Kantelpunt

Ek kry die laaste tyd net nie meer behoorlik tyd om te lees nie. Nie blogs nie, nie boeke nie. Tog lees ek baie. Dit klink my of ek uit twee monde praat. Want snags wanneer ek in die middel van die nag vir ‘n uur of wat wakker lê, lees ek boeke op my selfoon om sodoende hopelik nie my man te pla nie. Ek lees tans aan twee boeke: Lore of Nutrition (Prof Tim Noakes) en After the Rapture (David Jeremiah).

Toe ontdek ek oudioboeke. Ek het LIbby op my foon afgelaai, aangesluit by ons plaaslike biblioteek en by Libby aangesluit. Dáár kan jy e-boeke leen, maar ook oudioboeke. Ek kan sit en boeke luister terwyl ek my administratiewe werk doen, brei, hekel, borduur, kos maak. Wat ‘n fees! Ek het al Bookshop by the Sea (Denise Hunter) en A Distant Shore (Karen Kingsbury) gelees en kan albei van hulle aanbeveel.

Die laaste boek wat ek gelees het, was Kantelpunt (Sophia Kapp).

Terwyl ek dit luister, het verskeie emosies deur my kop (of hart?) gegaan. Want, nes Nellie, is ek ook ‘n vrou wat in die 1960’s gebore is. Ook Afrikaanssprekend. Ek verstaan waarvan sy praat. Natuurlik nie altyd in dieselfde graad as wat sy dit beleef nie, maar ek weet waarvan sy praat.

Heeltyd weet ek dat ek oor hierdie boek iets sal wil skryf, maar wat? In die begin is Nellie oortuigend negatief. Wroeg sy oor baie dinge. Sy beleef goed wat Afrikaanssprekende vroue uit die sestigerjare beleef. Sy beleef die konvensies waarmee ons grootgeword het. Dinge wat ons dalk maar net aanvaar selfs al stem ons nie saam daarmee nie. Sy praat oor dinge waaroor vroue van ons era nie normaalweg praat nie ter wille van vrede. Om nie die mense om ons te ontstel nie. Mense nie ongemaklik te maak nie.

Maar Nellie het ‘n stem en sy begin leer hoe om dit te gebruik. Dalk nie altyd soos ander wil hê sy moet dit gebruik nie, maar wel. Sy maak foute wat dalk nie foute is nie. Sy leer haarself ken. Sy leer die waarde in haarself ken. Sy spreek heilige koeie aan en kry nie altyd die reaksie wat sy verwag nie. Net soos wat ek dit ook nie altyd kry as ek dit doen nie. Want heilige koeie wil nie aangespreek word nie. Heilige koeie is heilige koeie om ‘n rede en dit moet in plek gehou word ter wille van dit wat ‘normaal’ is, selfs deur hulle vir wie dit benadeel. Want samelewing vereis dit.

Al wat vir my hartseer is is dat sy nooit haar amper wrewel teen die kerk laat vaar nie. Dat sy nooit God in Sy liefdevolheid, Sy Grootheid, leer ken nie. Dat sy nooit te doen kry met kinders van God wat haar regtig van Sy liefde leer nie, of, as sy wel met hulle te doen kry, dalk dit nie ervaar nie of dit verkeerd ervaar? Want kinders van God maak ook foute, dra dalk die boodskap op ‘n manier oor wat daardie persoon nie op daardie oomblik reg verstaan nie. Kinders van God mag dalk ook soms verkeerde redes hê hoekom hulle in Sy Naam optree.

Ek is baie bly dat ek die boek gelees het. Dat ek die groei in Nellie kon beleef en op soveel maniere daarmee kon identifiseer. Ek is trots op die Nellies in die samelewing. Die Nellies wat bereid is om stroomop te swem. Want stroomop swem is nie maklik nie. Dit is beslis ‘n boek wat alle vroue kan lees. En mans? Wel, as hulle dit sal lees met ‘n ontvanklike hart, kan dit ook vir hulle goed wees om te lees.

Ek is bly dat Nellie ‘n stem het. Ek is bly dat ek ‘n stem het.

Knap gedaan, Sophia Kapp. Knap gedaan.

Toortsie

xxxis

Nou, met Prins Harry en Meghan Markle se onderhoud met die pers, word baie heilige koeie op die tafel gesit. Ek het ongelukkig nie die onderhoud gekyk nie, maar sal nog mettertyd ‘n bietjie daaroor wil lees. Dit klink my dat rassisme sommer nou ook een van die onderwerpe is wat aangeroer word.

