Trou-outfits

Hierdie is tong in die kies geskryf en julle moet julle asb nie steur aan die reëls soos hier genoem nie.

Die grootste nagmerrie wat my tref as my kinders troukoors kry, is die rok. Moeder van die bruid rok. Moeder van die bruidegom rok.

Met my eerste kind, ‘n seun, se troue is ek aanvanklik min gespin. Tot iemand sê: ‘O, jy gaan darem seker ‘n uitsonderlike tabbert kry!’ Ai! Die duiwel is listig!

Ek hoor: Jy moet volgens die kleurskema aantrek, jy is deel van die gevolg. Of nie. Die ma van die bruidegom moenie mooier lyk as die ma van die bruid nie. En, en, en. Blote bog!

Ek koop die mooiste lap, ligte grys satyn met pienk kralelap bo-oor. Vriendin sal dit maak. Skielik besef ek, dis te lig! ‘n Mens moenie met die bruid kompeteer nie!

Ek bel die vriendin en vra sy moet asb donkergrys satyn koop. Sy maak die rok en ek besef dit gaan nie werk nie. Die krale-oorrok is oorweldigend.

Dis twee weke voor die troue en daar’s nie tyd vir Kaap toe ry nie, en dis Paasnaweek. En hoe gaan ek vir vriendin sê dit gaan nie werk nie?

(Moet tog nie dat manlief vir julle vertel hoe ek die aand omgekap het van senuwees oor die trouklere nie, hoor! Hy vertel net die omkapdeel en nié dat ek die dag omtrent ‘n hele pot boontjiesop én amper ‘n hele vrugtebrood opgeëet het nie! Dis nie ‘n goeie kombinasie nie, veral nie so kort voor ‘n troue as die senuwees nie goed is nie.)

Ek kry sommer op Struisbaai ‘n swart nommertjie. Maar moeders van bruidegomme moet glo nie swart dra nie, sê die slim mense! Bog.

Vriendin ontdek ‘n donkergrys kant en maak my outfit klaar en stuur die voltooide rok vir my. Ek dink ek het mooi gelyk.

Met kind 2 se troue is dit chaos in my lewe, ons skou beeste en toer oorsee. Ek gee vir ‘n ander vriendin lap en ‘n stelletjie klere en sê, maak asb. Al wat ek kan sê, is dat dit nooit reg gesit het nie, selfs nie nadat ek omtrent al tien kg verloor het nie!

Toe kry my dogter troukoors. Ek bestel die mooiste rok oor die internet. Pragtig. Dit kort effens verstellings, maar meisiekind is nie opgewonde nie. Ek storm een dag oorhaastig by ‘n winkel in en koop my rok, kleurskema totaal vergete. Ag jaaa. En hoor hier, dit was ook ‘n mooi rok.

Toe is dit ten minste afgehandel. Dankie tog! Nie weer outfits nie!

Of so het ek gedink!

Hier kry een van my kinders sowaar weer troukoors. Hier gaan ek al weer!

Maar ek het geleer. Ek steur my nie meer aan reëls nie. Nou maak en net soos ek wil! Hiehaaaaa!

Uhm julle. (fluister) Ek het nog nie ‘n rok nie. sjuut. moenie oorvertel nie hoor.

Groetnis

Toortsie

Ns. Goeie nuus! Ek het iets gkry en ek is MaL daaroor! Nou kort ek net rooi stiletto’s!

uitrusting vir moeder van die bruidegom…

Dis nou al ‘n geruime tydjie sedert ek ‘n uitrusting moes koop vir ‘n kind se troue, maar die inskrywing, Moeder van die Bruidegom, trek steeds aandag dat ek maar die stuk wil skryf wat ek al destyds wou skryf. Ek glo dat die mense wat by daardie bloginskrywing uitkom, nét so onseker voel soos ek destyds.

Toe ek daardie inskrywing gedoen het, was ek eintlik nog rustig oor my klere. Ek sou Kaap toe gaan en sommer iets koop. Tot ‘n vriendin terloops noem: “Jy gaan darem seker ‘n besonderse uitrusting hê”…. 😯 Tóé gaan my klein koppie op loop.

Ek het nog grootgeword met die gedagte dat die ouers van die bruidspaar aantrek volgens die kleurskema… ek wonder, is dit nog so?

Een dag was ek en my dogter vinnig in die Somerset Mall en daar hang toe nogals ‘n rok waarvan ek hou. Sy het nie opgewonde gelyk nie.

Ek bel toe ‘n vriendin en vra of sy vir my iets sal maak. Die naweek van die Argus is toe al wat ek kon loer vir materiaal, en ek het nie baie tyd gehad nie. Terwyl pappa in die motor gewag het, is ek en meisiekind vinnig by ‘n materiaalwinkel in.  Ek sien die pragtigste pienk net met krale geborduur. Nét waarvan ek hou!! Dit kos ‘n plaas se geld, maar dis mos darem ‘n groot geleentheid. Saam met dit ‘n ligte grys satyn vir die onderrok. Oeeee dis mooi!!! 🙂

Dit word afgesit by die kleremaakster. Ek begin nagmerries kry. Dis te lig, lyk te na aan wit. Ek stuur ‘n foto vir die bruid se ma. Sy sê ook dis baie lig.

Ek vra toe sommer vir die kleremaakster om te kyk vir donkerder satyn. Sy kry ‘n pragtige donkergrys. Met baie moeite met die krale, word rok gemaak.

Toe ek die rok aantrek, besef ek dis nie die rok nie. En tyd loop uit! Daar is nie tyd vir weer Kaap toe ry nie!!

Angsbevange hardloop ek toe by ‘n winkel op Struisbaai in en koop ‘n swart uitrusting. (Hoor later dat swart beslis nie die kleur is vir die bruidegom se ma nie!! ) Nog ‘n plaas se geld daarmee heen. Party vriendinne se reaksie lyk of hulle daarvan hou, ander nie….

Onsekerheid raak meer…

Tyd raak op…

Ek besef toe ek moet die kleremaakster inlig, sy gaan die foto’s sien. Sy het SOVEEL moeite gedoen met die rok!! Sy verstaan onmiddellik toe ek vir haar sê, en haar reaksie is dat sy net ‘n ander kantmateriaal sal soek en ‘n ander oorrok maak … Bel my later en sê dat sy kant gekry het, ek moet kom kyk. My antwoord: “Daar is net 2 weke oor, maak maar ongesiens…”

So is ek toe met ‘n rok na my kind se troue waarvan ek nie die materiaal gesien het voor die tyd nie…

Ek het baie komplimente gekry.

My niggie het gesê: “Voor die tyd worrie jy dat jy die verkeerde uitusting sal kies, tydens die troue en daarna worrie jy dat dit verkeerd was.”

Ek wonder of ek nie skielik saamblyery voorstaan nie? 😉

Toorts

Ns… ek het die nag voor die tyd wakker gelê want my rok was die PRESIESE kleur van die TAFELDOEKE!

Toortsie se Faceboekblad.

Toortsie by Finesse: Kleur

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad