Die stof het gaan lê

Ná ‘n ekstra woeste tien dae van kosmaak teen topspoed, vinnig planne maak, breinselle gebruik wat ek het en nie het nie, het my kop stilgestaan teen Donderdagaand, my oë stokstyf in my kop. Jy kon geen bruikbare reaksie uit my brein verwag nie en elke woord wat uit my mond gekom het, moes jy met meer as ‘n knippie sout neem.

Die stof het gaan lê. Wat is die slaap? ‘n Wondersoete ding, het een of ander baie bekende digter gesê. Sy naam is iewers in my brein se argiewe weggebêre. Diepppp.

Ek het nog altyd geweet die groep vroue en man wat God my gegee het vir ‘n Bybelstudiegroep is uitgesoek met die hand. Vrydagoggend het hul groepleier ‘n ronde nul op ‘n kontrak beteken. Haar kop het nie geraas nie, nee, haar kop was doodstil. Maar húlle is goud werd. Weer eens het ons ‘n wonderlike Bybelstudie gehad. Want sien, niks het eintlik verander nie. Elkeen in ons groepie stap ‘n wonderlike pad met ons Here en elkeen dra elke keer soveel by, ons leer by mekaar. Ek is eintlik net die koördineerder. Almal dra by.

Met die kinders wat die naweek kom kuier het en ‘n rustige atmosfeer van lekker saamwees, het die stof in my kop gaan lê. Daar is nog 12 maklike en vinnige kossies wat gemaak moet word môre. Dan is ons klaar.

Mense! Ek is opgewonde! Die foto’s is fantasties verby! Ons is presies dieselfde span wat die vorige twee boeke ook gedoen het. Ek kan letterlik sien hoe ons al drie gegroei het.

In die afgelope twee maande het ek twee uitmergelende moeghede ervaar. Met die Baviaans Camino was dit liggaamlike moegheid. Hierdie keer was dit kopmoegheid. Dis goed om dit te ervaar.

Ek is reg vir wat voorlê.

Fotograaf: Lize Venter. Stilis: Lizelle du Toit. Kosmaker: Toortsie (Madelé Burger)

Toortsie 3, is dit nie?

Toortsie