Nellie staan verwese. Sonder geld, sonder vriende. Sy doen allerhande werkies om aan die lewe te bly.
Hoe het sy in hierdie gemors beland?
By die kruispad het sy links gedraai Kimberley toe, ‘n vragmotor sien staan langs die pad en by die vragmotorbestuurder hulp gesoek. Hy kon sommer aan haar verskrikte uitdrukking en die verband om haar kop sien dat sy in groot nood verkeer en het haar gehelp om die motorfiets ‘n entjie van die pad af in die veld te versteek en vir haar geleentheid gegee tot in die Kaap.
Die geld het nie lank gehou nie.
Meestal werk sy as kelnerin en dis daar wat sy vir John ontmoet. ‘n Ouer, saggeaarde man, wat elke keer so vriendelik is met haar en geselsies aanknoop. Hul begin al hoe meer tyd saam deurbring.
Een dag nooi John haar om te kom kyk waar hy werk, hy is ‘n besigheidsman en het toekomsplanne met haar.
Min het sy geweet dat hy deel is van ‘n groot sindikaat van gesellinklubs en wat die toekomsplanne was wat hy in gedagte gehad het!
Voor sy behoorlik besef het wat gebeur, was sy vasgevang in hulle groot web en moes sy mans vermaak op die slegste, moontlike maniere. Hul het haar ID dokument en selfoon afgevat en haar identiteit totaal verander. Sy het ‘n wag gehad wat haar voltyds opgepas het.
Vir John het sy nie weer gesien nie. Sy was ‘n gevangene van hierdie sindikaat en sy moes net werk, werk, werk sonder enige vergoeding. Sy kon geen kontak maak met die buitewêreld nie en kon geen hulp inroep van iewers af nie.
Gereeld is al die meisies wat daar werk, geskuif na ‘n volgende klub, soms in dieselfde stad, soms na ‘n volgende stad. Sy het nie meer geweet waar sy is nie, haar hoop en selfvertroue was weg.
……………………………………………………. maaarrrrrr …
Nellie voel vreemd. En koud. Wat op aarde maak sy hier in die stofpad? Wat gaan aan? Dan besef sy: Sy het gedroom.
Al hierdie dinge wat gebeur het … die toksak, die rolle geld, die bus Bloemfontein toe, Chris op die lughawe, die liewe, stomme Jakkie op die vliegtuig, die naakte foto’s van tannie Chrissie, oom Esra se bekentenis dat hy haar biologiese pa is, Renier, die vervalsde geld, die koerantberig, die bloedskande, die diamantsmokkelary, die vlug met die privaatvliegtuig, die houthut in die bos, die vliegtuigwrak, die gesellinklub, … was alles net ‘n droom! ‘n Verskriklike nagmerrie!
Sy het haarself sowaar aan die slaap gehuil en hier sit sy steeds langs oom Esra se verflinterde bakkie met die pap wiel nadat sy in ‘n oomblik van woede en moedeloosheid daar weggery het, ewe met ou tant Krissie se dure leertas vol Franse onderklere en parfuum en wat nog alles!
Nee! Nellie Visagie mag arm wees, maar sy is nie ‘n skelm nie en sy gaan ook nie die res van haar lewe oor haar skouer moet loer nie! Sy weet nou presies wat sy moet doen.
Pap wiel of te nie, sy gaan nou ry met hierdie ou bakkie. Terug na waar sy vandaan kom, oom Esra en tannie Krissie groet, die hoenders, wat sy met haar groentegeld gekoop het, optel en dan na haar ouers gaan. Dan sal sy die ou verflenterde bakkie terugneem. Ja! Dis wat sy gaan doen.
Sy is nie armsalig nie, en beslis nie dom nie. Sy het glad nie sleg gedoen op skool nie en is ook nie lui nie. By die Viljees in die huis het sy baie dinge geleer van die lewe, selfs al het hulle haar soos ‘n rondloperhond behandel. En die Franse onderkleertjies kan tannie Krissie maar hou, wat wil sy, wat Nellie is, in elk geval daarmee maak?
Haar kennis van groentetuin- en hoenderboerdery, saam met die verkoopsvernuf wat sy by die vlooimark opgedoen het, is nét wat sy nodig het om ‘n nuwe lewe by haar ouers te begin.
Ja! Sy is nie bang vir werk óf vir swaarkry nie, sy is sterk en sal dit kan hanteer, en hou haar maar net dop, sy sal vir die Viljees en al die ander la-di-da’s van die dorp wys dat die Visagies nie mense is op wie jy neersien nie.
So hoppende, op drie wiele en een rim, ry sy terug en vat sy die eerste treë op haar nuwe pad van vryheid.
Maar toe sy by oom Esra-hulle op die plaaswerf inry, staan hy haar en inwag. Hoe nou gemaak? Sy kan nie besluit nie: Lyk hy kwaad, of lyk hy verlig?
…………………………………….
(Die eerste gedeelte van hierdie hoofstuk is geskryf uit simpatie vir soveel meisies wat opgeslurp is in hierdie web, wat vasgevang is en nie weet hoe om te ontsnap nie. Menseroof, of Human Trafficing, is ‘n realiteit in ons land. Spesiale dank aan Christna Junius wat haar storie met my gedeel het. Sou u ingesleep voel by menseroof, moet u dringend die noodnommer skakel. 0800 222 777. Die tweede week in Oktober is dit Nasionale Human Trafficing week.)
Storie en name fiktief.
Toortsie
……………
Die vorige hoofstukke van hierdie storie kan by ondergenoemde Inlinkz-skakel gelees word.
Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.
InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999
Like this:
Like Loading...