#Imagine the pink

Past squares – In the Pink

Die opdrag: Fokus op pienk uit die verlede. Die foto moet ‘n vierkant wees. (As ek dit reg verstaan)

#Imagine-Bredasdorp 7 April 2018

#Imagine is ‘n tienersaamtrek wat jaarliks op ‘n paar plekke in die land gebeur. Altans, dit was voor Covid. Dan kom duisende tieners in die land byeen en loof die Here, kry lering oor verskeie onderwerpe, ook hoe om pyn te hanteer. Innerlike pyn.

Ek was al ‘n paar keer by #Imagine betrokke – om kos uit te deel en om stukkende tienerharte met liefde aan te raak.

Ek is baie opgewonde oor #Imagine en dit is my wens dat dit binnekort weer sal kan gebeur.

Want ons jeug is ons toekoms. En as ons ons toeners ignoreer, mors ons met ons toekoms. Ons land het pragtige tieners. Kom ons koester hulle.

Toortsie

Geloof in dit wat jy nie sien nie

Na aanleiding van Hebreërs 11:1, Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie, skryf Susan Coetzer in Smarties vir die siel dat geloof juis andersom werk as die normale lewe. Ons moet juis die kans vat en glo soos ‘n kind sonder om eers ‘n bewys te vra. Om die risiko’s te neem, te glo in die Lewende God, en te wen.

Sy verwys na soveel mense wat die lotery speel, in lang rye staan om die kaartjies te koop, hulle geld vermors en ‘hoop’ en ‘glo’ dat hulle gaan wen. Hoekom dan nie eerder hierdie kans met God waag nie?

Sy daag ons uit om op te tree, op te hou wonder en doodeenvoudig ‘n wilsbesluit neem om te glo en as jy dít gedoen het en God begin opsoek, sál Hy van Sy geheime aan jou begin openbaar.

En daarvan kan ek, Toortsie, getuig. Eens op ‘n tyd het ek gekies om te glo dat Hy die enigste Lewende God is en dat Jesus die enigste verlosser is. Ek het dit dalk nie blindelings gekies nie omdat ek in ‘n Christenhuis grootgeword het. Prys die Here tog daarvoor.

Vandag, egter kan ek met ‘n oop gemoed sê dat ek dit glo en dit weet, nie blindelings nie, maar uit ervaring omdat Hy dit al op soveel maniere vir my bewys het. Hy is daagliks by my betrokke en ek by Hom.

Hier is my getuienis:

My jaar het woes begin en ek kom nie by TPM (Transformation Prayer Ministry) uit nie, nie vir myself nie, ook nie vir ander mense nie. Skielik wonder ek: “Is TPM regtig die ding wat ek moet doen? Is dit iets wat ek moet uitbou?’ Binne ‘n week stuur God vir my twee kliënte, sommer op een dag! Toe kom #Imagine en die Vrydag wonder ek of dit nodig is dat ek gaan. Ek meld wel aan. Daardie aand ná die eerste #Imagine-sessie is dit soos ‘n brander wat aankom soos die kinders aanstroom na die Care tent. Ons is net 20 beraders, hulle moet selfs ekstra hulp inroep.

God is groot. Hy wys my net daar dat Hy wil hê dat ek moet voortgaan met waarmee ek besig is. Daar is baie pyn en nood daarbuite.

Ja, God is betrokke by ons as ons Hom sal toelaat om dit te doen.

Toortsie

Loer gerus by Pinterest waar ek al die boeke wat ek bespreek, lys.

Die omgeespan

Ek was hierdie naweek weer eens bevoorreg om deel te kan wees van die omgeespan by #Imagine.

Dit het my die geleentheid gebied om die sessies by te woon. Hulle werk nie net met die 1800 tieners se koppe nie, hulle werk ook sommer met my as ou tannie s’n. Timoteus, die jong seun in die Nuwe Testament, is as tema gebruik, met die boodskap dat ons almal ons eie unieke storie het en dat God betrokke is by ons storie.

Ons het pragtige jongmense in ons land, hulle maak my opgewonde. Hulle lewe vir die Here en is nie bang of skaam om hulle Christenskap uit te leef nie. Hulle is bereid om mekaar te ondersteun en doen dit sonder skroom.

