Wat maak ons keto-groep uniek?

Wat maak ons Keto gewigsverliesgroep uniek?

Wel, ons kommunikeer in Afrikaans.

Ons kommunikeer per Whattsapp Groep.

Ons het weeklikse inligtingsessies met nog baie inligting en raad en bystand tussenin.

Ons lede ken nie mekaar noodwendig in persoon nie, en geen deelnemer weet hoeveel enige van die ander deelnemers weeg of hoeveel gewig hulle verloor het nie. Dít is konfidensiële inligting wat tussen die groepleier en groeplid persoonlik gedeel word. 

Ons ondersteun mekaar, help mekaar en as iemand moedeloos voel of van die wa afgeval het, word hy liefdevol opgehelp en nie gestenig nie. Almal van ons weet hoe dit voel om soms die pad byster te raak of verlore te raak of te val. Ons glo dat dit nie saakmaak hoeveel keer jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan.

Ons volg die Keto (Banting) leefstyl en dit is waarop ons fokus: Om hierdie gesonde leefstyl aan te leer en vir die res van ons lewens daarby te hou. 

Dit maak nie saak waar in die wêreld jy woon nie, jy kan deel wees van hierdie groep. 

In ons groep geniet ons kos. Ons hou daarvan om daaroor te gesels en voel nie skuldig as ons eet nie, solank ons natuurlik die regte en toelaatbare kosse eet. Ons leer om anders te dink oor kos, dat kos ‘n wonderlike gawe is om te geniet. 

Saam beveg ons ons oorgewig, diabetes en ander leefstylsiektes wat ontstaan het as gevolg van ons leefstyl van tevore. 

Die groepleier is ‘n gekwalifiseerde Bantingafrigter.

Die groeplede sê:

Hierdie groep het heel eerste die regte en volhoubare eetplan. Ons leidster het ondervinding en ‘n hart wat omgee. Die groeplede is super ondersteunend. Die groep hou ons accountable.

Die groep hou my ook accountable. Ek het dit nodig. Ek is elke keer verbaas as ek dit regkry om nee te sê vir soetgoed en stysel. Ek kan dit nog nie glo ek kon so ‘n kopskuif maak nie. 

Wat die groep anders maak is beslis die tiepe kos wat ons eet, die leidster wat die kennis het om ons op die regte manier te kan motiveer en omdat sy reeds en steeds die journey stap kan sy ons attent maak op die slaggate. Hier was nog nooit ‘n harde woord of teregwysings nie. Reghelp word in liefde en deernis gedoen. Ons almal besef ons het ‘n verslawing van een of ander vorm en wil dit oorwin en dis hoekom dit werk. Ons is ‘n AA vir wat jou poison ookal is. 

Wat hierdie groep vir my suksesvol maak is: die eetplan bestaan uit gewone kosse. Ons kry ongelooflike raad en leiding. Ons vordering word gemonitor. Dit is vir my ‘n wenresep! Dankbaar om deel hiervan te wees en my eetgewoontes te verander!

Jy kan ook deel word van hierdie groep. 

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

Toortsie

Butternut en Banting

Iemand vra of ons butternut, of eerder, botterskorsie, mag eet as ons die Bantingleefstyl volg.

Ja, ons mag botterskorsie eet as ons die Bantingleefstyl volg, maar …

Botterskorsie is op die oranjelys, en ons weet mos dat ons oranjelysitems net in beperkte hoeveelhede mag eet.

Sommer net weer ter verduideliking:

Van die groen lys mag ons eet soveel ons liggame benodig.

Rooi items? Glad nie. Niks. Nul.

Oranjelys, soos aangedui, maar die oranjelys lees jy nie en, en, en nie, maar of, of of.

Terloops, pampoen is op die groen lys, dis net botterskorsie wat op die oranjelys is. Jy mag een en ‘n halwe koppievol botterskorsie per dag eet, maar as jy soveel geëet het, mag jy vir daardie dag geen ander oranjelysitems eet nie. Die getalle soos wat dit in die oranjelys aangedui word, is die totaal vir die hele lys vir die dag. Dus, as jy een en ‘n halwe appel geëet het, is jou kwota oranjelysitems vir die dag vol.

Botterskorsie is soeter as ander pampoen, daarom hou ons so baie van dit, en dis glad nie nodig om dit enigsins te versoet nie. Ek gooi sommer net ‘n bietjie Aromat oor en maak dit gaar met botter. As jy bang voel vir Aromat, geur dit met liefde soos wat jy verkies.

