Is ‘n lae koolhidraat dieet gevaarlik?

O, nee, ek weet glad nie! Ek is mos nie ‘n dokter nie! Hierdie foto het Ditchthecarbs op Instagram gesit en na aanleiding van dit skryf ek hierdie bloginskrywing.

Genadiglik is daardie debatte verby, of Banting volhoubaar is, of dit gesond is, ens. Of dalkies kry ek net nie meer met dit te doen nie. Ek sien ook nie meer vreeslik artikels om die gesondheid daarvan te bewys nie, ek het dit nie meer nodig nie.

Toe ek destyds op my blog aangekondig het dat ek die Bantingleefstyl volg, het iemand vir my gesê: ‘Jy is seker nie ernstig nie.’

Ek het baie dinge aangehoor, dat, as jy Banting doen, jy nie eintlik moet oefen nie, of, dat jy juis baie moet oefen en jy nie die dieet kan volg as jy min oefening kry nie. Banting sou jou na ses maande inhaal, dis ook in my gesig gesê deur ‘n kenner, eerstens dat jou cholesterol jou iewers gaan inhaal, en aan die anderkant, deur dieselfde kenner, met ekstra groot oë, dat as jy Banting begin, jy dit nooit weer sal kan stop nie, want dán gaan jou cholesterol jou probleme gee. Ag, daar was nog doemstories. Party het gesê, probeer dit maar vir ‘n rukkie. ‘n Goedbedoelende het vir my ‘n e-pos gestuur van ‘n tweeling wat die toets gedoen het, een het gebant, die ander een nie. Al verskil aan die einde was dat die Banter ‘n slegte asem gehad het.

Wel, ná vyf jaar van Banting moet ek bieg: Ek het nie na die doemprofete geluister nie. Ouch! Ek was sowaar ernstig toe ek gesê het ek doen dit nou. Ek het sowaar aangehou en dit nie na ‘n rukkie gelos nie. Soms het ek, terwyl ek die leefstyl volg, minder geoefen en ander kere meer. My cholesterol het my sowaar nie na ses maande ingehaal nie. Ag, die metaboliese sindroom wat ek gehad het, het ook saggies die wyk geneem. My bloedsuiker word deesdae nie eers meer getoets nie! Ek kry komplimente vir my vel wat mooi is, my hare groei teen ‘n spoed, ag, daar is te veel om op te noem.

Maar die lekkerste lekker was hierdie week toe die narkotiseur opgewonde vir my gesê het hoe lekker dit is om vir ‘n ‘gesonde’ mens narkose te gee, en weer, toe ek so aan die slaap raak, was die laaste wat ek hoor toe hy dit in die teater herhaal. Ek het sommer met ‘n glimlag weggesweef.

Banting, jou lekker ding!

Of dit gesond is vir jou wat hier lees, weet ek nie, dis iets wat net jy en jou dokter oor kan besluit, maar vir my het dit beslis gewerk, werk dit steeds. Ek stap lag-lag apteek toe, want my voorskrif is aansienlik ligter as wat dit voorheen was.

Toortsie

Advertisements

Om vyf jaar op ‘n eetplan te wees

As alles goed verloop en ek nie iets groots oorgekom het voor dan nie, sal ek op 27 Julie 2019 reeds vyf jaar die Bantingleefstyl volg. Waar ek graag die vyf jaar beklemtoon om vir mense moed te gee dat die leefstyl volhoubaar is, kom ek agter dat ek soms mense ontmoedig.

Want sien, ons kom mos al die jare so aan: Ons volg gou vir ‘n rukkie ‘n verslankingsdieet, net om die paar kilo’s af te skud en dan gaan ons mos maar weer aan met ons gewone lewe. Daai spesifieke leefstyl wat ons in die eerste plek gekry het sodat ons ‘n verslankingsdieet nodig gehad het. Ek het dit ook so gedoen.

