Mense wat inspireer

Mense wat inspireer, is my inspirasie. Mense wat die ekstra myl loop sonder dat hulle gevra word. Sonder dat hulle betaal word. Sommer net omdat hulle wil. Mense wat daardie klein verskilletjies maak daar waar hulle is met wat hulle het. Mense wat saakmaak. Wat omgee.

Soos die mense wat klippies verf en wegsteek sodat ander daaruit genot kan kry. Of mense wat beertjies brei vir kinderhospitale. Wat poppe uitdeel in die altzheimersafdeling.

Mense wat bakkies vol hoop volmaak en uitdeel. Roomysbakke, joghurtbakke, die plastiekbakkies waarin groente verpak is, botterbakkies. Gevul met iets lekkers. Dalk ‘n vrug, ‘n tamatie, ‘n botteltjie vissmeer, ‘n rolletjie lewerpatee, ‘n malvalekker of twee, stokkielekker, ‘n sappie, suurwurms, los lekkers, fizzers en daar waar die Gees jou lei dit in iemand se hande sit. Dalk die man wat op pad terug is na ‘n dag se werk, ‘n bakkie bederf om by die huis aan te bring. Of dalk vir die mamma met die baba op die rug en nog ‘n kleintjie aan die hand wat dalk nie weet hoe sy vanaand al die magies gaan vul nie. Of dalk die vriendelike besemverkoper op die hoek? En wat van ‘n mooi hoopvolle briefie ook in? Jesus is lief vir jou. Of wat jy ookal wil skryf.

Elmae Rabie is so ‘n vrou. Een wat die ekstra myl loop. Sy is juis bekend daarvoor dat sy die ekstra myl loop vir diere wat nie vir hulleself kan sorg nie. Vanoggend het sy op facebook ‘n plasing: Die plantetafel sal weer vandag voor haar erf beskikbaar wees. Kom haal vir jou ‘n vetplantjie. Verniet. Met liefde gegee.

Is dit nie kosbaar nie?

Toortsie

Toortsie’s One liner Wednesday

2019, the year of new beginnings!

JusJoJan #2

Ek is opgewonde oor 2019 Jot#2

Ek is opgewonde oor 2019.

Vir ‘n hele ruk was ek bang vir 2019, omdat daar ook maar baie onsekerhede is, maar elke jaar hét mos maar sy onsekerhede.

Ons woon in Suid-Afrika en niemand kan dit ontken dat hier nie vragte onsekerhede is nie. Ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie en met soveel swaarde wat oor ons koppe hang, kan ons ook nie altyd seker wees dat die besluite wat ons maak, sal realiseer soos ons dit wil hê nie. Ons voel onseker oor die ekonomie, die politiek, ons veiligheid, noem maar op! Ons verhoudings wil ook nie aldag werk soos dit moet nie. En dit kán ons depressief maak, bedruk.

Maar as ons regtig mooi dink en eerlik is, hou elke jaar sy onsekerhede in, elke jaar is die politiek maar lus om onstuimig te raak, die ekonomie lus om in duie te stort, verhoudings is broos, jaar vir jaar.

En dis juis dít wat my moed gee, want te midde van al hierdie hartseer en onsekerheid, is daar ook jaar vir jaar soveel positiewe goed wat gebeur, positiewe dinge wat na ons kant toe kom, geleenthede om te benut, deure wat oopgaan. Ons pas aan by die nuwe omstandighede, ons raak sterker.

Ek glo met my hele wese dat elkeen van ons gemaak is vir die tyd waarin ons lewe, dat ons spesifieke eienskappe besit om juis die uitdagings van hierdie tyd te kan oorleef, dat ons toegerus word om die dinge te kan hanteer.

Verder het ek ook geleer dat dit juis in die moeilikste van tye is wat ons groei op geestelike, emosionele en ander vlakke.

En as jy die Sleutel in jou hand het, God opsoek, jou vertroue in Hom stel, kan jy die toekoms met durf tegemoetstap in die wete dat Hy saam met jou stap deur die mooiste van paaie, maar ook die moeilikstes. Dít kan ek met ‘n oop gemoed getuig omdat dit presies is wat ek doen, met my hand stewig in God se Groot Hand, veilig deur die woeste storm, omdat Hy die groot prentjie sien, die pad ken.

Ek is opgewonde oor 2019.

Toortsie

#JusJoJan

Streef jou droom na? #JusJoJan

Wat verkies jy? Om jou droom na te streef? Of eerder ‘n pad vol verrassings?

As daar een mens is wat sal sê, streef jou droom na, is dit ek, maar terselfdertyd hou ek ook van ‘n pad vol verrassings. Al wat ek glad nie kan hanteer nie, is om doelloos rond te dobber en toe te laat dat jy meegesleur word deur enige gety.

Pad vol verrassings?

Dis hoe my lewe al hoe meer raak. Ek stap die pad wat die Here vir my uitlê en weet glad nie wat om die volgende draai gaan gebeur nie.

Soms voel ek bang, benoud, selfs depressief, en dan kom maak Hy my rustig en sê, ‘sjoe, sjoe, wees jy net rustig, Ek kyk na jou soos ‘n mens na ‘n baba kyk’, of, hiervoor is jy nie verantwoordelik nie, moenie verantwoordelik voel en dan sleg voel nie, dis dinge buite jou beheer.

Ek vertel vir iemand die pad wat ek met my boeke stap. Dit was geen begeerte by my dat ek ‘n Boek met My Naam op moet uitgee nie, dit was eerder ‘n uitdaging: Sal ek so iets kan regkry?

Dit was egter ‘n uitgelegde pad wat ek net moes stap in afhanklikheid van die Here. Hy het elke hekkie vir my oopgemaak op die onmoontlikste maniere denkbaar. Hy het die regte mense oor my pad gestuur op die regte tye, raad gegee op die interessantste maniere. Sou ek die pad nie stap nie, sou dit ‘n daad van ongehoorsaamheid wees.

En dis hoe ek steeds die pad van die boeke loop. Baie vra my of daar ‘n boek 3 gaan uitkom, en ja, ek werk aan hom en het al gesê dat ek hoop om dit in 2019 te doen, maar net die tyd sal leer. Ek sal, wanneer God daardie hekkie oopmaak, weet om dit te doen.

Intussen stap ek hierdie pad vol verrassings in verwondering en geniet elke treetjie daarvan in dankbaarheid, dankbaar vir elke tree wat God langs my stap, want sonder Hom sou my lewe ‘n fiasko wees.

Mag 2019 vir jou goed wees. Wees doelgerig, wees sterk, wees vasberade, maar wees ook swak, want dis juis wanneer jy swak is, wat God Sy krag die meeste in jou sigbaar maak. Mag jy in 2019 ‘n verskil maak.

Toortsie

This post is part of the Just Jot It January Challenge.