Uiteindelik!

Ja, uiteindelik! My skryfwerk aan Toortsie 3, is dit nie? is sowaar K L A A R !!! Genade, ja genadetjie ons! Weet julle dat die resepte al in O K T O B E R verlede jaar klaar was en dat die foto’s op 26 Oktober 2020 reeds klaar geneem was? Ek moes nog net so twee of drie van die reseppies weer toets om seker te maak dat dit reg is. En dan moes ek die voorwoord skryf …

Maar toe gebeur die lewe. En ek was oorbesig. Heeltemal te besig. En daar het baie dingetjies gebeur wat my aandag geverg het, dingetjies wat eers moes klaar kry. En dan was die lus ook sekerlik nie altyd daar nie. Op die ou end was daar letterlik ‘n dag se werk oor.

So dames en here, so tussendeur my totale gekuier en geklets by die magiese Rebusfontein vandag, ‘n mens sou sweer ek het miljoene woorde present gekry wat net vandag moes gebeur … het ek die werk voltooi.

So Toortsie 3, is dit nie? is nou gestuur na die proefleser, die foto’s en inhoudsopgawe is by Joe-Marie wat die uiteensetting van die boek gaan doen en dan moet ek dit natuurlik nog ‘n honderd keer deurgaan voordat dit na die drukkers gaan …

Ons is daar!

Oh my hat! Dinge is aan die gebeur!

Toortsie

Hierdie week het daar soveel goed in LCHF-wêreld gebeur

Hierdie week het daar soveel goed in die LCHF-wêreld gebeur, of moet ek eerder sê, my LCHF wêreld.

Ek hét mos nou al vertel dat ek my tweede ‘Bantingversary‘ gehad het, ek het verjaar, ek volg die Bantingleefstyl vir twee volle jare!

Capture‘n Ander baie groot opwinding is dat daar ‘n splinternuwe E-Tydskrif vir LCHF uitgegee is! Toe ek gisteroggend wakker word, het dit in my inboksie gelê en ek het nog vir ‘n hele uur heerlik daarin rondgeblaai. Dis vol van voedingsfeite wat ons net móét lees en hoor, oor diabetes, oor metaboliese sindroom en nog vele meer. Dis kleurvol en mooi. Kliek op hierdie skakel om die tydskrif af te laai en op hierdie een om in te skryf daarvoor en sodoende te verseker dat jy dit elke maand kry.  Persoonlik voel ek dat jy op hierdie tydskrif behoort in te skryf, selfs al doen jy nie LCHF nie, omdat dit soveel belangrike inligting bevat.

Nóg opwindende nuus is dat die Engelse Toortsie, Toortsie’s Banting Bash!, by die drukkers is en die proef goedgekeur is, so hulle gaan nou begin DRUK! Nou is dit net daggies voor hulle by my is! Ek is so opgewonde! Net om te wys dat ek nie jok nie, hier is ‘n foto waar die REGTE BOEK in ‘n hand vasgehou word! toortsie's Banting Bash Proef Mensdom! Ek het gedink dis mos nou maar net ‘n vertaling, die opwinding kan nie weer so groot wees nie, maar julle sal nie kan raai hóé my tone krul nie! Ek is net so verskriklik opgewonde!

Nóg opwinding is dat die bestellings so saggies begin inkom. Daar is mos ‘n Pre-Launch Offer by BIDORBUY waar die boek, wat teen R209 verkoop gaan word, bestel kan word teen R180. Dis ‘n eenmalige aanbod en geld tot 2 Augustus 2016. So, as julle vriende het wat graag die Engelse weergawe van die boek sal wil hê, is dit nou jou, en hulle kans om dit vir ietwat goedkoper te kan kry. Kliek net op hierdie skakel. En natuurlik is die Afrikaanse Toortsie se Bantingboerekos steeds beskikbaar deur op hierdie skakel te kliek.

Jammer as ek julle hierdie week soveel gepla het met LCHF. Dit was maar net ‘n opwindende week! Mooi loop!

Toortsie

Ai tog! Hierdie moes eers môre verskyn! Sorrie!

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

 

Happy Birthday!

Ek verjaar vandag! Nee man, dis nie my geboortedag nie, maar die herdenking van die dag wat ek ‘n totale ommeswaai in my eetpatroon en leefstyl gemaak het.

Vandag, 27 Julie 2016, is dit presies 2 jaar sedert ek begin het met LCHF, oftewel Banting, of soos party mense sê, die Tim Noakes dieet. Ek kyk nog steeds net vorentoe en nie een oomblik terug nie.

My eerste uitdaging was om net aan te pas by die nuwe eetprogram, om te onthou wat ek mag eet en wat nie. Nog ‘n uitdaging was om soveel as moontlik hieroor op te lees om myself te oortuig dat dit regtig ‘n goeie ding is. ‘n Groot uitdaging wat ek vir myself daargestel het was om dit vir drie jaar te doen, sodat dit dan ‘n leefwyse is. Wel, twee derdes is verby, en dis al lankal ‘n leefwyse, beslis nie ‘n dieet nie!

Ek wil dit steeds nie op enige iemand afdwing nie, maar ek kan met oortuiging sê dat dit vir my werk. Ek het beslis ‘n eetversteuring gehad en het dit dalk nog steeds, maar met my huidige eetprogram is dit heeltemal binne beheer. My bloedsuiker het geklop aan diabetesstatus, ek was amptelik geklassifiseer as ‘vetsugtig’, of ‘obese’, soos soveel mense praat, ek moes cholesterolmedikasie drink en nog baie ander medikasie ook. My dokter het vir my gesê ek het ‘Metaboliese Sindroom’, dalk nog nie in die ergste graad nie, maar dit was daar. Insulienweerstandigheid was ‘n gegewe.

Wat kan ek sê? Ek is GESOND! Ek het geen suikerverslawing meer nie, my eetversteuring is onderbeheer. Cholesterol? Wat is dit? Bloedverdunners? Hoe nou? Diabetes? Hoe bedoel mevrou dan nou? Vitamienpille? Vir soveel jare het vitamienpille my regop en aan die gang gehou, nou drink ek slegs hier en daar een. Bleekheid? Hoe bedoel jy nou? Kroniese moegheid? Dis weg! Insulienweerstandigheid? Geen probleem!

Presies ‘n jaar gelede het ek aangekondig dat ek ‘n boek wil uitgee en het die blogmaats my so fantasties aangemoedig, ondersteun, raad gegee. Baie baie dankie! Julle is sterre! Nou is die boek al ou nuus, dit verkoop goed, die Engelse vertaling verskyn binnekort, en skielik begin deure vir my oopgaan. Steeds bly my gebed dat ek dit wat oor my pad kom, moet kan hanteer, dat God my die onderskeidingsvermoë sal gee om te sien watter geleenthede ek moet gebruik en watter deure eerder moet toe bly.

Ek is dankbaar. Vir my was dit regtig ‘n verandering van lewenswyse, ‘n verandering waarby ek gemaklik aangepas het en kan volhou vir nog baie lank.

Groetnis

Toortsie

As jy die ‘before’ en ‘after’ wil sien, loop loer op Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad.

Toortsie se faceboekblad

Toortsie by Finesse: Malgas se pont

Engelse voorblad voorblad 001