Klein jakkalsies

Hulle sê dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. Dis die klein dingetjies wat ‘n huwelik laat skipbreuk ly, nie groot goed nie.

Deur verskriklik baie genade van die Here, deur harde werk, die keuse om lief te hê, lekker tye, moeilike tye, 700 sakke sout, is ons 33 jaar getroud en sal ons, soos van dag een af, probeer om die tyd saam te verdubbel, alhoewel, ek dink die uitdaging begin groot lyk, omdat die lewensjare dalk te min kan wees.

Ons was so ses of sewe jaar getroud, toe ek ‘n praatjie van tannie Myrtle van Deventer bygewoon het. Ek het my lewe lank vir haar ‘n besonderse plek in my hart.

Sy praat toe oor die huwelik, en sê een belangrike ding: Moenie van jou man skinder nie.

As mens pas getroud is, is alles nuut, vreemd, verg dit soms groot aanpassings. Ek onthou hoe ek geskinder het tussen my maats. Oor onbenulligheidjies. Oor sy ma wat kos anders kook as my na, die lawwe goetertjies wat sy pa doen, my nan se eie vreemde maniertjies. My eie snaakse maniertjies het natuurlik staatsgeheim gebly.

Die probleem is, daardie onbenulligheidjies wat jy snaaks vind en gaan oorvertel, bly nie snaaks nie. Dit raak irritasietjies wat jy, sonder dat jy dit besef, aanblaas.

Sonder dat jy dit besef, saai jy giffies in jou eie huwelik, laat jy toe dat dinge wat eintlik nie ‘n invloed op jou huwelik moet hê nie, jou huwelik begin afbreek.

Ja, soms sal ek vir ‘n vriendin iets sê omdat dit dalk op daardie oomblik nodig is, maar wees waaksaam oor wat jy van jou huweliksmaat sê. Moenie hom afbreek of slegmaak of beskinder by jou maats nie. Dis net nie die moeite werd nie.

Dink eerder aan sy positiewe eienskappe, hoe mooi hy vir jou sorg, hoe lekker dit is as julle tyd saam deurbring, hoe lekker sy warm lyf langs jou in die bed is op ‘n koue wintersnag, hoe lekker julle saam voor die kaggel sit, hoe trots jy op jou man is.

Ek het hierdie raad van tannie Myrtle ernstig opgeneem, en vandag is ek nie spyt daaroor nie. Ja, daar was opdraendes, slaggate, storms, heeltemal te veel om op te noem, maar vandag is ek bly en dankbaar dat ons gehou het by wat ons belowe het, through sickness and poor, bad days and good days. Eer jou man.

En terwyl ek nou vir dames geskryf het, mans, kan julle maar ook hierdie inskrywing ernstig opnoem. Wees lief vir jou vrou.

Vir my is dit dag een van die volgende 33 jaar! ❤️

Groetnis

Toortsie

versoeke

Die woorde wat, vandat my blog bestaan, die meeste gesoek is in soek-enjins, is wat is liefde? ; Toortsie (natuurlik!! 😆 ) Werk van die huis af, Mondeling onderwerpe, Voedseldriehoek, Bemoediging, Positiwiteit…

Hoekom is hier so ‘n uiterste krisis rondom liefde? Is dit dat ons dalk selfsugtig geword het en net self bevredig wil word, sonder om moeite te doen om die ander een te bevredig? Liefde begin by die GEE daarvan, en sodra ons kan help om die ander persoon se tenkie te vul, gaan hy/sy positief begin reageer en ook MY tenkie begin vul…

Iemand vra: “Hoe kan ek kyk wie is op my man se wattsap?”  Ai ai ai…. ‘n huwelik word gebou op respek en aanvaarding en vertroue. Ons twyfel almal seker maar soms, maar ons MOET werk daaraan dat ons vertrou en vertrou word. Onthou, vertroue skep vertroue.

In my kopkoolslaairesep kom die bestanddeel, peperwortel. Dis iets wat ekself nog nooit gebruik het nie en in Checkers op ons dorp het ek erg gesoek. ‘n Vriendin help my toe en sê dit is “Horse Raddish” 😯 Ek kon dit toe in Spar kry, in ‘n potjie. Ek sien dat ander ook vra waar hulle dit kan kry.

“Lief jou my kind” O ja, ek lief julle ook, al my kinders!! 😆

“Brandwurms”….. ?   huh???? Watse goed is dit? 😯

Hoor hierdie een: “Saam met vriendin in bed” !!!! Nee!!! Ek hoop nie sy bedoel dit “so” nie!! Dis te sê as dit ‘n “sy” is wat dit getik het! Van my lekkerste kuiers ooit was as maatjies by my kom kuier het en ons kon in die spaarkamer in die dubbelbed slaap. Daar het ons tot laatnag lê en gesels en giggel, net soos dogtertjies maar maak. Onskuldig!!  Maar om saam met jou vriendin in die bed te spring as jy ‘n man is? Nee!! Jy maak misbruik van die vriendskap. As jy so oor haar voel, sê dit vir haar en trou met haar! A nee a!! 😦

“eensaam”  … en “help my Here, asseblief!!”… oeeee ek kry mense jammer wat so eensaam en so in nood is dat hulle sulke woorde op die internet uitroep! Ek wens ek kon hulle elkeen ‘n drukkie gee, ‘n hand van bemoediging. Mag hulle vind dit wat hulle soek!! Ek glo die een wat die Here geroep het, ‘n antwoord sal kry, want Hy omarm die een wat Hom soek.

“aanvaar jou huweliksmaat” Wel, dis die beste ding om te doen, in plaas daarvan om hom/haar te probeer verander. Wees lief vir die een wat jy gekies het. Ekself het ‘n rukkie terug ‘n groot irritasie in my hart gehad en ek dink nie ek was so heeltemal verkeerd nie. Maar my huwelik is vir my veel belangriker as die irritasie, en al het dit ‘n tydjie geneem, het ek maar weer by daardie punt gekom: Aanvaar hom, wees lief vir hom. Verander dit wat jy kan verander, aanvaar die res. Bid daaroor. Gee dit vir God.

Mense! Help hierdie persoon!! “boererate oemf in die bed” en “Is sy nog lief vir my as sy nie seks wil hê nie?” Wanneer het seks in huwelike ‘n probleem geword? Is dit omdat ons te besig is en te moeg is vir seks? Of sien ons goed op TV en ander plekke en dit gee vir ons onmoontlike verwagtinge?

Toorts