Toe ek in 1988 by Weigh Less aangesluit het terwyl ek amptelik eintlik amper onder gewig was, het tannie Mags vir my gesê ek maak ‘n groot fout. Plaas dat ek na haar geluister het. ‘Nee tannie’, het ek beterweterig en lag-lag gesê, ek wil sommer net so 2 of drie kg verloor.’ Mooi man. Ek hét daardie 3 kg verloor, my metabolisme deurmekaargegooi, dit weer so vinnig soos wit lig opgetel, plus nog ‘n paar. En daar het die wipplankryery begin. Dan sluit ek weer aan by ‘n dieetklub, of drink pilletjies of melkskommels of gaan na die buurvrou se drilmasjien. Soms verloor ek die paar kilo’s, soms nie, maar kort voor lank is ek terug waar ek begin het, plus nog ‘n paar. Totdat ek vetsugtig was (obese).

Dus, vyf jaar gelede toe ek begin het met Banting, het ek ‘n kopskuif gemaak. Ek het gesê dis die LAASTE KEER wat ek met ‘n gewigsverliesprogram gaan begin. Hierdie keer gaan dit ‘n leefstyl word. Ek het ook besef dat die eerste keer wat ek van die bus gaan afval, dit verby gaan wees en besluit dat ek net sal moet volhou.

Die 18 kg het ek in omtrent ‘n jaar na 2 jaar se tyd verloor. Dit wys nie noodwendig so goed op my ‘before’ en ‘after’ foto’s nie omdat ek nie regtig goeie ‘before’-foto’s het nie en omdat ek so lank is. Dit is nie so ‘n massiewe verskil soos wat 18 kg by iemand het wat kort is nie.

Steeds sê ek dankie vir hierdie leefstyl. Ek is gesonder, baie meer energiek, ek voel goed en ja, ek voel goed in my lyf. Ek is trots daarop dat dit ‘n volhoubare program is en dat ek nie meer wipplank ry soos in die verlede nie. Om die waarheid te sê, ek het deesdae heeltemal te veel klere omdat die vorige jaar se klere steeds pas!

Groete

Toortsie

Wat is verkeerd met nou?

Vanmiddag tydens etenstyd dink ek daaraan dat dit binnekort vier jaar is sedert ek besluit het om die Bantingleefstyl te volg. Vier jaar wat soos ‘n gedagte omgegaan het. Vier haar wat sekerlik nie altyd maklik was nie, maar beslis nie onmoontlik of onuitvoerbaar was nie.

Onwillekeurig dink ek toe aan die doemprofete van daardie tyd en wat van hulle geword het. Met soveel oortuiging het hulle die leefwyse verdoem, het hulle ‘navorsing’ geskree, dat dit ‘nie volhoubaar is nie’, dat ons lewer en niere gaan oppak, ‘dat ek sekerlik nie ernstig is nie’, dat ek dom is, dat ‘n mens ‘moet oefen’ en ‘nie moet oefen’ as jy Bant nie. Die een was slimmer as die ander en het mekaar weerspreek, die ergste was ‘n dieetkundige wat my regtig ernstig aangespreek het, en haarself weerspreek het in die twee sinne wat sy gesê het. Ek het haar net gevra of sy Tim Noakes se boek gelees het.

Maar dit nou daar gelaat. Waaroor ek ook gedink het, was dat ek op ‘n Saterdagaand besluit het om dit die volgende dag te begin. ‘n Besluit wat oornag geneem is.

En ek het begin met letterlik niks in my huis nie. Al wat ek gehad het, was twee ouerige eiers, ‘n stukkie botter en swak gehalte wors wat iemand in my strandhuis se vrieskas vergeet het.

Ek noem dit om ‘n baie defnitiewe rede: Jy hoef nie winkel toe te gaan en duisende rande se vreemde items te gaan koop nie. Kyk wat jy in jou koskaste het, daar is dalk baie meer as wat jy dink!

Die ander rede is: Begin NOU. Vandag. Selfs al het jy al vanoggend stysel geëet, dit maak nie saak nie. As jy wil Bant, doen dit nou. Die grootste tree wat jy moet neem, is die eerste tree. Neem dit. En die eerste tree sal jou die moed gee vir tree nommer twee.

Steeds bly my raad: Ken jou dokter hierin en onthou, jy doen dit op eie risiko. Ek dwing jou nie om dit te doen nie. Ek belowe ook nie resultate nie.

Maar, as jy dit doen, doen dit voluit. Dit het vir my gewerk, ek hoop dat jy ook suksesvol is daarmee.

Groete

Toortsie