Skryf ‘n opstel: My gunstelingmens

(Vir die blogmaats met wie ek graag saamkuier, vra ek geduld. Behalwe dat ek ‘n kuierblog het, wil ek ook graag mense help. In die begin het ek gedink dis kinders en hulle mammas wat onderwerpe vir Google vra en dit dan by my uitkom, maar ek het ‘n vae vermoede dat ook onderwysers deesdae hier rondloer vir opstel- en mondelingonderwerpe. )

Skryf ‘n opstel oor jou gunstelingmens.

(Voor jy begin skryf, dink oor wie jy wil skryf en skryf dit dan asof jy dit vir jou beste vriend vertel.)

Begin deur te sê WIE is jou gunstelingmens is. Wat is sy/haar naam? Vertel ‘n biejie meer van hom/haar, sommer in die algemeen. Stel hom/haar bekend aan die leser.

Hoekom is sy/hy jou gunstelingmens? Is daar iets spesiaals wat hierdie persoon doen wat hom/haar laat uitstaan bo ander mense? Of is dit juis haar nederigheid of liefdevolheid of geloof wat haar jou gunstelingmens maak?

Is jou gunstelingmens ‘n bekende persoon, soos ‘n nasionale held, van wie almal hou, of is dit juis een wat nie so bekend is nie, maar vir jou baie spesiaal is?

Vertel van hierdie persoon. Ken jy hom/haar persoonlik? Indien wel, wat is jou verwantskap met die persoon? Is dit jou oom/tannie/niggie/neef of sommer net ‘n vriend? Hoe gereeld spandeer julle tyd saam, indien julle dit wel doen?

Het hierdie persoon spesiale eienskappe wat jou aantrek? Wat is die spesiale eienskappe? Is hy/sy besonder goed in een of ander iets soos sport of dans of boks?

Is dit vir jou lekker om in sy/haar teenwoordigheid te wees? Gee hy/sy spesiale aandag aan jou? Laat voel hy/sy vir jou spesiaal, amper asof jy ook uitstaan bo die res, amper of jy sy/haar witbroodjie is?

Wat kan jy by hom/haar leer? Wat is daar wat jy graag soos sy/hy sal wil doen? Hoe sal jy in sy/haar voetspore wil volg?

Behalwe dat jy dalk baie by hom/haar kan leer, wat kan jy vir hom/haar teruggee om jou bewondering of dankbaarheid te bewys? Is daar iets spesiaals wat jy vir hom/haar kan doen wat sy/haar lewe ook makliker kan maak? Of sommer net om vir hom/haar te wys dat hy/sy vir jou baie beteken?  Wat sal jy graag vir hom/haar wil doen?

Wat is daar nog wat jy van jou gunstelingmens wil vertel wat ek vergeet het om te noem? Onthou om op een of ander manier vir hom/haar te wys dat hy/sy vir jou spesiaal is.

Groetnis

Toortsie

Skryf ‘n opstel oor tegnologie

Hier is ‘n lekker nuwerwetse onderwerp, dankie aan die onderwyser wat dit uitgedink het. In my kinderdae moes ons oor die voor- en nadele van televisie skryf. Tye het verander. En dit laat my net besef dat jy, die tiener kan die béste hieroor skryf, baie beter as wat ek of jou ma dit kan doen, want jy is met tegnologie gebore.

Natuurlik kan jy skryf oor watter tegnologie vir jou lekker is, hoe jy dit gebruik, wat die nuutste ontwikkelings is in tegnologie is. Wat is jou gunsteling tegnologie? Watter tegnologie gebruik julle jongmense baie, en watter gebruik julle glad nie meer nie?

Ek dink wel jy moet eerder tegnologie bedink. Julle word groot met tegnologie rondom julle en orals.

Wat beteken tegnologie vir jou? Kan jy jou enigsins voorstel om sonder tegnologie te wees? Wat sal gebeur as jy vir ‘n week sonder tegnologie moet wees? Gestel tegnologie word totaal van jou af weggeneem, hoe sal dit jou raak?

Wat is die voordele van tegnologie? Hoe maak dit jou lewe makliker? Watter toerusting gebruik jy, watter apps? Hoeveel tyd van die dag spandeer jy met tegnologie? Hoe benut jy dit? Is dit net ‘n bron van plesier waarop jy speletjies speel en op sosiale media rondbeweeg, of is dit vir jou ‘n bron van inligting? Maak dit jou skoolwerk en ander werk makliker?

Wat is die nadele van tegnologie, of dink jy nie daar is eintlik nadele nie? Hoe duur is dit? Kan jy dit bekostig? Kan jou ouers dit bekostig om dit vir jou te verskaf?

