Chris van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247


……………………………………………………

Chris is ook een van die baie seuntjies wat op Comono Eiland, of Seuntjie-eiland woon, waar daar net seuntjies is. Waar hulle net heeldag speel en seuntjiedinge doen. Waar hulle oefen om s e e r o w e r s te word. Maar Chris is ietwat anders as die ander seuntjies. Hy het einlik ‘n klein probleempie waaraan hy niks kan doen nie, maar dit strem hom baie.

Jy sien, Chris is linkshandig! En op Seuntjie-eiland werk dit nie as jy linkshandig is nie. Kyk nou na swaardveg. Swaarde word gemaak vir regshandiges, want álle seuntjies is regshandig! Waar in die wêreld het jy nou al van ‘n linkshandige seuntjie gehoor? Wil hulle krieket speel, moet Chris verkeerdom staan. Dit gooi almal deurmekaar, want hulle word geleer om te boul vir iemand wat regshandig is. Probeer hy kitaar speel soos Anton, werk dit nie. Die kitaar is gemaak vir iemand wat regshandig is. Dit beteken dat hy met sy sterk hand die akkoorde moet druk, terwyl hy met sy swak hand die ritme moet doen en sy swak hand is stadiger as sy sterk, linkerhand. Hy kry net die die ritme reg nie. Probeer hy met ‘n sker knip, maak die sker hom seer, want die sker het ‘n skuins plek waardeur hy sy duim moet sit, dit wil net nie werk nie. ‘n Sker se lemme lê ook verkeerdom. Gelukkig skryf seuntjies mos nie eintlik nie, maar die skrywery wil ook nie werk nie. Want sien, sodra hy geskryf het, vee hy met die res van sy linkerhand oor die nat ink en is dit ‘n gemors. Dit is net áltyd ‘n gemors!

Die ding is, HY IS VERKEERDOM GEMAAK! En wíé wil nou regtig verkeerdom gemaak wees? Geen mens wil mos verkeerdom gemaak wees nie! Veral nie ‘n seuntjiemens nie!

Chris weet nie meer wát om te doen nie. Hy het al probeer om met sy regterhand swaard te veg, maar dit is selfs ‘n groter gemors as wanneer hy met sy linkerhand veg. Die swaard val sommer uit sy hand uit. Dis of hy geen koördinasie het as hy met sy linkerhand swaardveg nie. Hy het ook probeer om met sy regterhand te skryf sodat hy nie deur die ink vee nie, maar dit wil ook glad nie werk nie. Dan skryf hy so lelik, niemand kan lees wat hy skryf nie. Dalk moet hy sommer glad nie skryf nie. Met ‘n sker knip hy sommer glad nie.

Maar Chris is nie dom nie. Eintlik is hy glad nie onhandig nie! Want iemand wat linkshandig is, leer baie vinnig om by ‘n regshandige wêreld aan te pas. Hy het gou geleer dat dit vir hom beter is om die vurk in sy regterhand te hou as hy eet, want wat maak dit regtig saak dat hy dit nie in sy linkerhand hou nie? En hy verkies om die mes eerder in sy linkerhand te hou, dan kan hy die taai vleis makliker sny, want daardie hand is sterker. En hy het ook geleer dat hy maar die swaard in sy linkerhand kan hou, dat dit hom eintlik ‘n voorsprong gee, want sy opponente verwag nie ‘n linkshandige teenstander nie en dan verwar dit hulle.

Daar is natuurlik baie ander dinge wat hy goed kan doen en waar dit glad nie saakmaak of hy links of regs is nie. Dinge soos swem, alekreukels uithaal, seekat vang, hardloop, rugby speel. Ag, daar is nog baie ander dinge!

En Chris het geleer om sy verkeerdomheid, sy andersheid, nie as ‘n bedreiging te sien nie. Nie as ‘n nadeel te beskou nie. Hy het geleer om sy andersheid te omhels, om aan te pas in ‘n regsomwêreld, om sy sterkpunte te ontdek en ‘n mens in eie reg te wees.

Toortsie

Liewe maatjie, hierdie was die laaste van my stories van seuntjies wat op Seuntjie-Eiland woon. Baie keer voel ‘n ou seuntjie dalk nie so slim of sterk of mooi of vinnig of oulik of wat ookal soos ‘n ander seuntjie nie. Dalk voel ‘n seuntjie hy is dom. Of lomp. Of stadig.

Maar weet jy wat? God het elkeen van ons spesiaal gemaak met goeie eienskappe. God het ook vir jou spesiaal gemaak. Elkeen van ons het ietsie goeds in ons en die groot geheim is dat ons daardie ietsie goeds in onsself moet vind en dit nog beter maak. Ook jy is spesiaal. Ook jy het ietsie goeds in jou. En God is lief vir jou. Baie lief.

Om linkshandiges regs te probeer leer

Daar is mense wat dink hul doen linkshandiges ‘n guns om hul sekere take regsom te laat doen. Of dalk doen hul dit vir die snaaksigheid, of hul dink hul weet beter.

My skoonma is onder dwang geleer om regs te skryf, regs te brei, wat nog alles. Sy vertel dit steeds hoe sy maar later oorgegee het en die juffrou haar sin te gee hierin.

My oom het vir die snaaksigheid vir my laat regs eet. Kom ons kyk of jy dit kan regkry. Ek is só spyt daaroor, ek sukkel steeds om sekere kos te sny omdat my regterhand net nie soveel krag in het nie.

Ek het self besluit om eerder regsom kitaar te leer speel omdat ek dan enige kitaar sou kon optel en speel. Wat ‘n dom besluit, ek het myself só gekortwiek, omdat my regterhand net nie ritmiesgewys kan doen wat my linkerhand doen nie.

‘n Tannie vertel my hoe sy kinders leer brei het, en linkshandiges se koppe het sy gou geswaai, sê sy. Ek wou ontplof toe ek dit hoor.

Wie dink ons is ons om enige persoon teen sy eie natuur in verkeerdom te gaan dwing? Kom ons dwing gou al die regshandiges om vir die snaaksigheid linksom te eet, te brei, te skryf, te alles. Dis mos bloot onregverdig en onregdenkend om so iets te doen. Hoekom dink mense dan hul kan dit met linkshandiges doen? Wié dink hulle, is hulle?

Linkshandiges word gebore in ‘n regsom wêreld, maar ek glo dat linkshandiges gebore word met die vermoë om te kan regkom in ‘n regshandige wêreld. Dis ánder mense se persepsies wat veroorsaak dat linkshandiges swaarder kry was wat hulle moet.

Dis vir ‘n linkshandige maklik om iets by ‘n regshandige te leer en uit nature die ding linksom te doen. Ek het leer hekel, leer brei, leer alles by regshandiges en dit was nie vir my vreemd om dit reg te doen nie, net linksom.

Netso het ek vir my regshandige kinders hoeveel vaardighede met my linkerhand geleer, en hulle doen dit regsom.

Onder geen omstandighede moet ons probeer om iemand met sy swakker hand dinge te laat leer nie, behalwe natuurlik as sy sterk hand seergekry het.

Behalwe dat ons die persoon eintlik verswak deur hom verkeerdom te leer, dink ek dat ‘n mens sy aanpasbaarheid ook aantas.

Nou ja, lekker dag! En terloops, hierdie hele stuk is met my linkervoorvinger op my selfoon getik.

Groetnis

Toortsie