Ek dink dat, diep in ons harte, elkeen van ons tog ‘n mate van rassisme het. Ek probeer om dit regtig nie te wees nie. ‘n Rassis nie. Want elke mens is ‘n skepsel van God en daarom vir Hom van waarde. Tog is dit vir my mooi om te onthou hoe ons ‘n Italianer kon uitken. Of ‘n Portugees. Aan sy gelaatstrekke. Of ‘n Sjinees, al dink ek ons gee sommer al die Oosterlinge die naam, Sjinees. Maar, om iemand uit te ken dat hy aan ‘n sekere ras behoort, beteken nie dat ek dink ek is meer of minder werd as daardie persoon nie. Of dat ek nie met hom sal praat nie.

Nou die dag hoor ek ‘n ander term: Klassis. Ook waar. Dalk is daar mense by wie ek gemakliker gaan voel as by ander. Maar dat ek ‘n klassis is? Ek hoop nie so nie. Of nie té erg nie.

Snobis?

Oeeee, maar wat ek dalk erg is, is ‘n integri-is. Integritis? Integrïs. ?? Ek weet nie of daar so ‘n benaming is nie en wat die regte benaming is daarvoor nie. Integriteit tel vir my baie. Eerlikheid. Opregtheid. ‘n Persoon wat my in die oë kyk sonder ‘n verskuilde agenda. Daardie persoon trek my nader, ongeag of hy blou of pienk of rooi is, of watter taal hy praat.

Of belangstellings. Dis wat my trek. Mense met wie ek lekker kan gesels en kuier wat my belangstellings deel.

En waardesisteme. Dit is nogal vir my belangrik. Eintlik baie belangrik.

So, wat ek wil sê, is dat dit vir my belangriker is wat in die persoon se hart aangaan as in sy beursie, of wat ek dink in sy beursie aangaan. Dat sy beursie my glad nie pla nie. En dat die hart vir my belangriker is as sy afkoms of sy ras of klas of kleur of taal. En of hy met die trein of die vliegtuig gery het. Natuurlik is dit net baie makliker om met ‘n Afrikaanssprekende persoon te kommunikeer wat dieselfde belangstellings as ek het.

Mooi loop

Toortsie

Wat jou kliënte nie wil hoor nie

Dienslewering het regtig ‘n probleem in SA geword en menige mense kan daarvan getuig. Daar was ‘n ou gesegde dat die kliënt altyd reg is, en dit is sekerlik nie waar nie en baie kliënte verwag die onmoontlike of tree onprofessioneel op. Daar is egter ‘n paar punte wat ek graag wil noem rondom dienslewering en jou kliënt.

Maak jou dienslewering jou prioriteit en jy sal verseker altyd kliënte hê. Dien hulle na die beste van jou vermoë en jy sal ‘n gewaardeerde en lojale kliëntebasis opbou.

Laat jou ja ja wees en jou nee, nee. Dit staan in die Bybel en dit is baie waar. Hou by jou beloftes. As jy vir jou klant iets belowe, kom dit ná, al verg dit wat ook al van jou. Slegs in die alleruiterste geval kan jy vir die klant vra vir uitstel, en dan met ‘n regtig grondige rede waarvoor jy op geen manier ‘n uitweg kon vind nie. Sou jy agterkom dat jy nie jou belofte kan nakom nie, laat weet die kliënt betyds. Moenie goed belowe en dan net stilbly en dit nie nakom nie.

Moenie meer werk aanvat as wat jy kan hanteer nie. Slegs jy weet hoeveel tyd jy tot jou beskikking het en wat in jou dagboek staan.

Ja, die verkeerde dinge gebeur op die onmoontlikste tye en gewoonlik sal ‘n klant dit verstaan, maar as dit keer op keer gebeur en jy geen oplossing daarvoor probeer kry nie, gaan die klant se geduld nie hou nie. Iewers gaan die klant se geduld opraak.

Die klant wil nie hoor van al die opofferings wat jy moes en moet maak om haar te dien nie. Jy het aangebied of getender om die werk te doen, jy het jou prys vasgestel, jy moet sorg dat jy dan by jou aanbod hou, selfs al gebeur daar onbeplande dinge.

Jou klant wil nie hoor hoe besig jy is nie, of van jou huislike probleme nie. Hy wil ook nie hoor van jou ander kliënte en hulle probleme nie. Solank die werk op datum is, is die klant heeltemal gewillig om te luister en te verstaan, wanneer jy die een na die ander verskoning begin gee en nie produseer soos belowe nie, wil die klant nie meer hoor nie. Al wat hy wil hoor, is dat hy en die werk wat jy vir hom moet doen, vir jou belangrik is, dat jy daaraan aandag gee en jou uiterste bes doen om dit op tyd af te handel.

Moenie vir jou klant jok nie. Moenie jou klant se intelligensie onderskat nie. Onthou, soms kan hy daardie ding selfs beter as jy doen, hy verkies net om iemand te kry om dit vir hom te doen.

Tree met integriteit op.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Die kleinkinders

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap