verskillende geleenthede gesing, net soos vandag waar ons vreugdeliedere het, meer stemmige liedere, hartseermusiek, dansmusiek.

Nadat die bouwerk van die tempel in koning Salomo se tyd voltooi was, is die ark onder groot seremoni in die tempel gesit. 2 Kronieke 5 beskryf dat al die aanwesige priesters, ongeag van hulle diensbeurte, hulleself gereinig het. Die Levitiese sangers het oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere. Hulle het linneklere aangehad en by hulle was daar omtrent 120 priesters, wat trompetblasers was as ek dit reg lees. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en loflied tot eer van die Here het opgeklink. Op daardie oomblik het ‘n wolk die huis van die Here gevul, soveel so dat die priesters nie vir diens kon aantree nie omdat die magtige teenwoordigheid van die Here so groot was.

In Esra 3 word die herbou van die tempel beskryf, ná die ballingskap. Selfs die lê van die fondamente is met trompette en simbale gevier. Die herbou van die muur rondom Jerusalem is ook met lofliedere en met musiek van simbale, harpe, liere en sang gevier. (Neh 12:27-28)

Natuurlik is musiek ook by alle feeste gebruik, en by die inhuldiging van ‘n nuwe koning. Trompette is geblaas van vreugde. Lees gerus Moses se pragtige lied nadat God hulle gered het van die Egiptenare in Eks 15, en net daarná, ook die lied van Mirjam. In Rigters 5 is die oorwinningslied van Debora en Barak. Ek kan verstaan dat hulle gesing het van vreugde, ekself wil net sing van vreugde as iets goeds gebeur het, ek wil op my klavier speel dat dit dreun, ek wil sing uit volle bors. Maar as ek huil, kan ek nie sing nie, dán huil my klavier saam met my. Ons maak mekaar dan weemoedig.

Hulle het selfs gesing sodat ‘n put in die woestyn vir hulle water gee! (Num 21:17)

Die Psalms is natuurlik die een lied op die ander, elkeen met sy eie karakter. In Ps 27:6 skryf Dawid dat hy onder trompetgeklank sy offers sal bring, ‘n lied sal sing tot eer van die Here terwyl hy neerkyk op die vyande rondom hom. Hy sing ook wanneer hy weer veilig voel ná hy bedreig was (Ps 57:8). Hy vra dat God hom ‘n lang lewe sal gee, dan sal hy altyd Sy Naam besing (Ps 61:9). Hy sing van God se liefde, tot Sy eer (Ps 101:1).

Tot volgende keer

Toortsie

Bron: Die Bybel in Praktyk

Toortsie se Faceboekblad

Musiek in die Bybel (3)

Ek is besig met ‘n kort reeksie oor musiek in die Bybel en as jy die voriges wil lees, kan jy hier kliek.

Dit lyk vir my of slaginstrumente redelik algemeen gebruik is. In 2 Sam 6:5 word ratels, tamboeryne en simbale genoem. In Eksodus 15:20 word dit ook beskryf dat die vroue agter Miriam aangeloop het terwyl sy tot eer van God vir hulle voorgesing het.

tamboeryn 001

(Foto uit Ooggetuie reeks: Musiek)

Trompette was baie gebruik by die “beweging” van die Israeliete. (Num 10:2). Die priesters moes op trompette blaas wanneer hulle moes verder trek in die woestyn, wanneer hulle moes gaan oorlog maak en selfs wanneer feeste moes begin. Die trompetgeskal het elke keer die begin van ‘n belangrike gebeurtenis aangekondig. Dit was ook die aanduiding dat God sy volk sal lei en by hulle sal wees. Ek sien dat dié in Numeri van geslae silwer gemaak moes wees.

Wanneer Jesus terugkeer, sal die “laaste trompet” geblaas word (1 Kor 15:52). Mag ons tog nie onkant gevang word nie!

Hierdie webblad dui ‘n hele aantal Bybelverse aan waar die trompette gebruik is. Ek leen ook sy foto van ‘n antieke trompet. metal-trumpet

Musiek is beslis in eredienste gebruik en dit was baie georgansieerd.  Die hele 1 Kronieke 25 word gewy aan die organisasie van die musiek, die name van die persone wat verantwoordelik was daarvoor word duidelik uitgestippel. Die getal opgeleides om die sang en musiek te reël was 288! 🙂 Daar was natuurlik leerlinge ook.

Musiek is altyd by groot geleenthede (ook klein geleenthede) gebruik, wanneer hulle iets wou vier, aan God lof wou bring. Musiek was en is steeds vandag ‘n manier van uiting gee aan jou emosies.

Die Bybel is natuurlik vol van liedere. Ek weet nie hoe die melodie sou geklink het in daardie tyd nie, natuurlik baie anders as wat ons vandag sing.

Tydens heilige optogte is daar musiek gemaak, soos met die terugbring van die ark na Jerusalem (2 Sam 6).

Toe die tempel klaar gebou was, was dit ‘n groot geleentheid toe die ark in die tempel gesit is. Die musikante was op hulle pos. ‘Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”‘ Op daardie oomblik het die magtige teenwoordigheid van die Here die tempel van God gevul. (2 Kron 5 vanaf vers 13)

Volgende week vertel ek verder.

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Bronne: Bybel in Praktyk; Ooggetuie reeks: Musiek