Mirre

Dit was in Junie 2019 wat ek vir Lira deur Chanette Paul gelees het. Lira is deel van ‘n reeks van vier boeke oor die vier Vywervroue van Vywerbaai. Voor ek nou vir Mirre begin lees het, het ek eers weer vir Lira ook gelees. Dis wonderlik hoeveel ander detail ek nou daarin raakgelees het.

Wat ek natuurlik baie van Chanette Paul se boeke geniet, en veral ook van die Vywervroue is dat dit in my bekende omgewing afspeel. Selfs al is dit ‘n geskepte strandplekkie, is dit vir my bekend en kan ek dit vir my voorstel in my geestesoog.

Mirre is die Vywervrou wat vir haar lewe moet vlug. Wat die hele tyd in vrees leef vir haar vervreemde man en nie weet wanneer hy weer sy opwagting gaan maak nie. Dis heerlik om die susterskap van die vier Vywervroue te ervaar, hoe hulle mekaar ondersteun, mekaar oplig. Vroue wat elkeen haar eie storie het wat mekaar in liefde tot hoër hoogtes aanspoor.

Mirre speel in redelik dieselfde tyd af as wat Lira afspeel en baie van die gebeure oorvleuel, maar ‘n mens sien dit nou uit die ander persone se oë. In hierdie boek is die klem meestal op Mirre en Boeta, haar jeugliefde.

Die spanningslyn is end-uit uitstekend en Chanette Paul kry dit reg om ‘n mens se aandag tot aan die einde te behou. Die leser kry ‘n kykie in die lewe saam met ‘n psigopaat (of iemand met een of ander geestesiekte), en beleef ook manipulasie en onsekerheid wat ‘n ongelukkige huwelik bring, nie net by Mirre en haar man nie, maar ook by van die ander sleutelspelers in die boek.

Natuurlik het die boek ‘n mooi einde, en is daar nie nog oop gate in die storie wat opgelos moes word nie. Ek sou natuurlik baie daarvan gehou het as Mirre op die end ‘n klomp geld erf of so iets.

Ek het die boek baie geniet en gaan sommer nou dadelik met die derde een in die reeks, nl Corali begin.

Toortsie

Die storie se lyf

Ek lees tans Lira van Chanette Paul. Ek dink dit is haar nuutste boek en dis die eerste boek in ‘n trilogie van Vywervroue. Julle kan maar self lees wat vywervroue is en hoekom Vywervroue hulle nie laat opeet nie. Terloops, die Vywervroue laat my baie aan die Towerinne dink, wat elkeen haar eie ding doen, maar mekaar ondersteun en opbou en regop hou. Dit speel af in die Overberg en alhoewel dit ‘n fiktiewe strandjie is, voel dit vir my baie bekend en kan ek sekere bakens herken.

Soos altyd, geniet ek Chanette se boeke geweldig baie. Die storie loop lekker en ‘n mens raak nooit verveeld nie. Wat my baie interesseer, is hoe sy die storie ‘lyf’ gee, hoe sy dit relevant maak, hoe sy die boek meer maak as net ‘n storie wat jy in vyf bladsye lees. Die boek speel presies in ‘nou’ se tyd af, die politieke gebeure, die vrees rondom grondonteiening, die waterbeperkings in die Kaap, word terloops ingeskryf op die regte plek.

Tussendeur ontrafel sy die storie van elkeen van die karakters, en leer ons sommer ook meer oor die lewe, oor verhoudings, oor die chemiese werking tussen man en vrou, die pa-tienerdogterverhouding, sommer sielkunde ook.

Alhoewel hierdie boek meer oor vroue gaan, en nee, dit is ook nie so nie, eintlik is dit Lira se storie en Fynn, ‘n man s’n. Nou het ek myself in die rede geval. Die vier Vywervroue het elkeen al iewers swaar in hulle lewe gehad, maar dit oorheers nie die storie nie. Dis ‘n gebalanseerde storie waar daar goeie mans en goeie vroue is, mense wat ook foute gemaak het, maar waar daar ook nare mans en vroue is, mense met nie sulke goeie karakters nie. Dis tog hoe die lewe is, ons het alle soorte mense hier en goed en sleg kan nie net aan ‘n sekere ras of geslag toegeken word nie.

Lira is meer as ‘n dun vrystorie wat ‘n mens in ‘n middag se tyd deurlees. Dis ‘n weldeurdagte, goedgeskryfde boek wat ek regtig wil aanbeveel. ‘n Boek waar die lewe gebeur.

Toortsie

Kyk gerus HIER vir nog boekbeskrywings, of volg my boekbesprekings by Pinterest.