Geniet jou kos – skryf jou eie mondeling

Kyk hoe slaan ek die bal heeltemal mis! Google het die onderwerp gegee: ‘Geniet jou kos – mondeling’, en ek raak so opgewonde, ek skryf sommer die mondeling, in plaas daarvan om eerder mondelinghulp te gee sodat jy jou eie mondeling kan skryf! Dis tog waaroor dit gaan, jy moet jou eie skryf, nie ek of jou ma of jou ouma nie. 🙂

Dus, as jy ‘n mondeling moet praat oor kos en of jy kos moet geniet of nie, waarmee sal jy begin?

Dink jy ‘n mens mag of kan kos geniet? In vandag se tye wat eet amper ‘n sonde geword het, dink jy regtig ‘n mens mag kos geniet? Mag eet lekker wees? Hoekom voel jy so?

Terwyl jy dan nou dalk noem dat die genot van kos amper sonde geword het, hoekom dink jy het dit gebeur? Wat het gebeur dat soveel mense oorgewig is of selfs vetsugtig, soveel so dat daar nou meer gekonsentreer word op ‘nie eet nie’ as op die genot van kos?

Word die klem dalk op die genot van verkeerde kosse geplaas? Hoeveel het die media hiermee te doen? Wat het die idee rondom kos skeefgetrek dat mense deesdae skuldig voel oor lekker eet?

Hoe voel jy oor gemorskos, en wat, na jou mening, is gemorskos? Hoekom is dit gemorskos?

Hoe voel jy oor verwerkte kos wat ‘n mens in boksies en pakkies koop? Dink jy dit is net so gesond soos die kos wat julle in die huis sou eet en maak?

Wat, na jou mening, is gesonde kos? Kan gesonde kos lekker wees? Dink jy ‘n mens kan gesonde kos geniet, of is ‘gesone kos’ ‘n straf? Dink jy dat gesonde kos lekker voorgesit kan word?

Wat, na jou mening, is gesellige samesyn rondom kos? Hoe sal jy dit beskryf? Doen julle dit in julle gesin, deur soms saam te eet, of gryp elkeen maar sy kos en gaan sit waar hy wil, iewers in ‘n rusbank?

Maak julle ‘n gesellige geleentheid rondom die etenstafel, of op die stoep, of op die gras?

Watter oulike maniere is daar om gesellig rondom kos te verkeer? ‘n Piekniek dalk? Saam op die gras? Onder ‘n boom?

As slotsin, dink jy ‘n mens mag kos geniet, en hoekom?

Vir nog opstel- en mondelingonderwerpe, kyk HIER. En onthou om erkenning aan Toortsie se blog te gee as jy hierdie inligting gebruik.

Vir die blogmaats is die uitdaging: Skryf ‘n bietjie, is kos daar om te geniet of nie? Onthou om hierdie bloginskrywing te ‘tag’.

Groetnis

Toortsie