Toortsie se bydrae oor geldslim kinders

Binnekanttoe het ‘n uiters belangrike onderwerp aangeraak, naamlik, geldslim kinders. Só belangrik dat ek ook ‘n eiertjie daaroor wil lê.

Ons móét ons kinders leer om met geld te werk. Ons móét hulle leer om uit te kom met dit wat hulle het. Dis óns verantwoordelikheid om vir hulle te leer om geld te spaar vir die wis en die onwis en vir oudag. As ons dit níé doen nie, stuur ons ons kinders vir die wolwe die dag as hulle die huis verlaat. Julle kan gerus haar bloginskrywing gaan lees van hoe sy haar kinders leer.

Ek huil nou nog oor kere wat ek streng was met my kinders, wat ek dalk amper onmenslik was, maar ek het ook nie eintlik geld gehad wat ek kon rondgooi nie. As ek vir my kinders geld gegee het om vir ons almal iets by die winkel te gaan koop, moes hulle vir my die kleingeld terugbring, selfs al het ek lelike kyk van ander mense gekry.  Hulle moet dit steeds so doen.

Ek het hulle geleer om spaarsamig te wees, pryse te vergelyk, mooi te besluit waarop hulle hulle geldjie gaan spandeer, maar ek het hulle ook geleer om nie inhalig te wees nie. In die plaasskooltjie het hulle Vrydae winkel toe gegaan en my erg spaarsamige seuntjie het dan niks vir hom gekoop nie. Ek het hou gou geleer om wel iets te koop, want die ander kinders kry hom dan jammer en gee vir hom van hulle s’n, wat ook nie reg is nie. Hy moes leer om ook vir homself iets te gun.

Op toere en kampe was my kinders onder dié wat maar net ‘n handjie vol geld gekry het, nie sakke vol soos van die ander nie. Dit moes vir hulle moeilik gewees het, tog het hulle nooit gekla nie en het hulle uitgekom met hulle geld.

Toe hulle later universiteit toe is, was hulle weer eens nie onder die studente met die meeste sakgeld nie, tog het hulle só mooi met hulle geld gewerk omdat hulle geleer was hoe om daarmee te werk, dat hulle vir hulle waardevolle goed kon koop. Van die ander studente het vir hulle gebyt en gesê hulle kry baie meer, tog het hulle die waarheid geweet van nie geld op enige ding te mors nie.

Nou is ek ‘n ouma wat graag vir my kleinkinders ietsie koop en hulle ‘n bietjie bederf, net soos my ouers ook met my kinders gemaak het. Hulle het mos hulle eie ouers wat hulle weer mooi moet leer.

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

Toortsie by Finesse: Foto’s en die vreugde van saamwees