Wat is die effek van tegnologie op jou verhoudings. Kuier jy en jou maats nog saam, of sit elkeen met sy slimfoon in die hand? Kan jy nog ‘n lekker gesprek voer, of dink jy dat tegnologie gesprekvoering en interaksie met ander mense beïnvloed?

Is jy verslaaf aan tegnologie? Wanneer is ‘n persoon verslaaf daaraan? Is dit enigsins moontlik om verslaaf te kan raak daaraan? Wat kan ‘n mens doen om dit te verhoed? Hoe kan ‘n mens van tegnologieverslawing bevry word? Sal jy dit erken as jy verslaaf is aan tegnologie?

Skryf ‘n bietjie oor sosiale media. Hoe gebruik julle dit? Wat is die gevare daaraan verbonde? Hoe kan ‘n mens jou beskerm teen kuberboelies en trolle en ander gevare?

Wat, dink jy, is die toekoms van tegnologie? In watter rigting sal dit inslaan? Watter ontwikkelings, dink jy, sal binnekort die lig sien?

Wat, dink jy, gaan verdwyn as gevolg van tegnologie (dinge in die gewone lewe, asook tegnologie wat verouderd sal raak?

Lekker skryf.

Vir nog opstelonderwerpe, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

Wat tik mense by die soekenjins in om by hierdie blog uit te kom?

Wat tik mense in om by ons blog uit te kom?

“Mondelinge onderwerpe”. Lank gelede het ek geskryf oor onderwerpe waaroor ek as kind moes praat. 40 Jaar later het dit sekerlik baie verander. Ek voel mondelingonderwerpe moet op laerskoolvlak binne die kind se ervaringswêreld wees. In die hoërskool, dink ek, kan dit meer uitdagend raak sodat die kinders ‘n bietjie navorsing kan doen. My groot pleidooi bly steeds: Mammas, dis nie JULLE taak om die mondeling te skryf nie, dis jou KIND se taak en as JY dit skryf, ontneem jy jou kind ‘n geleentheid om sy eie verstand te gebruik en ontwikkel. Moenie van jou kind ‘n papegaai maak deur net te herhaal wat jy sê nie. Klaar gepreek! Watter voorstelle het julle vir mondelingonderwerpe?

Taste Life - Healing the Wounded
Taste Life – Healing the Wounded
“Here, help my“. Hier is groot nood in ons ou wêreld! Mense weet nie meer watter kant toe nie. Ek hoop en bid dat die persone wel by iets of iemand uitkom wat hulle kan help. Tans lees ek hierdie fantastiese boek van Francois Mostert, Taste Life – Healing the wounded Ek besef net al hoe meer dat ons onsself sal móét bemagtig. Eerstens doen ons dit deur daagliks by God aan te klop, maar dit help ook om boeke te lees wat ons van lewenshantering leer.

Iemand vra: “Hoe begin jy ‘n nuwe blog?” Toortsie het jare gelede al hieroor geskryf. Maar Toortsie het nie net hieroor geskryf nie, so met die tyd het sy verskillende blograad uitgedeel. Kliek ‘n bietjie HIER. Ek sien daar is alreeds 80 bloginskrywings wat blograad bevat. Genade, Toortsie!?

Raad vir muise in jou huis.” Muise en rotte bly maar net ‘n probleem, en ekself het regtig nie raad nie! Maar al wat ek weet, hulle is NIE die liewe diertjies wat kinderboeke probeer voorstel nie. Muise en rotte dra siektes aan en verniel jou goed. So, as hulle in jou huis is, moet hulle uitgeroei word! Klankmasjientjies? Gif? Katte? Peppermentgeursel op watte? Valletjies, lyk my, werk nog die heel beste, want ‘n dooie muis is ‘n dooie muis is ‘n dooie muis. Lok uile na jou tuin toe! Watter raad het julle?

Hoe werk jongmense se koppe?” Ek weet nie, ek het ook nie al die antwoorde nie, maar hulle wil graag erken word as mens, te midde van al hulle onsekerhede en vrese. Maak ‘n tiener jou vriend, dis die moeite werd!

Het julle raad vir hierdie een? “Hoe kry jy kinders uit die huis wat nie werk nie en klaar is met skool?” 

Daily prompt: Overwhelming. Sometines, keeping up your blogging may be overwhelming, but most times it is pure pleasure. 

Groete

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Op jou merke!

Toortsie by Pinterest

Toortsie by LCHF E-zine: Oorvol, maar steeds honger