Niemand

Ek, ‘n middeljarige, geniet hierdie boek wat bedoel is vir tieners en jong vroue dalk selfs meer as wat die teikengroep dit geniet. Skitter, deur Priscilla Shirer, handel oor ons identiteit in Christus.

Sommer oor daardie ‘nie goed genoeg nie’- gevoel waarmee soveel van ons loop, daardie onsekerheid oor onsself wat ons soveel keer het, daardie twyfel.

Sy vertel dat sy so graag die guns van iemand wou wen, maar nooit reggekry het nie, dat dit ‘n obsessie geraak het. Totdat iemand vir haar gesê het dat dit so is dat almal nie van haar sal hou nie en dat dit okei is. Dat hulle reaksie nie ‘n weerspieëling is van wie sy regtig is nie.

As persoon in die openbare oog is sy vandag steeds blootgestel aan baie kritiek. Hierdie opmerking van haar vriendin help haar steeds in moeilike tye, dat hulle reaksie op haar nie ‘n weerspieëling is van wie sy regtig is nie. Mooi, né? Dis ook iets vir elkeen van ons om te onthou wanneer die storms oor ons koppe slaan en ons onseker voel.

‘As ons God gekies het, is ons uitgekies, vergewe, aanvaar, geliefd, het ons ’n ewige erfdeel, het ons die krag van Christus in ons, volle toegang tot God en is ons Sy woonplek. En niemand kan dit ooit van ons wegneem nie. Niemand.’ Sê sy.

Toortsie

Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

‘n Storie oor hare

Ek lees in die boek, Skitter deur Priscilla Shirer, haar storie oor hare wat my so baie aan my eie laat dink. Priscilla is ‘n Afro-Amerikaanse meisie met geweldige sterk en krullerige hare. As kind het sy haar krulhare gehaat. Nes ek. Sy het probeer om haar hare te laat reguit maak, met meer sukses as ek. Sy het probeer om haar hare in toom te hou, nes ek. Ander mense het gedink hulle weet beter as sy hoe om haar hare te beheer, nes ek.

Totdat haar hare begin uitval het van al die chemiese behandelings wat sy daarop gesit het. Totdat haar gesondheid begin agteruitgaan het. Totdat sy ‘n dokter besoek het.

Sy het besef dat sy ‘n keuse moes maak: Of lang, dun, gladde hare hê, haar gesondheid in gevaar bring, al haar hare verloor, of teen almal se opmerkings en raad gaan, teen die mode gaan en haar natuurlike krullerige hare te laat uitgroei. Die hare soos wat God besluit het dit moet wees. Soos God haar gemaak het.

Genadiglik het sy ook ‘n effens rebelse streep gehad en het sy die gesonder, maar uiters ongewilde, besluit geneem en haar hare laat uitgroei, teen almal, behalwe die dokter, se raad in.

Haar hare het gesonder geraak. Met tyd, toewyding en geduld het sy weer haar ou, gesonde haredos teruggekry. Sy het haar hare aanvaar soos wat dit was. In die proses het sy baie meer gekry as net ‘n bos hare. Sy het haar individualiteit begin koester. Sy het haarself begin liefhê vir wie sy werklik is, vir wie God haar gemaak het.

Selfs méér het begin gebeur. Dit het begin oorspoel na haar vriendekring. Ander het by haar raad en bemoediging begin soek.

Skitter is ‘n wonderlike boek oor ons identiteit in God, gemik op tienermeisies en jong vroue, maar selfs ek as ouer vrou in my laat vyftigs, geniet hierdie boek geweldig baie. Sy skryf in ‘n lekker trant op’n manier waarmee enige vrou sal assosieer.

Toortsie

Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

Identiteit

Ek lees tans die fantastiese boek, IdentiteitWie God sê jy is. Deur Kendrick. Geïnspireer deur die fliek, Overcomer. Sjoe! Wat ‘n boek! Dis ook in Engels beskikbaar onder die titel, Defined.

Wat is jou identiteit, volgens God? Hy begin die boek deur te vertel van ‘n baba wat hulle aangeneem het. ‘n Chinese baba wat vele operasies nodig gehad het, wie se ma haar in die straat gelos het omdat sy dit nie kon bekostig nie. ‘n Kind wat geen identiteit, geen toekoms gehad het nie. Wat se hele lewe nuwe betekenis gekry het deur hierdie aanneming.

Dan skryf hy dat ons almal uniek gemaak is, met ‘n spesiale doel.

Die hoofstuk oor genade het ek so pas gelees. Dat God vir ons so goed is al het ons dit regtig nie verdien nie. Hy verwys na die son wat op ons skyn, ongeag of ons oulik is of nie. Hoe Dawid vir Mefiboset goed was, sommer net uit genade. Hoe die kreupel Mefiboset, ook met geen toekoms voor hom nie, se hele lewe verander het toe Dawid vir hom al Saul se grond gegee het asook ’n plek aan sy etenstafel. Genade.

Dan skryf hy oor die rivier van genade wat deur die hele Bybel vloei. Maar lees net hierdie:

Die Christelike lewe gaan nie oor wat jy gedoen het nie, maar oor wat God vir jou gedoen het. Dit gaan daaroor om in te duik in daardie rivier, die rivier van God se genade, en Hom toe te laat om jou te dra deur alles wat jou lewe in gevaar stel sodat jy God se grootheid sal prys.’

En ek wonder, is dit nie wat die baie water in my droom beteken het nie, want ek was geensins bang daarvoor nie, dalk juis omdat dit God se genade is wat rondom my was (is)?

Toortsie

Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

Ag, met die ou virus en alles wat ons onseker maak, draai hierdie versie vandag in my kop:

Luister gerus my potgooi oor vrees: https://www.podbean.com/ei/pb-rksbs-db4de1