Aan die swaarkrykant, waar ek gewerk het, het ek ervaar:

  • Hier is baie tieners wat seer het.
  • Ek is dankbaar dat soveel van hulle die moed het om hulle seer aan te spreek.
  • Ons besige lewe as volwassenes, eis sy tol.
  • Kinders word op ‘n jong ouderdom aan ontstellende goed blootgestel waarvoor hulle geestelik nog nie ryp genoeg is nie.
  • Kinders verlang na hulle ouers se teenwoordigheid, geselskap, kameraadskap.
  • Dit is vir kinders sleg as die verhouding met ‘n ouer nie goed is nie, hulle wil soms ook hulleself daarvoor blameer. Hulle wil ook graag raad hê hoe om stukkende verhoudings met hulle ouers reg te stel.
  • Soos ons as volwassenes, het ons kinders sommer net ‘n liefdevolle oor nodig wat luister sonder om te kritiseer, sommer net ‘n afpakplek waar hulle ook vryelik kan huil.
  • Met die egskeidingsyfer wat so hoog is, met almal wat rondom hulle skei, raak kinders angstig wanneer hulle ouers stry. Hulle vrees dit dat hulle ouers sal skei.
  • Kinders smag na erkenning, maar ook die gerusstelling en versekering dat hulle ouers mekaar liefhet.

Dis vir my verblydend dat die kinders uit hulle eie kom vir hulp en ek is dankbaar dat #Imagine so ‘n diens aanbied. Vir baie is dit die eerste tree op ‘n heelwordpad.

Intussen, vir almal, die vrolikes, die hartseer ouens, die met min sorge en die met baie, bied #Imagine iets en as ouer sou ek my tienerkind met gerusstelling soontoe stuur. Dis regtig ‘n beweging wat ‘n goeie uitkoms ten doel het, wat ons kinders positief verander.Ons kinders is ons toekoms. Kom ons belê daarin.

Tieners lê my baie ná aan die hart. Ek is regtig lief vir hulle.

Toortsie

#Imagine is nie slegs vir tieners

Ja, die hele fokus daarvan is op tieners gerig, om tieners se aandag te trek, om tieners aan te raak, om tieners se verhouding met God te verdiep, om tieners te help om dit wat swaar op hulle harte rus, uit te sorteer, om tieners te bemagtig om ‘n verskil daar buite te maak.

Maar saam met die tieners woon ook baie volwassenes die kamp by. Party is daar as groepleiers, as mentors, daar is mediese dienste, mense wat kos uitdeel, stalletjies beman, daar is vrywilligers wat sorg dat die verrigtinge glad verloop.

Daardie nie-tieners woon baie van die verrigtinge by en hoor ook die wonderlike boodskappe en getuies, raak aangeraak deur die dinge wat gebeur, krap in hulle eie harte rond. Daardie nie-tieners raak ook moeg, het ook persoonlike behoeftes, het ook dinge wat swaar op hulle harte druk, dinge waarmee hulle dalk worstel. Ook die nie-tieners het soms ‘n behoefte dat iemand vir hulle bid.

Die dienste van ons ‘care’-groep, of anders, gebedsgroep, was ook beskikbaar vir die nie-tieners en ons het niemand weggewys nie.

Want, al is #Imagine ‘n tienerkamp, is dit nie net vir tieners nie. Ook die nie-tieners word aangeraak, bemagtig, deur die Gees vernuwe. Wat ‘n genade!

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Sjoe!

Hier sit ek nou by #Imagine vir die Saterdagaandsessie. 1500 kinders hop en juig en spring en sing en dans. Dis ligte en balle en harde musiek en energie wat uitborrel.

Soos die aand vorder, raak die musiek rustiger, die woorde dieper en aanbid ons vir God uit ons hart uit.

Die spreker is uitstekend. Hy raak ons almal aan: Kinders én volwassenes. Die tema? Amazingly Different.

Ek sit hier by die ‘Care tent’, met my wit ‘care keppie’ op, saam met al die ander van die omgeespan, gereed vir wanneer iemand geestelike hulp of ondersteuning nodig het, of dalk sommer net ‘n oor, of bietjie individuele aandag, ‘n skouer om op te huil.

Op ‘n stadium tydens die program, beweeg die kinders in die saal rond tussen elkeen van die stasies, waar hulle geleentheid kry om dieper in hulle eie harte en lewens te kyk en dis dán wat ons almal kiertsregop staan, gereed, soos die noodhulpspan langs die baan, gereed om hulp te verleen waar nodig.

Ek staan keer op keer vereonderd oor hoe die #Imaginespan met die kinders werk. As my kind of kleinkind die naweek ‘n #Imagine-kamp sou bywoon, sou ek baie gemaklik daaroor gevoel het daaroor. Hier word goeie saad gesaai, omgegee, verhoudings gebou, lewensvaardighede aangeleer.

Ek is trots op ons jeug. Ek is opgewonde oor hulle. Dis oulike kinders hierdie! Tyd gespandeer aan ons kinders, is tyd gesoandeer aan ons toekoms.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif