‘n Mens kon mos eerder

Die nood is groot in ons land, in die wêreld. Oral gaan mense se harte uit en probeer hulle goed doen aan ander om die situasie te verbeter. Die een persoon gee geld om losloperdiere te versorg, ‘n ander een voel om die Notre Dame te red en skenk miljoene daarvoor, ‘n ander persoon koop poppe vir die Altzheimerlyers, skoenbokse vol bederfies gaan met lorries saam Karoo toe, die ander een gee ‘n toebroodjie vir ‘n bedelaar, iemand gee geld vir die opbou van die Koninkryk, ‘n ander persoon skud ‘n blik vir honger kinders, of samel geld in vir sending.

Net gisteraand lees ek woorde raak wat ‘n mens so baie hoor wanneer iets gebeur en mense hulle harte en beursies oopmaak. Dit was in Johannes toe Maria vir Jesus gesalf het met nardusolie. Dit was geweldige duur olie en meer werd as ‘n jaar se salaris. Dadelik het iemand iets te sê gehad oor die vermoesing: ‘’n Mens kon dit mos verkoop het en die geld aan die armes geskenk het.’

Ja, ons móét waak daarteen om nie onverantwoordelik op te tree nie, veral ook nie by liefdadigheid nie.

Maarrr …

En dís hoekom ek vandag skryf.

Ek dink ons moet ook waak daarteen om te gou te kritiseer en te sê, ‘hulle moes eerder…’

Ek glo met my hele hart dat ons almal verskillend is en dat ons verskillende dinge het wat vir ons belangrik is. Juis dít bring verskeidenheid en help dat daar oral gegee word in plaas daarvan dat alles in een rigting gekanaliseer word en sekere goed heeltemal geïgnoreer word.

Die wonder lê vir my daarin dat die persoon gewillig is om iets uit sy eie sak te haal en daarmee nood te probeer verlig, selfs al is dit op ‘n manier wat anders is as wat ek dit sou doen. Op haar manier maak sy die wêreld ‘n bietjie beter en voel sy ook lekker daaroor, hopelik soveel so dat sy dit weer wil doen.

Kom ons gaan doen goed vandag, elkeen op sy eie manier en maak die wêreld ‘n beter plek.

Toortsie

As ek sou wou

As ek sou wou, kon ek dalk ‘n bankbestuurder geword het. Nou nie oornag nie! Oor ‘n baie lang tyd en baie harde werk en baie kursusse.

Die fondasie was reg gelê. Ek het ‘n kwalifikasie in die handelsrigting, wat ‘n goeie fondament sou wees, sou ek wou. Ek kon dalk in die bank se boekhouafdeling begin werk het, dalk op ‘n stadium die rekenmeester geword het, dan senior rekenmeester en dalk, een dag op ‘n reëndag, ingeroep word en die wonderlike nuus aanhoor: Ek is bevorder tot bankbestuurder! As ek sou wou.

Eintlik weet ek glad nie wat ‘n bankbestuurder alles moet doen nie. Ek neem aan hy moet die bank bestuur, en dit sou ek nogal geniet het, die bestuurdeel. As ek sou wou.

Daar is ‘n ander takie wat bankbestuurders het, en dit is om almal wat geld wil leen, te moet aanhoor. Hy moet simpatiek luister na elke persoon se storie, hy moet deur die persoon se beroerde finansiële state gaan en hy moet besluit of die bank nog weer ‘n keer vir die persoon gaan geld leen. Hy moet besluit of dit ‘n ja is of ‘n nee is en hy moet die boodskap vir die persoon oordra.

En dís die groot rede hoekom ek nie ‘n bankbestuurder wil wees nie.

Kyk, ek is dankbaar vir sulke mense en ek admireer hulle vir hulle werk, maar ek het nie die temperament daarvoor nie, net soos ek nie die temperament het om in ‘n myn te werk, of oumense op te pas nie. Genadiglik het God ons mos verskillend gemaak en is daar mense vir elke werk.

Ek hou ook nie daarvan om, as hulpbehoewendes vir my geld vra, te moet besluit of ek hulle moet help, of nie. Ek wil nie besluit of hulle nood groot genoeg is of nie, of ek vir persoon A moet help en nie vir persoon B nie. En ek hou nie daarvan om hulle weg te jaag nie, dit maak my siek vir twee weke.

Daarom verkies ek om eerder my liefdadigheidsgeld vir liefdadigheidsorganisasies te gee sodat húlle daardie besluite kan neem van wie mag kry en wie nie. Hier is net te veel nood om ons. Dis nie my besluit nie. En ek wíl nie besluit nie.

Want ek het nie daardie temperament nie.

En ek wil nie.

Toortsie