As jy egter versigtiger met die koolhidrate wil wees, kies dan eerder van die ander pampoensoorte.

Baie mense voel hulle wil glad nie van die oranjelys af eet nie. Dis egter heeltemal onnodig en ek voel ‘n mens beperk jouself te veel as jy nog die hele oranjelys ook uitsluit. Ons sluit alreeds al die stysels en suikers uit. Dus, as jy lus het vir iets op die oranjelys, eet dit, maar hou net by die voorgeskrewe hoeveelhede.

My laaste stuiwer in die armbeurs: Oppas om jou Banting té ingewikkeld probeer maak met onnodige goed wat jy uitsny, of om dit moeiliker te probeer maak as wat dit reeds is. Hou eerder by die reëls soos dit vasgestel is en verseker daardeur dat jy op die Bantingbus bly, in plaas daarvan om dit onnodig moeilik te maak en dit nie te kan volhou nie.

Groetnis

Toortsie

 

Tyd vir nuwe begin

Orals lees ek dit raak: ‘Ek gaan weer begin’, ‘Ek klim weer op die wa’.

Dis die tyd van die jaar wat mense oor begin, die tyd wanneer jy hard werk aan jou nuwejaarsvoorneme, wanneer jy weer probeer. Dit geld vir baie dinge: ‘n Nuwe stokperdjie, jou verhouding met jou geliefde, jou werk, jou geloof, jou gewig, wat ookal. Dis die tyd vir weer begin.

Veral ons wat maar met ons gewig sukkel, is ook lief om die nuwe jaar weer met nuwe moed aan te pak. Ons wil weer begin. Ons gaan weer probeer.

Banting werk vir my. Dit werk al 3 en ‘n halwe jaar vir my. Dis uitvoervaar. Dis leefbaar. Dis volhoubaar. Dis lekker. Dis maklik. Dis gesond. Dis goed. Dis selfs volhoubaar oor vakansies.

Ongelukkig kan ek nie waarborg dat dit vir jou ook sal werk nie en ek beveel altyd aan dat jy dit in samewerking met jou dokter moet doen. Ek wil jou graag help, as jy wil.

Before:

   After:  After

By Toortsie eet ons nét lekker kos, want Toortsie glo aan lekker eet.

Probeer is die beste geweer! 😁

Groetnis

Toortsie

verslag…

Die skaalskok van die Paasnaweek is iets van die verlede!!! Want al het ek ‘n bietjie vergeet van kyk wat ek eet gedurende die Paasnaweek, was daar mos darem weer gewone dae ook! Daggies wat ek my mooi gedra het! Ja!!! 🙂

En daar was weer n naweek ook. Naweke!!!! …… is lekker goed. 🙂 Kyk, Vrydagoggend het ek my mooi gedra by die verjaarsdag en die hele, heerlike, groot wortelmuffen geëet, én onthou dat dit 4 tel. Middagete, wat ek saam met my ma en dogter gaan uiteet het, was ek net so oulik en het ‘n gerookte hoenderslaai bestel, ook ongeveer 4 of 5 punte. Die Appelstrüdel wat my dogter gemaak het, kon ook eintlik werk, so 3 punte, as ek net een sny sou neem. (Hoe moet sy nou voel as sy al die moeite doen en haar ma eet nie eers saam  nie?) En toe, vir aandete, was daar skaapribbetjie in die oond gebraai….. Ja, ja, ek verstaan hier is mense wat nie vleis eet nie en nie weet wat hulle gemis het nie, maar ek weet hier is ‘n hele paar wat hier lees, wat presies weet waarvan ek praat, dat ek geblink het tot agter my ore, en dat die punte vir die dag, selfs al het ek gaan stap en ander dae nie al my punte gebruik het nie, net te min was!!!! Dis mos darem sonde as mens so iets laat verby gaan! Of hoe? Ek het darem die groentetjies ook mooi geëet, gehoor?

Saterdag was daar ‘n ooievaarstee…. en Sondag het my skoonsus ons genooi vir skaapboud… ons het vir die poeding gesorg….. en hulle….. 😉

Die skaal was al laer as wat dit vanoggend is, maar dis heelwat laer as wat dit ná die Paasnaweek was. Ek sal my sokkies moet optrek…….

