#Imagine! 2016

Hierdie naweek is dit weer #Imagine! Ek raak sommer net opgewonde as ek daaraan dink, want regoor die land gaan daar duisende tieners bymekaar kom vir die naweek en God loof en prys en eer. Hulle gaan nuwe dinge leer, hulle gaan positief beïnvloed word vir die toekoms, hulle harte gaan verander, hulle lewensloop gaan verander. Hoe fantasties! Hoe opwindend!

#Imagine! is ‘n beweging wat 100% gemik is op tieners. Dit word op drie plekke in SA aangebied. Verlede jaar was daar net by die Bredasdorp saamtrek 4000 tieners gewees, vanjaar hoop hulle vir 5000! 5000 tieners wat die ervaring van hulle lewe gaan hê.

Die toekoms van ons land lê in die hande van ons jeug. Ons kan ons skouers optrek, kla, bekommerd wees, of ons kan daadwerklik deelneem en sorg dat ons eie toekoms in goeie hande geplaas word. Hoe? Deur sulke positiewe aksies, soos #Imagine te ondersteun. Ons kan ons hulp aan te bied, want hulle het altyd vrywilligers nodig. Al daardie duisende kinders moet kos kry in ‘n ekstra kort tydjie. Vir elke 8 of 10 tieners is daar ‘n volwassene nodig wat daar is om te help om die kinders te koördineer. As jy naby een van die plekke is wat dit aanbied, hulle het byvoorbeeld bakkies nodig om die kinders te vervoer van die registrasieplek tot by hulle tentjie. Hulle het tente nodig! Natuurlik is daar altyd die behoefte aan fondse. Ken jy ‘n tiener? Stuur hom of haar asseblief na #Imagine en maak ‘n verskil! Borg vir hom/haar sy/haar toegangsfooi van R400, of dalk, net ‘n gedeelte daarvan. Dalk ken jy ‘n volwassene wat graag sal wil gaan kamp saam met die tieners, vir R500. Dalk kan jy vervoer aanbied tot by die naaste kamp?

Daar is SOVEEL wat ons kan doen, ek het net ‘n paar genoem. Wat ek weet uit eie ondervinding is die groot verskil wat sulke kampe in my eie, en ook my kinders se lewens gebring het. Imagine, stel jou voor, dink net, as daar 400 tieners van ‘n dorp, van alle rasse en klasse, so ‘n naweek ervaar het en terugkom in hulle skole, WAT ‘N VERSKIL maak hulle nie in hulle skole en gemeenskappe nie? Kan jy jou voorstel? Kan jy jou voorstel as 20 000 tieners landwyd so ‘n kamp bywoon, tesame met nog ‘n 2 000 volwassenes wat ook alles bywoon, WAT ‘N VERSKIL kan dit nie maak nie?

Maak ‘n verkil! #Imagine!

Toortsie

#Imagine! Faceboekblad

Toortsie se Faceboekblad

Toortsie by Finesse

 

Die waarde van kampe

Dit geld seker vir enige kamp: koorkamp, rugbykamp, noem maar op. Daardie ding van ‘n naweek konstruktief op ‘n sekere iets fokus. Jare gelede was ek op ‘n kamp, kan nie onthou watse kamp dit was nie, maar daardie keer het hulle van ons patriotte gemaak soos nooit tevore nie. Ons is die wêreld in SA. Al is ons ‘n klein landjie, gebeur alles wat in die res van die wêreld gebeur, ook hier. Dit was in 1979 toe SA nog ver van die res van die wêreld was. Ek wonder hoeveel ons koppe dalk daardie naweek in ‘n sekere rigting geswaai was …

Waaroor ek eintlik wil skryf, is geestelike kampe. CSV kampe. Kerkkampe. Uitreike. Stranddienste. Huweliksverrykingskampe.

Stranddienste. Vakansiedienswerk. As daar één ding is wat absoluut uitstaan in die vorming van my eie geestelike lewe, is dit stranddienste. My ma het in haar jongdae stranddienste toe gegaan op Kleinmond. Sý het my weer as jong laerskooldogter aangemoedig om dit by te woon op Struisbaai. Die groot keerpunt het gekom toe my niggie in my st 4 jaar die spanma was. Ek het geboer by die stranddienstent, aan die lippe gehang van die studente wat spanlede was. Sonder dat ek besef het, is my lewe gevorm, my paadjie uitgelê in ‘n ietwat ander rigting as wat dit andersins sou wees.

Jaarliks het ek gedurende die Aprilvakansie die ACSV Dogterskampe bygewoon. Sielsveranderend. In my universiteisjare, die eerstejaarskamp en tweedejaarskamp bygewoon wat ons kerk aangebied het.

Soveel jare later volg my kinders in dieselfde voetspore. Hul woon ook die kampe by, gaan op uitreike, hou stranddienste.

Ek dink ek hét al hieroor geskryf, maar dit bly vir my uiters belangrik, ek wil graag nog wéér hieroor skryf. Ek sal nooit uitgepraat kan raak oor die geweldige impak wat dit op my geestelike lewe as jong tiener gehad het nie, oor die verdieping in my geestelike lewe en wat veroorsaak het dat ek steeds meer en meer die regte pad wil stap, dieper wil lees nie. Ek wil veral vir ouers aanraai: Stuur julle kinders op sulke kampe en uitreike. Dis iets waaroor jy nooit spyt sal wees nie. Stuur hulle, maak dit vir hulle moontlik, natuurlik net as hulleself belangstel om te gaan, nie onder dwang nie. Daardie kampkoste is ‘n finansiële belegging in hulle geestelike welvaart, ‘n belegging wat vir jou soveel meer gaan teruggee as wat jy ooit sal besef. Orals word daar sulke kampe aangebied, spits net jou ore en jy sal hoor daarvan. Sommer in Maart/April word Imagine aangebied. Vind asb uit daarvan en stuur jou kind. Dis fantasties. Sielsveranderend. Dalk kan jyself saamgaan as groepleier. Jy sal nie spyt wees nie. Ons land se toekoms is in die hande van die jeug. Kom ons help hulle om die regte pad te loop, om die land in die regte rigting te stuur. Kom ons maak ‘n daadwerklike verskil.

Het jyself nie ‘n tiener om te stuur nie? Borg dan iemand. Daar is soveel pragtige jongmense met soveel potensiaal wat nie die fondse het om dit by te woon nie. Maak dit vir hulle moontlik deur jou borgskap.

Pay it forward.

Groete
Toortsie