Maar ek wil meer oor die verjaarsdag vertel. Die uitnodiging het gelui dat ons nie geskenke moet bring nie,  maar geld moet gee vir Canservive. Canservive is ‘n organisasie wat op bewusmaking van kanker fokus en ook baie kankerpasiënte ondersteun. ‘n Groep kanker-oorwinnaars (meestal vroue) gaan vanjaar weer met hulle motorfietse die land deurkruis en duisende mense daardeur bereik. Twee van my vriendinne is in hierdie groep. En hulle het natuurlik fondse nodig. Baie fondse. So, as jy dalk ook belangstel om hulle finansieel te ondersteun, los vir my ‘n boodskap hieronder en ek sal die nodige inligting vir jou aanstuur.

Nou ja, sterkte vir die week!! en die naweek!! Die belangrikste van als: Laat ons GENIET wat ons doen, die lekker tye koester.  In DANKBAARHEID. Ons vriende en familie waardeer en foto’s neem van saamweesgeleenthede. Soveel dinge kan in ‘n oogwink met ons gebeur. Mag God ons beskerm.

Toorts

Verslanker hou Paasfees

Net soos ek verwag het, was daar toe ‘n groot skok toe ek Dinsdagoggend na Paasfees die skaal betree. Hoe dan ook anders?

Ek was REG vir die Paasnaweek. Ons was see toe en al die kinders het ook gekom. Vleis is altyd genoeg, en om nie te hard te werk by die see nie, het ek ‘n groot bak aartappelslaai gemaak (aartappels, gekookte eier, kaas, weense worsies, Trim mayonnaise) en ‘n gestolde komkommerslaai. Ek sal baie mooi dink voor ek weer hierdie komkommerslaai maak. Dit kom uit een van die wenresepteboeke. Die suurlemoenjellie was vervang met Low Cal groenpruimjellie. Baie groen. Maar tog het van die gaste ‘n tweede skeppie geneem, en niemand het dood neergeslaan daarvan nie. Natuurlik was daar ook ‘n groot blik beskuit, en ek kon my hande nie daaruit hou nie! Donderdagoggend het ek gou ‘n lekker kookmelkkoek gebak. Dubbellaag met ‘n vla-vulsel….. Genadiglik vas ek sjokolade, so die paaseiers was veilig…

Met sekondes wat getel word, het ek laat wiel see toe, net betyds vir my haarafspraak. Terwyl die kleur ontwikkel het, vra ek toevallig vir my haarkapster: “Het jy lus vir ‘n stukkie koek?” “Waar gaan jy nou koek kry?” Sy het toe die koek agterin die kar gaan haal en paasnaweek het begin!!

Met dié dat dit die hele naweek gereën het en koud was en ek lui was, het daar niks van ‘n stappie langs die see gekom nie. Waterretensie is ook ‘n vabond as jy te min vloeistof inneem.

So, Dinsdag was dit weer terug in die tuig, terug na opskryf wat ek eet. Ek weet steeds nie wat ertjie/lensiesop met vleis en groente in, tel nie. Dit kan nie te veel wees nie. En ‘n pannekoek? Soveel soos ‘n sny brood? Ek bedoel, voor ek die suiker op gestrooi het? Ek dink tog Dinsdag was binne perke, met baie water inname en ‘n lekker stappie.

Dis of ek hierdie week die effek van waterinname meer beleef het as ooit tevore. Teen Woensdag het die skaal alreeds geroer en Donderdag het ek gedink hy’s ‘n lekker kêrel. (‘n Skaal MOET manlik wees!! 😦 ) Ek het meer water gedrink, en my liggaam het gedink: “Laat los!” 😉

Weet julle hoe lekker is ‘n snackwich (geroosterde toebroodjie) met PIESANG op? Heerlik! En ‘n piesang tel net 1 terwyl die kaas vir dieselfde toebroodjie 4 sou tel.

Die koekstorie van lank gelede bly my by. Ons sou Struisbaai toe gaan en die kinders het huistoe gekom. My kop het so gewerk: Ek sou die Vrydag gou die meisiekind op Swellendam gaan haal en as ons terugkom, moes inderhaas nog 2 soorte eetgoed gemaak word. ‘n Koek en nog iets. In Spar dink ek toe: “Koop sommer koek.” Ek koop toe ruim. By die huis aangekom, los ons sommer die inkopies in die kar, en vergeet skoon van die koeke wat reeds gekoop is. Terug by Plan A, word hier inderhaas gebak en gebrou…… 🙄  …… daar was geëet daardie naweek!

liefvirsoetgoedtoorts